Die kerkjaar as skilderdoek: die verhaal van Christus werk beter as ʼn belastingjaar
Dr. Siegfried Louw
Dit was onlangs weer die inhandigingsdatum vir die afgelope belastingjaar. Vir die meeste van ons is dit ʼn vreemde opsomming van dít waarmee jy jou vir ʼn jaar lank besig gehou het. Vreemd genoeg, is SARS-tyd ook gewoonlik kersversieringtyd. Die winkels steur hulle nie te veel aan Advent of die kerkjaar nie, behalwe vir die sjokolades wat agter kartondeurtjies wegkruip.
Ek kies egter om my eie lewenstorie, asook die wêreld rondom my, te lees en te beleef vanuit die kerkjaar. Dit vertel vir my ʼn ánder storie en gee vir my ʼn ander perspektief op dit wat rondom my en binne myself gebeur. Ek loop myself in baie mense vas wat tans angstig wag vir die einde van die jaar. En elke keer wanneer iemand my vertel van hierdie gewag, dan hoor ek “advent”. Mag ek so reikhalsend “wag” vir Christus soos sommige van ons wag vir ʼn somervakansie.
Ongeveer ʼn jaar gelede, het Netflix ʼn fliek na ons TV’s toe gebring: Wake Up Dead Man. Dit is ʼn speurverhaal in die Knives Out reeks. Maar hiérdie een was anders. Dit is volgeprop met visuele simboliek. Die regisseur, Rian Johnson, gaan só te werk, dat ek aan die wonder gesit is oor die manier hoe ek die verhaal van Christus deur die loop van die jaar in my eie lewe herken.
Die fliek gebruik die agtergrond van die Groot Lydensweek om ʼn interessante speurstorie te vertel. Sonder om dit die hele fokus van die verhaal te maak, gee die Kerkjaar die skilderdoek waarop die storie vir die silwerdoek geskep word.

Die Dead Man in die storie verwys na verskillende mense in die fliek, en een van hulle is eintlik ook jy wat nou hier lees. Die kyker. Die hoofkarakter van die storie, Father Jud, is egter die belangrikste een. Die storie begin met sy bediening wat eintlik dood is. Maar dan kry hy ʼn tweede kans om in ʼn gemeente te kan bedien.
In die tuin van die kerk waar hy sy bediening “terugkry”, moet jy egter mooi oplet. Die regisseur sorg dat ons in ʼn tuin sit, met blommende acanthus-plante. Die acanthusplant is reeds vir eeue lank vir die kerk ʼn simbool van die ewige lewe. Selfs in begraafplase in ons eie land, sien ons die blare van hierdie plant in graniet of sement. Groot pilare het ook dikwels uitbeeldings van die blaarkrulle aan die bokant. Vir die vroeë kerk was hierdie plant ʼn simbool van hergeboorte en lewe. In Suid-Afrika kry ons hierdie geharde plant dikwels florerend in ons tuine. Ons eie Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit het tans van hierdie plante, vol in die blom, voor die Clairvaux huis.

Die regisseur gebruik hierdie toneel om ons eintlik solank te laat wonder: Hoe lyk wedergeboorte en nuwe lewe in hierdie fliek? Maar dit raak ook sommer gou-gou duidelik dat nuwe lewe nodig is. Father Jud se bediening in sy nuwe kerk, begin sonder ʼn kruis in die gebou. Die kyker loer as’t ware saam met Father Jud na die duidelike afwesigheid teen die muur.

Die regisseur voer dan binne sekondes twee sterk simboliese keuses uit. Agter Father Jud gaan die voordeur oop. En die skaduwee van ʼn man by die deur val bo-oor die kruis. Die silhouette eggo eintlik uitbeeldings van Christus wat uit die graf opstaan, met die klip wat weggerol is. Die skaduwee van ʼn lewendige iemand val op die afwesige kruis se plek.

Die tweede keuse van die regisseur, is om hierdie presiese oomblik te gebruik om die titel van die fliek vir ons vir die eerste keer te wys. Sonder musiek. Sonder ander kleure by. Slegs swart agtergrond met wit teks. Dit kom amper soos ʼn kontemplatiewe moment in ʼn erediens, sonder waarskuwing en sonder seremonie. Dit bly vir ʼn rukkie daar, byna asof die regisseur ʼn fout gemaak het. Hoekom sou hy hierdie keuse uitoefen, net nadat die Goeie Vrydag en Paassondag beelde sopas bo-oor mekaar vertoon is? Die kruis en die leë graf word as’t ware vir ons gewys, en net daarna kom die oproep: Wake Up Dead Man!

Father Jud wys ons dan mettertyd hoe hy self wakker word en vanuit sy geloofsoortuiging lewe bring waar daar voorheen doodsheid was. In een toneel het hy ʼn dringende taak om te voltooi, sodat die moordenaar vasgetrek kan word. Maar hy bly met deernis eers teenwoordig in ʼn telefoongesprek met ʼn angstige gemeentelid wat gebed nodig het. Hy word in jukstaposisie gestel teenoor die ander priester, wat gruwelik vertoon tydens sy agressiewe Goeie Vrydag preek.


Teen die einde van die verhaal, sien ons hoe Father Jud ʼn nuwe houtkruis met sy eie hande maak. Ons sien uiteindelik ʼn helderder, kleurvoller kerkbinnekant, met simboliek wat sê: “Christus is hier. Hier is lewe.” Father Jud se gesig is na die voordeur gedraai en hy is gereed om nuwe mense te verwelkom.

En dan, heel aan die einde, kom die titel van die fliek weer op. Kyk hoe die letters lewe en kleur kry, as kommentaar op wat met ons karakters gebeur het.

Hierdie vervaardigers het my meegevoer met die prettige en interessante whodunnit-storie, wat nie te veel dinkwerk gevra het nie. Maar waarmee hulle my gevang het, was die fyngeplaaste simboliek, wat my brein nog stééds besig hou. Die dinkwerk in hierdie fliek is nie die storielyn in die eerste plek nie, maar werklik eerder hoe ons na lewe kyk. Meer nog – hoe die verhaal van Christus daagliks in ons lewens uitspeel.
Die winkels kan maar hulle Temu liggies uitpak en die eerste valerige waatlemoene kan maar gekou word.
SARS vra hoeveel ek verdien het. Advent vra my waarvoor ek eintlik wag. Daar was oomblikke in hierdie jaar wat dit vir myself ook maar gevoel het asof die kruisplek leeg is. Of waar ek ervaar dat Goeie Vrydag-mense kies om kwaai vingers rond te swaai (soms was dit ek self…).
Die kerkjaar is ʼn skilderdoek. En as jy mooi kyk, sal jy oplet dat die Groot Regisseur allerhande mooi detail invoeg in jou storie.


