Kyk weer (Deel 1) – “Kleure van die paradys” | Dolf du Plooy
👤 DJ Muller
Deur DJ Muller
Ek onthou goed dat ek, vandat ek kan onthou, bewus was van ’n kamera in my grootwordhuis. Dit was ’n Minolta-filmkamera — my pa was op sy dag deel van ’n fotografieklub. Iewers tydens my laerskooljare het ek meer nuuskierig begin raak oor die nylon sak met die Minolta en die klomp lense wat in pa se kas gebêre (weggesteek?) is… “Hoe werk dit? Wat doen hierdie knoppie?” Pa het my geduldig geleer. Af en toe kon ek selfs ’n film laat ontwikkel as ons Baai toe moes ry van Cradock af. Al het baie van die foto’s nie bruikbaar uitgekom nie, het dit nie vir my saak gemaak nie. Ek het die proses geniet, en dié proses het iets in my wakker gemaak.
Op hoërskool het ons ons eerste digitale mik-en-drukkamera gekry, ’n Sony. Sy geheuekaart het ’n kapasiteit van 256 MB gehad (terloops, met die kamera wat ek nou het, kan ek net vyf foto’s neem op só ’n kaart, dan is dit vol). Op universiteit het ek vir my ’n Olympus by Makro gekoop, waarvan die lense kon ruil. Met my en Nadia se eerste huweliksherdenking het ek “ons” bederf met ’n nuwe Nikon D5300. Sedert 2020 skiet ek egter met ‘n Canon Mirrorless Full Frame-sisteem. Ek moet ook erken dat ek nou G.A.S. het (Gear Acquisition Syndrome).
Die interessante is dat, ongeag waarmee ek skiet, dít wat as seuntjie in my wakker gemaak is, nog meer wakker word hoe meer ek met ‘n kamera in my hand deur die lewe beweeg. My kollegas by Kaapkerk wil al vir my ’n T-hemp laat maak wat sê: “Kyk die mooi lig, julle!” Ek is mal oor lig. Ek is ook versot op die kontras tussen kleure en teksture, die jukstaposisie van onderwerpe en uitspattige emosies. Ek het ook al besef dat dit my opgewonde maak om meer redes as net die mooi foto’s. Dit doen iets aan my binneste. Soms bring dit kalmte, ander kere ontstel dit my. Soms laat dit my lag, en soms laat dit my onwillekeurig huil. Hoe meer ek foto’s neem, hoe meer sien ek dinge anders raak. Dit is asof ek sonder ’n kamera steeds deur ’n lens kyk. Die wonderlikste is dat juis dít my manier geword het om met God besig te wees.
Dit klink vreemd. Dit voel ook soms vreemd – dat ek iets van God beleef wanneer ek deur ’n lens na my wêreld kyk. Dit het my al vir baie lank laat wonder: Kan ons dalk praat van ’n spiritualiteit van fotografie? Is ’n kamera nie dalk ’n stuk hermeneutiek nie? Hermeneutiek is die kuns en wetenskap van interpretasie, wat nie net in teologie gebruik word nie, maar ook in ons verhouding tot die wêreld. Dit help ons om komplekse idees, mense en situasies te verstaan deur na hul diepere betekenis en konteks te kyk. In ons daaglikse lewe pas ons hermeneutiek toe wanneer ons probeer om ander mense se gedrag, kultuur of selfs gebeure te interpreteer. Dit gaan oor meer as bloot letterlike betekenis; dit help ons om mense, situasies, en geskrifte deur ‘n lens van begrip en empatie te benader.
Keer op keer het ek al hieroor probeer skryf of praat. “Hoe verwoord ek dit wat fotografie in my binneste doen? Is dit moontlik om fotografie as deel van my godsdiens te beskou?” Ek vee toe maar uit wat ek reeds geskryf het. Tot op die dag wat ek dié foto’s en skrywe van Dolf du Plooy op Facebook raaksien…

“Stilte in die Donkiebos”
Dolf deel dat hy vroegoggend in die tuin gaan stap het by die Andrew Murray Sentrum. Dit is hier waar hy talle foto's geneem het van pragtige blomme. Hy het vir 'n ruk stilgesit op dié bankie, en na sy foto's gekyk. Hierdie eenvoudige foto's het hom toe laat begin wonder, verbeel en skryf... oor die mens en sy God.
