Kyk weer (Deel 2) – “Venster tot die Heilige” | Neels en Louise Jackson
👤 DJ Muller
Beelde oorheers ons bestaan, maar tog vind ons soms juwele van wysheid by mense wat geleer het om dieper te kyk as oppervlakkige advertensies, onnatuurlike redigering van voorbladfoto’s en die kamma-perfeksie van kunsmatig-gegenereerde prentjies waarmee baie deesdae spog.
Neels en Louise Jackson is sulke mense – afgetrede mense wie se reis met fotografie ‘n venster geword het na ‘n dieper spirituele werklikheid en waardering van die skoonheid van God se skeppingswerk.
Daar’s ‘n besondere rustigheid in die manier waarop die Jacksons hul aftrede benader. Ver verwyderd van die stereotipiese beeld van ‘n “vervelige rustyd”, het hulle ‘n lewensritme gevind wat fotografie en geloof nou verweef. By Stellastraat gemeente in Pretoria, waar hulle aktief betrokke is by die uitreikbediening, vind hulle besondere lewenssin deur diensbaar te wees. Hierdie betrokkenheid word afgewissel met hul gedeelde passie vir fotografie – ‘n stokperdjie wat veel meer geword het as net ‘n tydverdryf…

Dié egpaar se pad met fotografie weerspieël hoe God dikwels verskillende roetes gebruik om ons na dieselfde bestemming te lei. Vir Neels het die vonk op universiteit begin met sy eerste kamera, maar dit was die digitale-kamera revolusie van 2004 wat die deur na ‘n nuwe wêreld vir hom oopgemaak het. Sy jarelange passie vir voëlkyk het ‘n natuurlike brug gevorm na fotografie – ‘n kombinasie wat hy beskryf as die perfekte mengsel van “skoonheid en kunstigheid.”
Louise se verhaal ontvou anders, maar nie minder betekenisvol nie. Haar fotografie reis begin as ‘n sagte eggo van haar man se passie, tot ‘n Namakwalandse staptog in 2009 haar eie kreatiewe stem wakker maak. Met ‘n mik-en-druk kamera het sy begin om die wêreld deur haar eie lens te verken. Vandag, as senior lid van ‘n fotografieklub, deel sy haar man se passie met ‘n eie unieke perspektief.
Die transformerende krag van die lens
“Fotografie het my oë oopgemaak om fyner te kyk,” deel Louise. In hierdie stelling lê daar ‘n diep waarheid opgesluit. Dit herinner ons aan hoe God ons dikwels roep om weer, en weer, en nóg ‘n keer te kyk – totdat ons werklik sien. Louise se ervaring met die dokumentering van ‘n afgebrande plakkerskamp wys hoe die kamera nie net ‘n werktuig is om skoonheid vas te vang nie, maar ook ‘n instrument om die rou realiteit van ons gebroke wêreld te ontbloot op ‘n manier wat emosies wakkermaak.

Die kuns van geestelike waarneming
Die Jacksons se benadering tot fotografie verklap iets van ‘n dieper waarheid oor spirituele waarneming. Hulle beskryf hoe hulle nie net die tegniese aspekte raaksien nie – die spel van lig, die keuses rondom komposisie, sluiterspoed en lensopening nie – maar ook die heilige oomblikke wat dikwels in die gewone skuil. Hierdie manier van kyk word ‘n soort gebed, ‘n manier om God se teenwoordigheid in die alledaagse raak te sien en te geniet.
Stories wat die spirituele dimensie van fotografie Illustreer
“Soms gebeur daar iets spesiaals deur die lens,” vertel Louise. “Vyf jaar gelede was ek by ‘n doopdiens waar Ds Fay van Eeden se baba, Amèlie, gedoop sou word. Dr James Kirkpatrick sou die doop waarneem. Niemand kon voorspel wat daardie oomblik sou vasgevang word nie.”
Louise vertel hoe die baba, teen alle verwagtinge in, kalm en wakker gelê het tydens die seremonie. “Toe Dr James begin bid en sy hand naby oor haar hou, het daar iets merkwaardigs gebeur – Amèlie het haar klein babahandjie uitgesteek en aan sy duim vasgehou.” Louise vertel hoe sy besluit het om aan te hou foto’s neem eerder as om haar oë te sluit vir die gebed.
“Dit was ‘n heilige oomblik,” deel sy. “Ek het ‘n intense Godservaring gehad – dit was asof ek kon sien hoe God se seën letterlik van die predikant se hand na hierdie klein babatjie vloei, en hoe Amèlie dit met daardie onskuldig kinderlike vertroue aanvaar.” Die foto het sedertdien een van Dr James se gunsteling beelde geword, ‘n tasbare herinnering aan die manier waarop God se genade en ‘n kind se oop hart mekaar ontmoet het.
Neels het ook ‘n mooi storie oor ‘n belewenis by ‘n aalwynkwekery wat op die oog af dalk nie na ‘n plek van spirituele betekenis lyk nie. “Ons was by ‘n besondere aalwynkwekery. Die plek het gelewe van die suikerbekkies en allerhande insekte wat om die blomme gefladder het.”
Hy vertel hoe hy besig was om foto’s te neem toe hy ‘n pragtige stukkie skoonheid raakgesien het – ‘n liewenheersbesie wat rustig op een van die aalwynblomme, by ‘n kwekery sit. Hy neem toe ‘n foto daarvan. Dié eenvoudige skoonheid het hom so diep geraak dat hy later ‘n gedig daaroor geskryf het.
“Dis hierdie soort oomblikke,” verduidelik Neels, “wat my laat besef dat fotografie meer is as net ‘n stokperdjie. Dit word ‘n manier om God se teenwoordigheid raak te sien in plekke waar ons dit dalk die minste verwag – selfs in ‘n liewenheersbesie op ‘n aalwynblom.”

