Lees | Luister | Leer | Leef – Oktober 2026
Dr. Marnus Havenga
Daar verskyn gedurig nuwe boeke en podcasts wat predikante kan help om verder te dink oor teologie, bediening en die wêreld waarin ons leef. In Lees | Luister | Leer | Leef deel dr. Marnus Havenga (PSD: Toerusting en Navorsing) van die publikasies en gesprekke wat volgens hom die moeite werd is om raak te lees of na te luister. Soms is dit ’n nuwe akademiese boek, soms iets wat baie direk met die praktyk van bediening te doen het, en soms ’n podcastgesprek wat ’n mens nog lank bybly.
Bedieningsboek
Dave Nienhuis, And the Sea Was No More: Reading the Bible in the Deep (Eerdmans, 2026)
Daar kan gesê word dat die verhaal wat in die Bybel vertel word, begin met God se Ruach wat oor die oerwaters sweef en eindig met die boek Openbaring se verklaring dat daar, met die voleinding van alles, nie meer ’n see sal wees nie. Tussen hierdie begin en einde word daar deurlopend na die see verwys, in etlike Ou-Testamentiese verhale, as ’n terugkerende beeld in ’n groot hoeveelheid Psalms, in die verhale rondom die ontstaan van die kerk (dink bv. aan Paulus se menigte skeepsvaarte), en veral dan ook in verband met Jesus, die een wat onder die “teken van Jona” staan (Matteus 12:39–40; 16:4; Lukas 11:29–30) en wie se hele bediening met verskillende watermassas verbind is. Gegewe ’n onlangse Pinksterreeks oor dié tema van God en die see, het ek die laaste paar maande ongelooflik uitgesien na ’n nuwe boek deur die Nuwe-Testamentikus Dave Nienhuis, wat beloof het om met hierdie motief van die see, waarmee die Bybel deurdrenk is, te werk. Ná die lees daarvan kan ek dit nie sterk genoeg aanbeveel nie.
In And the Sea Was No More bied Nienhuis wat hy noem ’n autobiografiese lees van die Bybel, waarin hy – aan die hand van groot trauma wat hy in sy kinderjare beleef het en ’n voortdurende rondspartel in die “dieptes” wat regdeur sy lewe sou uitspeel – verhale rondom die see in die Bybel verken. Alhoewel die boek duidelik deur ’n gerekende Bybelwetenskaplike geskryf is, en ’n mens telkens verstom staan oor die eksegetiese insigte (of dit nou in die Ou-Testamentiese verhale is of, veral, in Nienhuis se lees van die Markusevangelie en Openbaring), is dit nie ’n akademiese oefening nie. Dit is eerder ’n rou en diep eksistensiële geloofsworsteling en getuienis (oftewel belydenis, in die trant van Augustinus) oor wat dit beteken om in en deur die “dieptes” te beweeg, met Bybelse en teologiese insigte wat deurgaans met persoonlike vertellings, maar ook met digkuns en verwysings na letterkunde en kuns verweef word. Gegewe die tydsgewrig waarin ons ons bevind (met groot angs en, dalk, hartseer wat regoor die wêreld woed), maar sommer ook net die broosheid van menswees (om nie eens te praat van wat dit beteken om in die bediening te wees nie), wat natuurlik nog altyd deel van ons verhaal was, bied hierdie boek aangrypende leesstof wat, dink ek, vir baie mense troostend en hoopgewend kan wees – soos dit ook vir my was.
Akademiese boek
Derek S. King, Theological Attention (Oxford University Press, 2025)
Een van die kernkwessies wat vandag oor ’n groot spektrum van akademiese dissiplines heen, maar ook in vele meer populêre publikasies, bespreek word, is dié van “aandag” (attention in Engels). Die rede daarvoor is natuurlik dat menslike aandag een van die mees gesogte – en winsgewende – hulpbronne van ons tyd geword het, met ’n legio maatskappye (veral tegnologiemaatskappye) wat voortdurend daarom meeding. Aandag is ook belangrik vir sosiale en politieke kragte, wat weet dat – waar ons aandag is – ons gedagtes, harte en dade ook volg. In wat vandag as die aandagsekonomie bekendstaan, word byna alles waarmee ons te doen kry, van ons slimfone self tot dit wat op ons slimfone vertoon word (of dit nou sosialemedia-inskrywings, advertensies of nuusberigte is), dus só ontwerp om ons aandag te trek en dit so lank moontlik te probeer behou. Hierdie poging word veral aangehelp deur algoritmes (wat dit moontlik maak om intyds te voorspel wat waarskynlik ons aandag sal trek) en KI (wat al hoe beter daartoe in staat is om inhoud te skep wat aan hierdie algoritmes se voorspellings voldoen). Die gevolge hiervan is onder andere dat ons – ironies genoeg – al hoe meer sukkel om volgehoue aandag aan iets te gee (aangesien ons aandag die heeltyd gefragmenteer word), en ook dat die fokus van ons aandag in eggokamers vasgevang word, aangesien ons deur algoritmes en KI voortdurend méér van dit aangebied word waaraan ons reeds aandag gee.
Soos gesê, word daar op die oomblik heelwat oor “aandag” geskryf, alhoewel, myns insiens, nog nie genoeg vanuit die kerklike en teologiese wêreld nie. Daar is egter uitsonderings. Een meer populêre boek met ’n Christelike invalshoek wat ek tans lees terwyl ek hierdie rubriek skryf, is die Pulitzer-pryswenner John West se The Internet Will Die, and So Will You: On Learning to Live in Our Digital Age (Eerdmans, 2026), wat wonderlike insigte oor “aandag” bevat. Wat meer akademiese teologiese werk betref, is daar ook Derek S. King se Theological Attention, wat ek graag hier aanbeveel. Daar moet dadelik gesê word dat King – wat sy PhD by St. Andrews gedoen het – in die tipiese analitiese teologiese skool skryf (wat met sommiges by St. Andrews, soos Oliver Crisp, verbind word). Die skryfstyl is gevolglik partymaal oortegnies en redelik gefokus op definisies en die logiese uitbou van een proposisie na ’n volgende. Veral die begin van die boek, waar King skryf oor wat “aandag” is, is dus nie noodwendig die mees meesleurende leesstof nie.
Dit verander egter wanneer King uitkom by sekerlik twee van die mees insiggewende denkers oor “aandag” van die 20ste eeu, die Franse Christelike mistikus Simone Weil en die Oxfordse filosoof en romansier Iris Murdoch, gevolg deur ’n uitstekende hoofstuk getiteld “How Jesus Attends”. Van daar loop die boek oor in ’n baie behulpsame tweede gedeelte wat handel oor aandag en geloofsvorming, en veral fokus op hoe ons nie net word wat ons liefhet nie (soos Jamie Smith, in aansluiting by Augustinus, sou sê), maar ook gevorm word deur dit waaraan ons op ’n volgehoue basis ons aandag (as ’n uitdrukking van ons liefde) gee. King nooi ons uiteindelik uit om – hetsy in die akademie of in die kerk – opnuut oor aandag te dink, en dalk bowenal, te midde van al die afleidings wat bestaan, opnuut ons eie aandag ánders te fokus, veral dan op God en ons medemens.
Podcast
“Why More Americans are Seeking Religion” (episode van The New York Times se The Daily, 12 Mei 2026)
Op 26 September het Pous Leo XIV tydens die eerste pouslike besoek aan Frankryk in 18 jaar, ’n opelugmis op die Place de la Concorde, langs die Champs-Élysées in Parys, gelei. Waar daar aanvanklik 600 000 mense geregistreer het om die geleentheid by te woon, word daar beraam dat daar uiteindelik nader aan 800 000 mense opgedaag het om aan die diens en eucharistieviering deel te neem. Ook die vorige aand, op 25 September, is daar ’n jeugsaamtrek in die Stade de France-stadion gehou, waar 80 000 jongmense die stadion tot barstens toe gevul het. Wat hierdie syfers vir baie kommentators verbysterend maak, is dat Frankryk natuurlik ’n hoogs gesekulariseerde land is. Alhoewel ’n pouslike besoek ’n nuuskierigheid vir baie kon wees, is daar nie noodwendig verwag dat sóveel mense sou opdaag om aan die diens deel te neem nie (en ná die tyd, soos daar in baie beriggewing gesien is, sou bly om saam met priesters en ander in die strate te sing en te bid nie). In heelwat beriggewing word daar dan gewonder of hierdie syfers verband hou met die feit dat Frankryk, ná jare se daling, die afgelope paar jaar byna uit die bloute ’n ongekende groei beleef het in die aantal dope wat in die land plaasvind. In 2026 was daar byvoorbeeld ’n styging van 28% teenoor 2025, en in 2025 ’n styging van 45% teenoor 2024. 42% van die dopelinge in 2025 was dan ook tussen 18 en 25 jaar oud.
Besprekings rondom die hoë bywoningsyfers van dié Franse besoek van Leo XIV, ook met die genoemde doopsyfers as agtergrond, sluit aan by ’n groter gesprek wat tans op baie plekke opnuut gevoer word oor geloof en die kerk in die Weste – ’n gesprek wat gevoer word aan die hand van verrassende anekdotes, veral vanaf kerklui, maar ook navorsing deur byvoorbeeld die Pew-navorsingsentrum. Nou, verhale, en veral ook statistieke, is natuurlik altyd kompleks en selfs aanvegbaar, maar tog is dit só dat baie mense – ook joernaliste by van die groot hoofstroommedia – onverwagse verskuiwings rondom geloof (en die persepsies daaromheen), veral onder jonger generasies, waarneem (of selfs dalk net aanvoel), wat die vraag laat ontstaan of die sekularisasietese, wat die afgelope dekades hoogty gevier het, dalk nie uitspeel soos baie gedink het dit sou nie.
Volgens my is ’n uitstekende podcast oor hierdie tema dié episode van The Daily, die daaglikse ondersoekende joernalistiekprogram van die New York Times, waarin daar in gesprek getree word met die Times-joernalis Lauren Jackson oor wat sy tans rondom godsdiens in Amerika, óór die politieke spektrum heen (iets wat veral fassinerend en belangrik is), waarneem. Veral die verhale wat in die episode vertel word – Jackson s’n self, maar ook die verhaal van ’n jong millennial aan die einde (so maak seker om tot dan te luister!) – is roerend. As dié gesprek vir jou interessant is, kan jy gerus ook kyk na ’n boek soos Lamorna Ash se wonderlike Don’t Forget We’re Here Forever: A New Generation’s Search for Religion (Bloomsbury, 2025).




