Kerk se stem – ’n pastorale rol in die parlement

DJ Muller

Die kerk se stem in Suid-Afrika hoef nie stil te raak nie, maar die manier waarop die kerk praat, moet verander. Dit is die oortuiging van dr. Diederick Basson van die NG Kerkargief in Stellenbosch ná ’n besondere nasionale gebedsbyeenkoms in die parlement in Kaapstad. Vir hom het die geleentheid nie net die krag van gesamentlike gebed beklemtoon nie, maar ook iets gewys van die kerk se roeping om met groter deernis, geloof en pastorale omgee by die land se leiers betrokke te wees.

Die gebedsbyeenkoms op 25 September het gelowiges uit verskillende denominasies en dele van Suid-Afrika bymekaargebring om vir die land, die regering en die munisipale verkiesings te bid. Die geleentheid is geïnspireer deur die herlewingsgeskiedenis van dr. Andrew Murray, wie se geestelike nalatenskap steeds gelowiges inspireer.

Die inisiatief het begin by Rachel Calidas, wat in die finansiële sektor werk en oortuig geraak het dat die Here haar roep om ’n gebedsgeleentheid vir Suid-Afrika te reël. Volgens Rachel het sy ’n besondere roeping ervaar om vir die regering en die komende munisipale verkiesings te bid, met die hoop op ’n geestelike herlewing soortgelyk aan dié wat met Andrew Murray se bediening verbind word.

Die plek waar die byeenkoms moes plaasvind, was vir haar deel van dié geloofspad. Sy vertel dat sy oortuig was die Here vra dat dit in ’n gebou met ’n koepel gehou moes word. Nadat sy vroeër die begrotingsrede in die parlement bygewoon het, het sy besef dat die parlementêre koepel moontlik die plek is waarna sy gesoek het. Sy het die parlement genader en toestemming is verleen om die gebedsgeleentheid daar aan te bied.

Diederick vertel oor Andrew Murray se kierie.

Die datum, 25 September, het saamgeval met die begin van die Fees van die Tabernakels, net ’n dag ná Erfenisdag. Gelowiges van oor die land het opgedaag, terwyl boere van Robertson en ander streke vrugte vir die geleentheid geskenk het. Diederick het die NG Kerkargief verteenwoordig en die moderator van die NG Kerk, ds. Jan Lubbe, was ook teenwoordig.

Andrew Murray se herlewingserfenis kry nuwe betekenis

Omdat Andrew Murray se herlewingsbediening so ’n belangrike inspirasie vir die gebedsgeleentheid was, het die organiseerders die NG Kerkargief genader om historiese voorwerpe beskikbaar te stel. Hulle het aanvanklik gehoop om Murray se persoonlike Bybel uit te stal, maar dié Bybel is nie in die argief se besit nie.

Die argiefspan het nietemin ’n versameling historiese voorwerpe na die parlement geneem wat iets van Murray se lewe en geestelike nalatenskap vertel het. Daaronder was ’n skildery van Murray, sy kierie, geskrifte wat deur die Murrays geïnspireer is en ’n historiese liedboek wat die herlewingsliedere van destyds verteenwoordig.

Die program het van negeuur die oggend tot vieruur die middag geduur en het verskeie sprekers, gebed en lofsang ingesluit. Diederick het die historiese uitstalling toegelig, terwyl ds. Jan Lubbe meer oor die kerkgeskiedenis vertel het. Ná afloop van die geleentheid het die organiseerders in ’n e-pos hul waardering uitgespreek vir die argief se bydrae om die geskiedenis van herlewing op ’n tasbare manier nader aan die deelnemers te bring.

Vir Diederick was dit egter nie net die historiese verbintenis wat die dag besonders gemaak het nie. Dit was veral die opregtheid waarmee mense gebid het wat hom diep geraak het.

’n Diep belewenis van geloof en afhanklikheid

Mense het met die vaste oortuiging gebid dat God hulle hoor en in die land se behoeftes sal voorsien. Die gebede het veral gefokus op die regering, die verkiesing en die behoefte aan nasionale bekering.

Die lofsang het volgens hom ’n besondere atmosfeer geskep. Hoewel baie van die liedere vir hom onbekend was, was die sang meesleurend en die deelnemers se oorgawe opvallend. Die blaas van ramshorings, bekend as sjofars, het verder tot die geestelike belewenis bygedra.

Wat deur die dag sterk na vore gekom het, was die besef dat Suid-Afrika se uitdagings nie bloot deur menslike vermoë opgelos kan word nie. Vir die gelowiges wat daar saamgebid het, was die afhanklikheid van God nie net ’n geloofsbelydenis nie, maar iets wat hulle daadwerklik wou uitleef.

Die kerk se stem moet verander, nie verdwyn nie

Die ervaring het Diederick ook opnuut laat nadink oor die kerk se plek in die samelewing. In ’n tyd waarin daar dikwels gesê word dat die kerk se stem stil geword het, meen hy dat die kerk steeds ’n belangrike rol het om te vervul.

Hy erken dat die kerk se stem op sommige terreine stiller geword het, maar glo nie dat dit beteken die kerk het irrelevant geraak nie. Inteendeel, hy meen die kerk behoort juis in hierdie tyd duideliker gehoor te word.

Die vraag is egter nie net of die kerk praat nie, maar hoe die kerk praat.

Volgens Diederick kan die kerk nie voortgaan om hoofsaaklik in ’n taal van verdoemenis en eenvoudige oordele oor reg en verkeerd met die samelewing te praat nie. Die uitdagings waarmee mense en die land worstel, vra ’n ander benadering: een waarin deernis, begrip en pastorale omgee sterker na vore kom.

Dit beteken nie dat die kerk sy oortuigings of gesag moet prysgee nie. Dit gaan eerder daaroor dat die kerk se boodskap op so ’n manier oorgedra word dat mense iets van Christus se sorg en liefde daarin kan herken.

Van kritiek op ’n afstand na pastorale teenwoordigheid

Vir Diederick lê die besondere betekenis van die gebedsbyeenkoms ook in die plek waar dit plaasgevind het. Die feit dat gelowiges binne die parlement bymekaargekom het om vir die land se leiers te bid, dra volgens hom ’n belangrike simboliese boodskap.

Hy herinner daaraan dat die verhouding tussen kerk en staat in Suid-Afrika oor baie jare deur ’n ongesonde verstrengeling gekenmerk is. Teen dié historiese agtergrond sien hy die gebedsgeleentheid as ’n voorbeeld van hoe die kerk vandag op ’n ander manier by die staat betrokke kan wees.

In plaas daarvan om bloot van buite af kritiek te lewer, kan die kerk ook nader beweeg, teenwoordig wees en op ’n pastorale manier uitreik na die mense wat verantwoordelikheid vir die land dra.

Dit is nie ’n poging om politieke mag uit te oefen nie, maar eerder ’n uitdrukking van die kerk se roeping om te bid, te dien en om te gee.

Die gebedsbyeenkoms het vir Diederick iets van hierdie moontlikheid sigbaar gemaak: gelowiges wat nie met veroordeling na die parlement gaan nie, maar met gebed en ’n opregte begeerte om die land en sy leiers aan God op te dra.

Uiteindelik, meen hy, is dit nie die kerk se verantwoordelikheid om die uitkoms van gebed te bepaal nie. Die kerk se roeping is om getrou te bid, met deernis teenwoordig te wees en die uitkoms in geloof aan God oor te laat.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: