In Memoriam: Ds. Pieter Franzsen (15/09/1933 – 18/07/2024)
👤 Wilmi Wheeler
Pieter Franzsen is op 15 September 1933 te Rheenendal gebore as die oudste van Salmon Herder en Martha Wilhelmina se kinders. Hy matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Knysna, pas na sy sestiende verjaardag en gaan studeer BA-Admissie aan die UOVS. Gedurende sy derdejaar aan die UOVS tree hy op as nagverslaggewer by Volksblad en beland hy en die fotograaf, Tony Adendorff, in ’n motorongeluk tydens eksamentyd. Dit het tot gevolg dat hy eers in 1953 sy BA-graad behaal.
Gedurende 1954 tree hy in diens by die landmeter-generaal se kantoor in Bloemfontein (Feb 1954-Julie 1954) en as assistent vir dr. EC Slipher, wêreldberoemde deskundige oor Mars, tydens die National Geographic Society se Mars-ekspedisie by die Lamont Hussey Sterrewag te Bloemfontein (April 1954-November 1954) terwyl hy terselfdertyd inskryf vir MA Deel 1 in Staatsleer aan die UOVS (Sien The National Geographic Magazine, September 1955).
In 1955 skryf hy by die Sendinginstituut op Wellington in om hom as sendeling te bekwaam en nadat hy die 4-jaar kursus in Teologie met sukses voltooi het, word hy op 26 November 1958 as sendeling in die NG Kerk toegelaat.
Hy is die eerste predikant onder die Franzsens en bedien agtereenvolgens die gemeentes Nuwerus en Riebeek-Kasteel van die NG Sendingkerk en Fynnland (Durban) en Keetmanshoop van die NG Kerk voordat hy in 1976 kapelaan in die Suid-Afrikaanse Vloot word. Benewens kapelaan in die SA Vloot is hy ook leraar van die NG Gemeente Simonstad.
Hy word op 29 Februarie 1980 aangestel as kommandementskapelaan in die SA Vloot en in Augustus 1987 as direkteur van die kapelaansdiens in die Vloot met die rang van vlootkaptein.
Op 1 Mei 1989 word Pieter Franszen aangestel as direkteur personeel by die kapelaan-generaal se hoofkwartier met die rang van kommodoor (die eerste Vlootkapelaan wat die rang verwerf). Op 1 Desember 1990 word hy aangestel as direkteur bediening in die SA Kapelaansdiens. Hy neem verskeie kere waar as kapelaan-generaal voor sy aftrede aan die einde van September 1993. Gedurende hierdie tydperk is hy kerklik verbonde aan die NG Gemeente Magaliesfort in Pretoria.
Tydens sy loopbaan as kapelaan voltooi hy met sukses verskillende kursusse in die SAW. So was hy onder andere die eerste kapelaan wat ’n volledige offisierskursus in die SA Vloot voltooi en word hy bowendien as die beste student op die kursus bekroon! Hy het as kapelaan diens gedoen op haas elke Vlootskip: mynveërs, mynjagters, voorraadskepe, aanvalsvaartuie en fregatte. Hy is ook in 1984 en weer in 1986 na Londen gestuur om die ambassadepersoneel te bearbei en sy verslag lei daartoe dat daar in 1987 ’n permanente leraarspos in Londen geskep word.
Hy dien ook in verskeie kultuurliggame, o.a. as voorsitter van Rapportryerskorpse in Riebeek-Kasteel, Durban, Keetmanshoop en Vishoek en ook as voorsitter van FAK kultuurrade in Durban, Keetmanshoop en Vishoek. Hy neem ook leiding in die daarstel van ’n gemeenskapskool te Simonstad waar voorsiening gemaak word vir ’n bewaarskool, ’n pre-primêre skool en ’n naskoolse sentrum en dien verskeie jare as voorsitter van die beheerraad.
Hy het vir baie jare lank uitsaaidienste oor die radio en TV behartig, onder andere die roudiens (oor TV) vir die sestien Vlootlede wat in die President Kruger-ramp omgekom het asook die Nasionale Dias-feesdiens oor TV vanuit Mosselbaai op 31 Januarie 1988 saam met die Tygerberg Kinderkoor.
Wat sport betref het hy provinsiale kleure verwerf in hokkie (Boland) en ook deelgeneem aan rugby, tennis en skiboothengel. Hy was verskeie jare lank voorsitter van die SA Weermag se skiboothengelklub. Daarby het hy hom ook besig gehou met muntversameling, hout- en metaalwerk.
Gedurende sy loopbaan het hy op verskillende kerklike en SA Weermagkommissies gedien, onder andere as lid en voorsitter van die Sinodale Regskommissie in die NG Sendingkerk, die NGK in SWA (nou Namibië) en die NGK in SA (Wes-Kaapland); lid van die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (NGK Wes-Kaapland) en lid van die Afrikaanse Lektuurkommissie van die SAW (1977-1989).
Hy het, benewens artikels en preke in koerante en tydskrifte die geskiedenis van die NG Kerk Keetmanshoop gepubliseer. Hy was ook verantwoordelik vir die daarstel van ’n Afrikaanse weergawe van die “Seaman’s Hymn” saam met prof. MM Walters.
Die volgende militêre medaljes is aan hom toegeken:
- Medalje vir tien jaar getroue diens (brons).
- Medalje vir twintig jaar getroue diens (silwer).
- Die Algemene Diensmedalje vir diens ter verdediging van die RSA.
- Die Militêre Merietemedalje vir diens van ’n hoogstaande gehalte.
- Die Suiderkruismedalje vir buitengewoon voortreflike diens en besondere toewyding.
Na sy aftrede het hy eers in Gouritsmond gaan woon. Daar het hy gedien op die bewaringstrust en die skibootvereniging, waar hy bydraes gelewer het tot die bewaring van die unieke omgewing. Sy laaste jare het hy by sy seun op ’n plaas in die Idasvallei deurgebring. Daar het hy sy volle gewig by die kerkraad van NG Gemeente Stellenbosch-Noord ingegooi en nog tot op ouderdom 90 die gemeente by die Ring van Stellenbosch verteenwoordig.
Hy is in 1957 getroud met Loretta Scholtz van Mosselbaai, ’n maatskaplike werker, en uit hulle huwelik is twee kinders gebore: Gustav, wat ook ’n vlootoffisier geword het en Ingrid, wat in die talent van haar groot-oupagrootjie gedeel het en ’n skilder geword het! Sy vrou het hom in 2018 ontval.
Ds. Pieter Franzsen is op 18 Julie 2024 na ’n kort siekbed in 2 Militêre Hospitaal in Wynberg oorlede.