Die melodie preek saam
Dr. Diederick Basson
Tydens die PredikanteSAAMkoms by Goudini in Augustus vanjaar het ’n predikant vertel dat hul gemeente Lied 308, “Neem my lewe, laat dit, Heer”, nie op die bekende Liedboek-melodie sing nie, maar op Barry Sadler se The Ballad of the Green Berets (kortweg Green Berets).
My eerste reaksie was: Waarom? Wat is dan fout met die bestaande melodie? Ek ken egter nie die gemeente se konteks of die redes vir hierdie besluit nie, en daarsonder sou ’n waardeoordeel nie billik wees nie. Maar die vraag het my nie losgelaat nie: Wat gebeur met ’n geloofsteks wanneer die melodie verander?
Nie net ’n musiekvraag nie
Die tema van die konferensie van die Werkgemeenskap Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria in Oktober vanjaar was “Die ver-beelding en ver-woording van geloof in kuns, musiek, letterkunde en argitektuur”. Dit het onder meer gevra hoe kuns bydra tot ons belewenis van God.
Die referate by die konferensie het hierdie vraag vanuit verskillende hoeke verken, van ikone en Reformasie-skilderye tot kerkgeboue, poësie en drama. Of dit ’n beeld, ’n gebou of ’n gedig is, die vraag bly dieselfde: Is die vorm bloot ’n draer van die geloofsinhoud, of help dit bepaal hoe ons dit verstaan en beleef? Enigiemand wat ’n kerkgebou binnestap, weet dat die ruimte reeds iets sê voordat ’n woord gespreek is, en die kerk worstel al eeue met hierdie vraag, veral in die Reformasie se debat oor beelde.
Hoe dieselfde teks as geloofstaal deur twee verskillende melodieë beïnvloed word, was die vraag wat ek in my referaat by hierdie konferensie ondersoek het. Die melodie stel dieselfde vraag in klank. Dit is nie bloot ’n kwessie van smaak nie, maar deel van ’n groter gesprek oor hoe geloof deur ons musiek verklank word.
Uit die geskiedenis weet ons dat melodieë nie altyd oorspronklik vir die kerk ontstaan het nie. Reeds in die Ou Testament vind ons in die Psalms dikwels die aanduiding: “Op die wysie van …” Martin Luther het ook sekulêre melodieë gebruik waarvoor nuwe geestelike tekste geskryf is. Hierdie praktyk, waar ’n bestaande melodie van ’n nuwe teks voorsien word, staan as kontrafaktuur bekend. Een van die redes hiervoor was om die kerklied vir gemeentes meer toeganklik te maak en hulle aan te moedig om saam te sing. Dit is op sigself nie ’n probleem nie. Die oorspronklike assosiasies verdwyn egter nie noodwendig wanneer ’n melodie ’n kerklied word nie, en juis dít kan beïnvloed hoe ’n gemeente die lied ontvang.
Dieselfde woorde; ’n ander lied
Frances Ridley Havergal het die oorspronklike liedteks, “Take my life, and let it be”, in 1874 geskryf. Dit is ’n gebed van toewyding waarin die gelowige nie net ’n enkele daad van diens aanbied nie, maar die hele lewe: gawes, denke en handelinge. Die teks is in 1931 deur prof. G.B.A. Gerdener in Afrikaans vertaal en weer in 1978 deur Attie van der Colf hersien.
Die melodie van Lied 308, VIENNA (onder die afdeling “Toewyding en Offerhandeling”), is in 1797 deur Justin Heinrich Knecht geskryf. Vir baie kerkgangers is dié melodie verweef met erediens en persoonlike geloofservaring. Green Berets, daarenteen, is ’n populêre lied wat deur die Viëtnamoorlog geïnspireer is en in 1966 boaan die treffersparade verskyn het. Dit kom uit ’n militêre en patriotiese wêreld en dra assosiasies van diens, lojaliteit en opoffering saam.
Die verskil tussen die twee melodieë is hoorbaar. VIENNA het ’n reëlmatige ritme en ’n matige tempo wat die gebedskarakter van die teks ondersteun. Die melodie beweeg meestal vloeiend trapsgewys en het ’n betreklik beperkte omvang, wat die singbaarheid daarvan bevorder. Green Berets het ’n prominente marsritme waardeur die militêre karakter sterk na vore kom. Die melodiese omvang daarvan is ook aansienlik groter as dié van VIENNA, en die frases is meer gefragmenteerd, wat ’n invloed op die singbaarheid en betekenis kan hê.
Wanneer Lied 308 se teks op die twee melodieë gesing word, is daar verskeie aspekte wat my opval. Diensbaarheid en opoffering hoort by die Christelike geloof, en die marsritme kan die oorgawe selfs kragtig na vore bring. Maar dit kan ook iets anders doen: Dit kan ’n toewydingsgebed laat klink soos ’n oorwinningslied. Sing byvoorbeeld “niks noem ek my eie meer” op ’n marsritme, en dit kan klink soos ’n belofte van lojaliteit. Sing dit op VIENNA, en dit klink eerder soos ’n stil oorgawe. Nie almal sal dit eenders hoor nie, want ons luister vanuit verskillende herinneringe, kulture en kontekste.
Wat beteken dit vir ons liedkeuse?
Ons kies nie liedere bloot om die erediens met sang af te wissel nie. Soos in ’n vorige rubriek genoem, vorm die kerklied ’n integrale deel van die erediens. Dit is immers die gemeente wat daardeur aan die woord kom. Ek erken dat daar beslis melodieë in die Liedboek is wat ’n uitdaging aan kerkgangers stel. Die vervanging van ’n bestaande melodie met ’n meer populêre of bekende een is egter nie altyd die beste uitweg nie. Die assosiasies en betekenisse wat reeds aan die alternatiewe melodie verbonde is, kan onbedoeld ook aan die bestaande teks gekoppel word.
Dit beteken nie dat daar net een aanvaarbare melodie vir elke teks bestaan nie. Soms help ’n bekende melodie die gemeente om met oortuiging te sing. Soms plaas ’n ander melodie ’n bekende teks in ’n nuwe lig. Dit vra wel dat ons bewus bly van die betekenis wat ons deur ons keuses help skep.
Die melodie is nie bloot die begeleiding van die woorde nie. Dit sing nie net saam nie. Dit preek saam.


