Kweekskool vier 25 Jaar saam met VGK en ander kerke

👤 Peet Bester

Die Alumni vereniging van Universiteit van Stellenbosch het ‘n “homecoming” geleentheid by die Teologiese Fakulteit gehou op 14 September. Tydens hierdie geleentheid, wat deur baie oudstudente bygewoon is, is veral gefokus op wat gelei het tot die skuif van die VGK se opleiding vanaf die Universiteit van die Wes-Kaap na Stellenbosch. Die 25 jaar vieringe is afgeskop met ‘n groete woord vanaf die nuwe Rektor en Vise Kanselier, Prof. Deresh Ramjugernath.

Die geleentheid het die verhaal vertel van die afgelope 25 jaar se vreugdes en hartseer. Die VGK se Kuratorium het in 1998 die slegte nuus ontvang dat die fakulteit by Wes-Kaap sou sluit. Dit was ‘n bitter moeilike tyd vir studente, dosente en leiers betrokke. Hierdie verhale is persoonlik gedeel deur die paneel van VGK, NGK leraars en studente. Dit is met groot dankbaarheid dat beide dosente en studente (leraars) kon getuig dat daar ‘n pad in die wildernis gevind is deur die genade van die Here. Ons Slueer ook die dapper optredes van kerkleiers in daardie jare.

Dit was wonderlik om ook die dekane sedert 2001 in lewende lywe daar te kon hoor rakende hulle termyne. (Prof Russel Botman was in 2000 aangestel as dosent in Missiologie). Die dekane wat deelgeneem het aan die gesprekke was: Prof. Daniël J. Louw, 2001–2005: Prof. A. Elna J. Mouton, 2005-2010; Prof. Nico N. Koopman, 2010 – 2015; Prof. H. L. (Hendrik) Bosman, (waarnemend) 2013 – 2017; Prof. Reginald (Reggie) W. Nel, 2017 – tans.

Die Fakulteit Teologie is ook tans die huis van ander geloofsgemeenskappe. Die ledekerke is as volg: Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Suider-Afrika, Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA), Anglican Church of Southern Africa (ACSA), Volkskerk, United Evangelical Lutheran Church in Southern Africa. Verteenwoordigers van die onderskeie kuratoria het ook hul waardering en verwagtings gedeel met die Fakulteit en die gehoor.

Vanuit ‘n NGK oogpunt is ons dankbaar dat ons nie meer op ons eie opgelei word nie maar dat die ekumeniese karakter van die Fakulteit geweldige waarde het. Die Ekumeniese raad wat al die ledekerke verteenwoordig is ‘n besondere plek waar saamgedink word oor teologiese opleiding. Die NGK, VGK en Lutherane werk nou saam in die Seminarium waar baie formatiewe werk met die studente gedoen word.

Die 25 jarige viering van ‘n meer inklusiewe Fakulteit was ‘n besondere geleentheid wat almal met verwondering en dankbaarheid gevul het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Best Online Casino Canada: Accessibility for Players with Disabilities

  • My magtie, Riaan!

  • Om raakgesien te word (al praat jy met jou hande)