Die predikant as woordmens: Verantwoordelike hantering van die Bybelse grondtale
Prof. Hennie Stander
Daar is veral één onderskeidende kenmerk tussen ’n predikant en ’n gewone lidmaat, en dit is dat ’n predikant Grieks en Hebreeus behoort te kan hanteer! Dit is één van die redes waarom ons sê dat ’n predikant ’n professionele persoon met ’n professionele opleiding is. Dit is dus belangrik dat elke predikant hierdie professionele bekwaamheid altyd verantwoordelik en uitmuntend sal hanteer. Daarom wil ek in hierdie artikel ’n paar algemene semantiese beginsels bespreek wat nie altyd tot hulle reg kom in predikante se hantering van hierdie professionele bekwaamheid nie. Ek sal dit so eenvoudig doen dat elke taalmens (en Woordmens) hierby kan baat (ook hulle wat nie Grieks of Hebreeus ken nie en dalk gebruik maak van interlineêre Bybels).
1. Onthou dat ’n woord se betekenis nie afgelei kan word uit sy samestellende dele nie.
’n Skoenlapper is nie iemand wat skoene lap nie. ’n Skoonma is nie noodwendig skoon nie. ’n “Butterfly” is nie ’n vlieg wat van botter gemaak is nie en ’n “strawberry” is nie van strooi gemaak nie. Ek hoor al hoe jy sê dat ’n staalmes tog wel van staal gemaak is! Ja, MAAR ’n sakmes is nie van sak gemaak nie! Jy sit so ’n mes in jou sak. Net so is die verhouding tussen jag + mes weer iets heel anders. In laasgenoemde geval verwys dit nie na die materiaal van die mes nie, maar na die gebruik van die mes. Dit wys vir ons dat ’n mens nie na die samestellende dele van ’n woord kan kyk en dan daarvan kan aflei wat die woord beteken nie. Eers as jy reeds weet wat die woord beteken, kan jy dalk (soms) sien waar die woord vandaan kom.
Kom ons pas dit op die Bybel toe: Net so kan ons ook nie sê dat ἐκκλησία kom van ἐκ (uit) + καλέω (roep) en dat die kerk dus uit “uitgeroepenes van die Here” bestaan nie. Eeue voor die Nuwe Testament is die woord ἐκκλησία reeds vir enige (ook sekulêre) “vergaderings” gebruik.
Eweneens kan ons nie sê dat bekering (μετάνοια) kom van μετά (verander) + νοέω (dink) en dat bekering daarom verstaan moet word as “die verandering van denke” nie. Bekering gaan oor veel meer as die verandering van jou DENKE! Dit gaan oor die verandering van jou HELE lewe!
2. Moenie die geskiedenis van ’n woord se betekenis in sy huidige betekenis inlees nie.
“Umbrella” kom van die verkleinwoord van die Latynse woord “umbra” (“skaduwee”) en beteken dus letterlik “klein skaduwee”. Tog gebruik ons die “umbrella” meestal wanneer dit reën. Die woord “bikini” is afgelei van die Bikini-lagunerif in die Stille Oseaan waar Amerika 80 jaar gelede begin het om kernwapens te toets. Dit was omtrent dieselfde tyd toe die bikini-kledingstuk ook ontwerp is. Tagtig jaar later dink niemand aan ’n kernbom wanneer hulle ’n meisie in ’n bikini sien nie!
Ons weet wat ’n “G-string” is, terwyl ons nie eens weet waarvandaan die woord kom nie. Sommige dink dit lyk soos die letter G; ander sê die G kom van die woord “groin”. Nog ’n teorie is dat dit ’n “G-string” genoem word omdat dit soos die G-snaar van die viool lyk, maar daar is ook diegene wat sê dit kom van die woord “girdle-string” af.
As die Springbokke ’n drie druk, weet ons dit tel 5 punte – ongeag die geskiedenis van die woord “drie”!
Kom ons pas dit op die Bybel toe: Die feit dat die woord ἁμαρτάνω in die Ilias gebruik word wanneer ’n mens ’n teiken met jou spies misgooi, beteken nie dat die woord ἁμαρτάνω 700 jaar later in die Bybel nog steeds die betekenis van “doel mis” dra nie. “Om jou doel te mis” is géén sonde nie! As jou doel is om die Comradeswedloop te voltooi, en jy kry dit nie reg nie, is dit nie sonde nie. Wil jy weet wat sonde is? Moenie na die woord ἁμαρτάνω se geskiedenis kyk nie. Lees wat die Bybel oor sonde sê!
3. Verwant aan bogenoemde is die sogenaamde “etymological root fallacy”.
Dit gaan oor die foutiewe veronderstelling dat die “wortelbetekenis” (d.w.s. die “basisbetekenis” of die oorspronklike betekenis) van die woord in latere kontekste steeds dieselfde betekenis het.
