Die eerste nagmaal na die opstanding
👤 Wilmi Wheeler
Die pad na Emmaus was nie besonders nie. Stof en klippies het onder mense se voete opgedam soos altyd en die son het stadig gesak soos dit elke aand doen. Maar vir die twee disippels wat daar gestap het, het alles anders gevoel. Die wêreld het nie meer dieselfde gewig gedra nie. Of dalk het dit juis te veel gewig gedra.
Hulle het gehoop. Dis seker die seerste deel van die storie. Nie net dat Jesus gesterf het nie, maar dat hulle iets van Hom verwag het. Iets groots, iets reddend. En toe het die kruis alles laat ineenstort soos ’n huis wat op sand gebou is. Nou bly daar net vrae in hulle gedagtes oor. En stories wat nie mooi bymekaar wil pas nie.
“Maar sommige sê die graf is leeg…”
“Ja, maar wat beteken dit?”
Hulle praat soos mense wat probeer glo, maar nie meer seker is hoe nie. Dis toe dat Hy by hulle aansluit. Net as nog ’n reisiger op dieselfde pad. Hulle herken nie dat dit Jesus is nie. Hy vra wat aangaan. Hy luister na hulle antwoorde. Hy laat hulle toe om hulle storie te vertel.
En dan begin Hy praat. Nie oor Homself nie, ten minste nie direk nie. Hy begin by Moses. By die profete. Hy trek lyne wat hulle nog nooit raakgesien het nie. Skielik lyk die storie anders, nie soos ’n mislukking nie, maar soos iets wat nog altyd so bedoel was.
En tog… hulle herken Hom steeds nie.
Dis amper frustrerend vir ons as lesers. Hier is die opgestane Christus, letterlik langs hulle, en hulle sien dit nie raak nie. Dit lyk asof iets binne hulle begin roer het, maar nie genoeg om vir Jesus raak te sien nie. Soos kole onder as wat nog nie vlam gevat het nie.
Wanneer hulle by die dorpie kom, lyk dit of die Man wil aanstap. Maar hulle keer hom. “Bly by ons,” sê hulle. “Dit word laat.”
En Hy bly.
Die toneel skuif. Van die pad na ’n tafel.
Jesus neem die brood. Vir ’n oomblik hang die beweging in die lug, asof die horlosie self ophou tik het. Hy spreek die seën uit. Hy breek die brood en gee dit vir hulle om te eet.
Dit is in daardie beweging wat hulle oë oopgaan. Hulle besef uiteindelik wie voor hulle sit: Jesus, die Gekruisigde, die Opgestane.
En net so vinnig as wat die oomblik kom, is Hy weg. Die stoel is nou leeg. Die brood is nog in hul hande. Die oomblik hang in die lug, amper te groot vir woorde.

Dit voel amper onregverdig. Hoekom nou? Hoekom verdwyn Hy juis wanneer hulle Hom uiteindelik herken?
Maar dalk is dit nie ’n verlies nie. Want nou weet hulle waar om te kyk.
“Het ons harte nie gebrand…” begin een en die ander knik. Nou eers verstaan hulle wat reeds besig was om te gebeur op die pad. Wat soos gewone gesprek gevoel het, was eintlik heilige grond. Wat soos ’n vreemdeling gelyk het, was die Here self.
Hulle bly nie sit nie. Hulle kan nie. Die pad wat hulle vroeër so moedeloos gestap het, word nou weer aangepak, maar hierdie keer vinniger, met iets wat soos vuur in hulle bors brand. Hulle moet dit gaan vertel!
En alles begin aan tafel.
Dit is merkwaardig dat die eerste keer wat Jesus Homself só duidelik laat herken ná die opstanding, nie in ’n tempel is of voor ’n skare nie. Dit is nie ’n triomfantelike vertoning nie. Dit is ’n maaltyd. Brood wat gebreek word. Hande wat gee en ontvang.
Die eerste nagmaal ná die opstanding is dus nie net ’n herhaling van wat voorheen gebeur het nie. Dit is ’n verdieping daarvan. By die laaste avondmaal het Jesus vooruit gewys: dit gaan gebeur. By Emmaus kyk Hy terug én vorentoe: dit hét gebeur en dit verander alles wat nou volg.
Die liggaam is gebreek. Die bloed is gestort. Die dood is oorwin.
Dit is asof die tafel self verander het. Nie in vorm nie, nie in elemente nie, want dit is nog steeds brood, nog steeds wyn. Die betekenis daarvan het verander. Dit word ’n plek waar die opgestane Christus ontmoet word. Nie net onthou word nie. Ontmoet word.
En dit is presies hoe die kerk deur die eeue die nagmaal begin verstaan het.
Vandag nog, elke keer wanneer die nagmaal gevier word, word daardie Emmaus-oomblik as’t ware herhaal. Nie identies nie, maar eg. Die ritme is dieselfde. Die uitnodiging is dieselfde.
Kom sit. Neem. Eet.
En kyk.
Nie noodwendig met jou oë nie. Maar met ’n hart wat begin verstaan dat die opgestane Christus nie ver is nie. Dat Hy Homself steeds gee, steeds breek, steeds deel sodat mense kan aanhou om Hom te herken.
Selfs op paaie waar hulle gedink het alles is verlore. Selfs aan tafels wat hulle nie as heilig beskou het nie.


