Mooi stories, maar geen bewyse

Prof. Hennie Stander

Daar is baie verhale wat predikers oor die Bybelse tyd vertel om sekere Bybeltekste te verklaar. Ongelukkig bestaan daar absoluut geen bewyse vir hierdie legendes nie. Dit is alles net spekulasie sonder enige begronding. Sulke stories klink vreeslik oulik, en daarom word die stories van een prediker na die ander oorgedra, maar niemand wonder of daar enige historiese bewyse daarvoor is nie. En die gemeente glo elke woord daarvan en dra dit verder oor na hulle vriende. Ek gaan vandag vier sulke stories vertel:

Die eerste storie gaan oor ’n uitspraak van Jesus rakende rykdom. Jesus sê in Matteus 19:23: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Predikers is dan lief om te sê dat daar ’n klein poort in die mure van Jerusalem was, en dat dit baie moeilik was vir ’n kameel om deur so ’n lae ingang in die stad in te kom. Daar is egter absoluut geen bewys dat daar so ’n hekkie in die mure van Jerusalem was nie, en ook nie dat daar ’n poort in die mure was wat as die “oog van die naald” bekend gestaan het nie! Maar hoe moet ons dan Jesus se uitspraak oor rykdom verstaan? Jesus gebruik hier ’n hiperbool. Jesus oordryf om sy punt te maak, naamlik dat dit baie, baie moeilik is vir ’n ryk mens om in die hemel te kom. Jesus sê self in vers 23: “Ek stel dit nog sterker: …” en dan gebruik Hy hierdie hiperbool. Hiperbole word juis gebruik om ’n saak baie sterk te stel!

Nog ’n “lekker” storie wat baie graag, veral in Paastyd, vertel word, is die volgende: Dit handel oor Johannes 20:7, waar ons lees dat Petrus, toe hy by Jesus se graf aankom, die graf binnegegaan en die doeke daar sien lê het. Petrus sien toe dat die doek wat om Jesus se kop was, “nie by die ander doeke gelê het nie, maar dit was eenkant afsonderlik opgerol.” Nou, die mite of “urban legend” wat in ons tyd oorvertel word, is dat die opgerolde kopdoek besondere betekenis het. Dit gaan glo terug op die gebruik dat diensknegte voor ete ’n doek (lees “servet”) aan die huiseienaar gegee het waaraan hy sy hande kon afvee wanneer hy klaar geëet het. Nadat die huiseienaar sy hande daaraan afgevee het, het hy die doek opgefrommel en op die tafel gelos. As hy egter tydens die ete net vinnig moes uitgaan en dan weer terugkom, het hy die doek opgerol en op die tafel gelos sodat die dienskneg kon weet dat hy nie die tafel moes afdek nie, omdat hy weer sou terugkom. En dan word gesê dat Jesus se kopdoek opgevou of opgerol was om daarmee te wys dat Hy weer terugkom. Ja, Hy kom weer!

Daar is egter geen bewys dat daar so ’n gebruik in die Bybelse tyd was nie. In die eerste plek weet ons op grond van ten minste drie antieke bronne (nl. Aristophanes “Equites” 515; Alciphro 3.44; Plutarchus “Lycurgus” 12) dat die antieke mens nie hulle hande aan servette afgevee het nie, maar aan ’n stuk brood (of deeg). Daarna het hulle die brood op die vloer vir die honde gegooi om te eet. So ’n stuk brood is ἀπομαγδαλία genoem, oftewel “hondevleis”. Ek sê nie dat hierdie Griekse gebruik net so in die Joodse lewe voorgekom het nie, maar ’n mens kan nie anders as om aan die verhaal van die Kanaänitiese vrou te dink wat ook vertel van die honde wat die krummels eet wat van die base se tafel afval nie! (Matt. 15:27). Ons weet wel dat die Jode vóór ete hande gewas het, maar ons weet nie wat hulle ná ete gedoen het nie. Nietemin, as ons mooi dink, is die boodskap van hierdie legende eintlik baie negatief. Ons wil tog seker nie suggereer dat Jesus weer terugkom na die graf toe nie, nê?! En hoe “spring” ’n mens van ’n servet wat jy by ete gebruik na grafklere? Jesus het nie in die graf geëet nie. Maar gaan lees gerus David Binin (wat meer as 60 jaar in Israel gebly het) se artikel hieroor in die Jerusalem Perspective (https://www.jerusalemperspective.com/3878/). Interessant genoeg vertel Chrysostomos vir ons dat die feit dat Jesus se kopdoek opgerol was, ’n bewys was dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want diewe sou nie tyd mors om nog eers sy kopdoek op te rol nie (Hom. lxxxv.4 in Ioh.).

