75 Jaar van geloof, groei en genade in dié Suid-Kaapse gemeenskappe

👤 Kaapkerk Kommunikasie

Die geskiedenis van die NG Kerk George-Suid is diep gewortel in die groter verhaal van geloof in die Suid-Kaap — en begin eintlik reeds in die vroeë 1800’s. As “dogter”-gemeente van die NG Moedergemeente George (gestig in 1813), is George-Suid op 16 Junie 1950 gestig. Een van die saadjies vir hierdie geloofsgemeenskap wat uiteindelik as George-Suid gemeente bekend sou staan, is egter al baie jare vantevore ook in die kusdorpie Heroldsbaai gesaai.

’n Nuwe gemeente word gebore

In 1951, ná die stigting van George-Suid, is die erf met die kerksaal en die pastorie te Cradock straat deur die Moedergemeente aan die nuwe gemeente geskenk — ’n daad van geloof en ondersteuning wat tot vandag toe weerklank vind.

George-Suid was die eerste dogtergemeente wat op George self afgestig is. Op die stigtingsdatum het die gemeente reeds 1 400 lidmate en sowat 1 900 siele gehad. Die eerste predikant, ds. J.G. Lochner, het vanaf Oktober 1950 diens gedoen.

ds. van der Walt

ds. Winterbach

ds. Meyer

ds. Lochner

Die Saal as Hartklop van Gemeentelewe

In plaas van om onmiddellik ’n kerkgebou op te rig, is besluit om ’n funksionele saal te bou vir sowat 700 mense. Hierdie saal het voorsiening gemaak vir eredienste, sosiale byeenkomste, en Sondagskoolklasse — ’n ware geestelike en gemeenskapsfondament.

Op 22 September 1951 is die saal feestelik ingewy nadat die Ring van George sy sitting daar gehou het — ’n geskiedkundige oomblik in die lewe van die jong gemeente.

Heroldsbaai – Die Eerste Treë

Die kerksaal op Heroldsbaai is reeds in 1941 opgerig op ’n erf wat deur mnr. Cecil Gericke geskenk is. Dit het destyds as aanbiddingsruimte vir vakansiedienste en gemeenskapsbyeenkomste gedien. In daardie vroeë jare is opelug-dienste eers op die strand gehou, fondse ingesamel deur konserte, en vars water verkoop om boulenings af te betaal. Heroldsbaai se sterk geloofsgemeenskap — bestaande uit onder andere plaasboere, jongmense, en hengelaars — het die geloofsvlam lewend gehou, lank voordat George-Suid formeel bestaan het.

Die Inwyding van die Kerkgebou

Teen 1959 het die gemeente genoegsame fondse en momentum opgebou om die bou van ’n kerkgebou aan te pak. Op 2 Mei 1959 is die hoeksteen gelê en op 28 November dieselfde jaar is die gebou ingewy. Die gemeente het slegs £2 500 skuld gehad op hul nuwe kerk teen daardie tyd — ’n bewys van hul toewyding en samewerking.

Die inwyding op Vrydag 4 Desember 1959 was van groot geestelike en geskiedkundige betekenis. Die leraars en kerkraadslede het van die saal se “konsistorie” in gelid na die kerk beweeg, waar Mevrou Carinus die deur oopgesluit het na gebed en sang. Besoekers en lidmate het die kerk binnegegaan onder gewyde orrelspel. Die kerk het sitplek vir 750 mense gebied, met kinders wat selfs op die vloer en trappies gesit het.

Ds. W.C. de Swardt het die Kanselbybel ingebring en gewy. Ds. G.P.C. Carinus het almal verwelkom, insluitend Ds. Cronjé wat die feesrede gelewer het. Die koor het lofliedere gesing onder leiding van Chris Botha. Die wydingsrede, gelewer deur Ds. Cronjé, het gehandel oor die Huis van my Vader – die gebou as ’n plek waar God teenwoordig is en aanbid word.