Goed…
En op die negende dag gesels die Skepper en die mens weer laatmiddag in die Tuin. “En wat het julle vandag gesien?” vra die Skepper. “Ons het ’n nuwe kleur ontdek!” sê die mens, amper uitasem. “Is dit vir julle mooi?” wou die Skepper weet. “Dis so mooi soos die groot ligte daar bo in die hemel,” kom die antwoord van die kinders. “En?” vra die Skepper nuuskierig verder, “Wat gaan julle hierdie kleur noem?” “Blou en bruin was ons eerste kleure en gister het ons heeldag probeer tel hoeveel verskillende groen ons kon sien.” Die mens kyk na mekaar, toe na die son en toe weer na die blom aan die dun groen steel voor hul kaal voete. “Geel,” sê die mens. “Vandag se kleur is geel.”
Die mens en die Skepper wandel tussen skakerings van groen en bruin, met die blou hemel bokant hulle. Die mens wys na al die verskillende geel wat hulle vandag ontdek het. Net voor slaaptyd gaan sit hulle op hulle gunstelingplek vanwaar die sonsondergang vir hulle die heel mooiste lyk. Toe vra die Skepper, terwyl die mens styf langs die Skepper sit, “Was vandag vir julle goed?” “Dit was baie goed!” antwoord die mens sonder om eens daaroor te dink. En na ’n oomblik van stil kyk na die son wat die blou hemel met nuwe kleure begin verf, fluister die mens in die Skepper se oor, “Vandag was die beste.” Die Skepper glimlag, want dit is wat hulle elke dag nog sê. En terwyl die slaap die mens oorval in die skadu van die Skepper, luister die hele skepping na die woorde wat die Skepper bid: “Mag julle aanhou om My raak te sien in die mooi rondom en binne-in julle.”

“Vandag is dit geel”
Hierdie is een van vele inspirerende foto's wat Dolf van geel blomme geneem het.
Kyk hier na Dolf se ander foto’s
My eerste reaksie hierop was: “Hy verstaan dit!” Dit was vir my ’n puik illustrasie van wat in ’n mens se binneste kan gebeur wanneer jy leer om anders te kyk. Hier het ’n selfoonfoto gemaak dat iemand ten minste nóg ’n keer kyk en dieper dink. Die proses wat in die skryf van hierdie aangrypende gedeelte betrokke was, is presies wat ek bedoel met die spiritualiteit van fotografie. Dolf het op ‘n foto-neem-manier na ‘n blom gekyk, en toe nóg een raakgesien. En nóg… Uiteindelik het hierdie foto’s hom só inspireer dat hy ‘n stuk kon skryf wat sy en ander se harte kon aanraak en ‘n Godsbelewenis kon skep.
Kom ons probeer om, hier aan die begin van hierdie kort reeks oor fotografie, ’n definisie van die spiritualiteit van fotografie te verwoord:
’n Spiritualiteit van fotografie is waar die sensitiwiteit vir besondere oomblikke op ’n kreatiewe manier ingespan word deur ’n foto te neem, op só ’n wyse dat dit die fotograaf en ander mense help om ’n Goddelike belewenis te hê.
Ek vermoed hierdie definisie mag dalk verander, maar vir nou werk ek hiermee om verder oor hierdie onderwerp te dink. En uiteindelik skryf ek weer hieroor, want daar is mense soos Dolf, Tamara, Neels, Louise, Chris, Ninnie en vele ander wat ook soms vir God raaksien wanneer lig deur ‘n lens verbuig word.
In die reeks rubrieke wat volg, gaan ons gesels oor hoe fotografie vir hierdie mense iets spiritueel geword het.
DJ Muller is ‘n predikant by Simondium Familiekerk en vervaardiger by Kaapkerk.