Hierdie twee stories illustreer hoe die kamera ‘n instrument kan word wat ons help om die heilige in beide die buitengewone en die alledaagse raak te sien. Of dit nou in die plegtige oomblikke van ‘n doopdiens is, of in die skoonheid van ‘n oggend in ‘n aalwynkwekery – die lens word ‘n venster waardeur ons God se teenwoordigheid op nuwe maniere kan waarneem.
Die Jacksons se wysheid oor hoe om fotografie ‘n spirituele praktyk te maak, is beide eenvoudig én diep: stadiger beweeg, meer intensioneel waarneem. Dit herinner my aan die antieke praktyk van lectio divina, maar nou deur die lens van ‘n kamera. Soos Neels dit stel – daar’s geen vaste formule nie, maar wanneer ons oë oopgaan vir God se teenwoordigheid in die skepping, word die kamera ‘n instrument van geestelike onderskeiding.
Die Jacksons se verhaal nooi ons uit om fotografie te sien as meer as net ‘n tegniese vaardigheid of artistieke uitdrukking. Dit word ‘n hermeneutiese lens – ‘n manier om die dieper betekenis van ons werklikheid te ontsyfer en God se teenwoordigheid daarin raak te sien, veral in die skoonheid van die skepping.
Louise vertel: “Om plat op jou maag ‘n krap in die oë te kyk, en al die detail van sy lyfie te sien, maak dat ek God se grootheid in die klein dingetjies kan ervaar.”

Neels en Louise het onlangs ’n onvergeetlike reis onderneem wat hulle “Passe en Poorte” noem. Hulle het die majestueuse passe en poorte van die Oos-Kaap en Wes-Kaap verken, van Graaff-Reinet tot by Riebeeck-Wes. Hulle avontuur het hulle oor die kronkelende Lootsbergpas geneem, deur die afgeleë skoonheid van Gamkaskloof, en uiteindelik deur die indrukwekkende Seweweekspoort. Tussenin het hulle talle ander skilderagtige passe en poorte ontdek, elkeen met sy eie unieke landskappe en stories.
Iewers vanuit die klowe van Meiringspoort is Louise herinner dat nie alle skoonheid met ’n kamera vasgevang kan word nie. “Vanoggend was ons lank in Meiringspoort,” vertel sy. “Op ’n stadium sê ek vir Neels dat ek net weer besef dat mens nie alles kan fotografeer wat mooi is nie. Hierdie kranse en rotsformasies is net te groots! Soms is dit nie die foto wat my nader aan God bring nie, maar die kere wat ek Sy grootsheid en almag juis nie kan vasvang nie. Dan word dit ’n ongelooflike mooi herinnering, met dankbaarheid!”
Jy sien, al probeer ons deur fotografie die dieptes van God se skepping te peil, daar altyd ’n dimensie sal wees wat ons begrip, en ons kameras se vermoë, te bowe gaan. “U goedheid Heer kan ons nie peil nie“. Alhoewel ons nie Sy goedheid kan peil nie, kan ons steeds in nederigheid en verwondering voor Hom staan. Die kamera word dus nie net ’n instrument om te sien nie, maar ook ’n middel om te erken dat daar groot verborge dinge is wat net met die oog waargeneem en met die hart beleef kan word. Dit is in hierdie oomblikke van stil verwondering dat ons dieper met God connect – al moet ons in hierdie oomblikke langs die lens verby kyk en sonder kiekieloos aanbid.