Leierskap en Groei

Oor die dekades het NG Kerk George-Suid deur die diens van toegewyde predikante en die betrokkenheid van lidmate ’n stewige rol in die gemeenskap van George en wyer gespeel. Van ds. Lochner, ons eerste leraar in 1950 tot ds. Heléna van der Walt, ons nuutste leraar in 2025, getuig die predikantelys van ’n ryk nalatenskap.

Mylpale en Inisiatiewe

Mylpale sluit in die inwyding van die kerkgebou in 1959, die afstigting van George-Tuinedal in 1982, die ontwikkeling van die Jeugoord in 1987, die aftree-oord Carpe Diem in 1999, en die herbevestiging van die visie en identiteit van die gemeente in die vroeë 2000’s — insluitend ’n nuwe logo, die Koskombuis tydens die Covid-pandemie, en die uitbreiding van bediening op Heroldsbaai.

Heroldsbaai se Lewende Erfenis

Die gemeenskap van Heroldsbaai het deur die jare gegroei met uitbreidings soos Oubaai, Dutton’s Cove, Monati en The Brink/Breakwaterbay. Sedert 2008 is daar ook elke Sondag ‘n erediens daar. Die klavier uit 1944, die swarthout preekstoel uit 1966, en die Sondagskoolklas-verhale onder die melkhoutbome getuig van ’n ryke geloofsreis.

’n Gemeente met die oog op die Toekoms

Met 75 jaar se dienswerk in God se koninkryk, geestelike groei én -verdieping en gemeenskapsbetrokkenheid, is die NG Kerk George-Suid steeds ’n lewende liggaam van Christus — geanker in die verlede, maar met oë op die toekoms. Ons vier nie net ’n geskiedenis nie, maar ’n roeping wat steeds voortduur. Ons weet dat die Lewende God met ons op reis is en ons bly roep om die Aangename Geur van Christus, oral te versprei.

Op pad na die volgende 25 jaar

Terwyl ons met dankbaarheid terugkyk na die afgelope 75 jaar van seën en groei en verdieping, sien ons met hoop en verwagting uit na wat die Here vir die volgende 25 jaar ín- en déur die NG Gemeente George-Suid & Heroldsbaai gaan doen. Mag ons as gemeente altyd getrou bly aan ons roeping om lig in hierdie wêreld te wees, en met oorgawe diensbaar te bly aan God se Koninkryk.

Tydlyn van Belangrike Gebeure

  • 1941 – Kerksaal in Heroldsbaai word gebou.
  • 15 Desember 1941 – Eerste troue in die kerksaal (sonder stoele!).
  • 16 Junie 1950 – Stigting van NG Gemeente George-Suid.
  • Ons eerste Predikant – Ds JG Lochner: 1950 1957
  • 18 Julie 1950 – Eerste Kerkraadsvergadering.
  • Oktober 1950 – Ds. J.G. Lochner word eerste predikant.
  • 22 September 1951 – Inwyding van die kerksaal.
  • 2 Mei 1959 – Hoeksteenlegging van die kerkgebou.
  • 28 November 1959 – Inwyding van die kerkgebou.
  • 1981 – Goedkeuring vir afstigting van George-Tuinedal.
  • 1982 – George-Tuinedal stig af van George-Suid.
  • 1987 – Jeugoord ontwikkel.
  • 1999 – Aftree-oord Carpe Diem voltooi.
  • 2000 – 50-jaar viering van George-Suid.
  • 2006 – Strategiese beplanning en nuwe logo.
  • 2020 – Covid-19 en begin van Koskombuis.
  • 2024 – Logo sluit Heroldsbaai in.
  • 2025 – Ds. Helena van der Walt ons nuwe predikant
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Gansbaai: Dis hoe dit lyk as mense kies om op te daag (Foto-rubriek)

  • Zikomo-woonstelle in die mark

  • Die verskil tussen liefdadigheid en gemeenskapsontwikkeling