Hier is ’n paar voorbeelde om die beginsel te illustreer: Die feit dat die woord “pharmacy” geskoei is op die woord φάρμακον = gif, beteken nie dat ’n apteek vol gifstowwe is nie. Die Engelse woord “nice” is afkomstig van die Latynse woord “nescius” (“onkundig”), maar dit beteken nie iemand is onkundig as jy na so ’n persoon as “nice” verwys nie. Die woord “verskriklik” hou verband met “skrik”, MAAR wanneer ek sê dat dit “’n verskriklik goeie preek” was, beteken dit nie dat die preek ons bang gemaak het nie. Die “wortelbetekenisse” van die woord “breakfast” sê jy breek (“break”) die nag se “vas” (“fast”). Maar niemand, niemand wat die woord “breakfast” gebruik, dink daaraan dat jy die nag se “vas” verbreek het nie.
As jy na die Hebreeuse woord מִלְחָמָה (“oorlog”) kyk, kan jy die woord לֶחֶם (“brood”) daarin raaksien, maar dit beteken nie dat jy nou die woord מִלְחָמָה moet interpreteer in terme van die woord לֶחֶם nie, en iets sê soos “oorlog gaan dikwels oor brood”.
Kom ons pas dit op die Bybel toe: As ons in Matteus 9:36 lees dat Jesus “innig jammer gevoel het (σπλαγχνίζομαι) vir die skare”, hoor ’n mens dikwels dat die woord “om innig jammer te voel” van die Griekse woord σπλάγχνα kom, wat “ingewande” of “derms” beteken. Dan hoor ons die vreemdste verduidelikings van hoe Jesus se “derms gedraai” het van jammerte. Sommige praat selfs van ’n “bedermde God/Vader”. Nóg die evangelis nóg enigiemand anders het aan Jesus se ingewande of sy “derms” gedink toe dié woorde geskryf is. Dit is gewoon verregaande om so met Griekse woorde om te gaan.
4. ’n Mens mag nie ’n woord se latere betekenis inlaai in ’n vroeëre gebruik van die woord nie.
Neem byvoorbeeld die woord “gay”. In die vorige eeu het die woord “gay” die betekenis van “joyful” gehad. Ek kan nie nou die huidige betekenis van “gay” teruglees in die tekste waar die woord “gay” in die vorige eeu gebruik is nie.
Kom ons pas dit op die Bybel toe: As ons in Romeine 1:16 lees “die evangelie is ’n krag (δύναμις) van God”, kan ons nie sê dat die woord “dinamiet” van δύναμις afgelei is en dat dit daarom dui op die ontploffende krag van die Evangelie nie. Dinamiet is eers 18 eeue later deur Alfred Nobel “ontdek”. Buitendien is so ’n verduideliking heeltemal onvanpas, want dinamiet verwoes en maak stukkend, terwyl die Evangelie heelmaak!
5. In die woordeboek het ’n woord baie betekenisse, MAAR wanneer dit binne ’n bepaalde konteks gebruik word, het dit slegs één betekenis.
’n Pampoen kan ’n rankplant wees, of ’n onnosele persoon. ’n Saal kan ’n lokaal wees, of ’n sitplek op ’n fiets of ’n perd. ’n Bank kan ’n meubelstuk wees, of ’n plek waar jy jou geld bewaar, of die studente kan ook ’n klas bank. Wat ’n mens nie mag doen nie, is om elke keer wanneer jy die woord “bank” teëkom, al die betekenisse van die woord in daardie één voorkoms van die woord in te laai. As jy dus lees “die studente bank ’n klas”, kan jy nie sê dit is omdat hulle op ’n bank sit, of omdat hulle geld by die bank gaan trek het nie.
Kom ons pas dit op die Bybel toe: Net so kan ons nie al die betekenisse van ’n Hebreeuse of Griekse woord in die woordeboek opsoek en dan absoluut al daardie betekenisse inlaai in elke vers waar jy dit teëkom nie. Die woord πνεῦμα het die betekenisse van “Heilige Gees”, “bose gees”, “wind”, “asem”, “spook” en “innerlike wese”. Maar as ons in Markus 1:12 lees dat “die Gees Jesus weggevat het die woestyn in”, kan ons nie al bogenoemde betekenisse in hierdie vers inlaai nie.
As ons in Markus 6:3 lees dat daar na Jesus as ’n τέκτων (“timmerman”) verwys word, kan ons nie ook al die ander betekenisse van die woord, soos byvoorbeeld “argitek”, “bouer”, “kunstenaar”, “digter”, “woordsmid”, “outeur” en “beeldhouer”, hier inlees nie.
As ons in Jesaja 53:5 lees, “Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom”, kan ons nie sê dat die woord רָפָא “genees”, “herstel”, “vaswerk”, “stop” en “vrede maak” beteken, en dan elkeen van hierdie betekenisse van toepassing op Jesus maak en sê dit is wat sy heilswerk vir ons beteken nie.
Bogenoemde verkeerde gebruike van die grondtale kom dikwels voor in selfs goeie teologiese boeke en kommentare, maar kom ons neem ons voor om ons professionele kennis regtig meer verantwoordelik te gebruik en in pas met goeie semantiese beginsels. (Gaan lees gerus ook in hierdie verband D.A. Carson en A.D. Naselli se boek Exegetical Fallacies, wat ’n paar maande gelede [in 2026] gepubliseer is.)