Nog ’n mooi storie gaan oor die klokkies aan ’n hoëpriester se kleed. Volgens Eksodus 28:33–35 moes die hoëpriester (soos Aäron) ’n kleed dra met goue klokkies aan die onderrand. Vers 35 sê spesifiek dat wanneer die hoëpriester in die heiligdom ingaan, en ook daaruit kom, “sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.” Later het daar ’n legende ontstaan dat daar ’n tou om die hoëpriester se enkel vasgemaak was voordat hy die Allerheiligste binnegegaan het. Solank die mense nog die klokkies hoor lui het, het hulle geweet dat God die offer aanvaar het. Die legende sê verder dat wanneer die klokkies ophou lui het, die mense geweet het dat die hoëpriester gesterf het weens sonde wat nie bely is nie. Die mense kon egter nie self in die Allerheiligste ingaan om dan die liggaam daaruit te haal nie. Dus het hulle die liggaam met die tou wat aan die hoëpriester se enkel vas was, uit die heiligdom getrek.

Daar is egter geen bewyse vir hierdie legende nie. Buitendien, wanneer die hoëpriester op die groot Versoeningsdag in die Allerheiligste ingegaan het, moes hy slegs die gewyde klere van ’n gewone priester aanhê (Lev. 16:4), en nie die kleed met die klokkies nie. Gaan luister gerus in hierdie verband na die gesprek op YouTube met prof. Carmen Joy Imes, associate professor of Old Testament at Talbot School of Theology, Biola University, in Southern California.

Wat was dan die doel van die klokkies aan die hoëpriester se kleed? Prof. Imes verduidelik dat dit alles deel van ’n multisensoriese belewenis was wat die priesters in die heiligdom gehad het, nl. die ouditiewe geklingel van klokkies, die reuk van wierook, die visuele impak van goue kleure, die taktiele belewenis van verskillende materiaalteksture, ensovoorts.

Nou kom ons by die vierde storie: As daar nou een saak is waaroor teoloë al behoorlik allerhande teorieë opgedis het, dan is dit “Paulus se doring in die vlees”. Die raaiskote begin by ’n oogsiekte of swak sig (sien Gal. 4:13–15), oogontsteking, malaria (omdat Paulus in gebiede gereis het waar malaria was), epilepsie (dalk die rede vir sy visioene en buitengewone ervarings), migraine, rumatiek, depressie, ’n spraak- of taalgebrek, velsiekte, demoniese teistering, en so kan ek aangaan. Soms word daar gepoog om van hierdie verklarings te “bewys” met ander Bybeltekste. Ek onthou dat ons as studente vir prof. Pistorius in die Griekse klas gevra het wat hy dink Paulus se doring in die vlees was. Hy het net geantwoord dat dit “iets soos ’n koejawelpit onder ’n mens se vals tande is – iets wat uiters irriterend is”.

Dit is interessant dat teoloë buite die konteks van 2 Kor. 12:7 gaan soek vir die verduideliking van wat sy “doring in die vlees” dan nou was. Ek het eenkeer gaan kyk wat die kerkvaders hieroor te sê gehad het. Verskeie kerkvaders het daarop gewys dat die konteks self moontlik ’n aanduiding gee. Paulus wou bitter graag die Evangelie verkondig, maar kort-kort gebeur dinge wat hom verhinder om dit te doen. In vers 10 vertel hy van al die beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede wat hom te beurt geval het, terwyl hy so graag die Evangelie wou verkondig. Verskeie kerkvaders het hierdie terugslae as Paulus se “doring in die vlees” bestempel. Natuurlik bly dit ’n gissing, maar ten minste is hierdie gissing geskoei op die konteks waarbinne hy praat van sy “doring in die vlees”. (Lees gerus J. P. Louw en H. F. Stander se “Paulus se doring in die vlees”, Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, Sep. 1982, vol. 23, 269–272.)

Ons moet maar altyd baie versigtig wees om nie sommer enige mooi storie te glo wat oor ’n Bybelvers vertel word nie, en veral ook nie om dit as die waarheid te versprei nie. Dit tas ons as gelowiges se geloofwaardigheid aan en laat dit ook lyk of ons uiters liggelowig is!

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Drie kenmerke van ’n goeie leier: geneentheid, geduld en getrouheid

  • Lees | Luister | Leer | Leef – November 2026

  • Die melodie preek saam