Wat bly oor om te sing wanneer die skerms afgaan?
Dr. Diederick Basson
Die gemeente het lankal daaraan gewoond geraak om nie meer uit ‘n liedboek te sing nie. Die woorde verskyn immers op die groot skerms voor in die kerk. Waarom sou ‘n mens nog liedboeke in die kerkbanke hou of jou eie saambring? Totdat die skerms op ‘n Sondagoggend skielik ophou werk. Geen liedtekste nie. Geen projektor nie. En geen alternatief nie. Daar moet inderhaas liedboeke opgespoor word sodat die gemeente kan sing.
Hierdie maand is dit 25 jaar sedert die Liedboek van die Kerk op 28 Oktober 2001 in gebruik geneem is. ‘n Kwarteeu later is dit goed om te vra watter waarde die Liedboek steeds het, maar ook wat verlore kan gaan as dit nie meer deel van ons erediens is nie.
Die gebruik van liedbundels in die erediens het ‘n lang geskiedenis. Een van die eerste Protestantse liedboeke, die Achtliederbuch, verskyn vroeg in 1524 in Duitsland. In Suid-Afrika was die Nederlandse Datheense Psalmboek die eerste liedboek wat in die kerk gebruik is. In 1944 verskyn die eerste Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek, gevolg deur ‘n hersiene uitgawe in 1978. In 2001 verskyn die huidige Liedboek. Tussendeur het bundels soos De Kinderharp, Halleluja, Jeugsangbundel en Sing onder Mekaar verskillende generasies se liedereskat gevorm. Vandag word dié skat verder aangevul deur digitale bronne soos VONKK en FLAM.
Ron Sauerman, ‘n boekbindspesialis aan die Universiteit van Stellenbosch, beskryf ‘n boek as ‘n liggaam wat asemhaal. Dit is iets wat lewe, maar ook lewegewend is. ‘n Liedboek is egter anders as ander boeke. Dit leef in ‘n besondere ruimte: dit verbind aanbidders met mekaar, met hulle tradisie en met God. Dit is tegelyk ‘n gemeenskaplike boek en iets persoonliks: ‘n plek waar mense woorde vind vir wat hulle glo, hoop, vrees en bid.
In The Hymnal: A Reading History (2018) beskryf Christopher Phillips die liedboek as ‘n lidmaatskapskaart van ‘n godsdienstige gemeenskap. Verskillende kerklike tradisies het elk hulle eie liedboeke. Die liedboek is nie net ‘n versameling liedere nie, maar dra ook iets van die geloofsgemeenskap se identiteit.
Vroeër was die Bybel en die lied- of gesangboek deel van baie kerkgangers se “erediensmondering”. Wanneer ek op ‘n Sondagoggend hier in Stellenbosch mense sien wat, deftig aangetrek, met ‘n Bybel en gesangboek in die hand van die plaas af kerk toe stap, raak ek nostalgies – en voel ek selfs skuldig omdat my eie gewoontes anders lyk. Nostalgie is op sigself nie ‘n rede om ‘n liedboek te behou nie. ‘n Liedboek is die spieël van ‘n kerk se liedereskat, maar ook ‘n bron waaruit nuwe praktyke kan ontstaan. Dit bewaar die erfenis, maar slegs as dit gebruik word. ‘n Liedboek wat ongelees en ongesing bly, verloor mettertyd sy plek in die lewe van die gemeente.
Die waarde van ‘n liedboek lê ook nie net in die papier tussen die omslae nie. ‘n Bundel in die hand nooi jou uit om deur die liedere te blaai en die bundel as geheel te ontdek. Wanneer dit gebeur, word verbande tussen liedere, liedtekste en Bybeltekste sigbaar. Jy sien waar die lied in die kerkjaar inpas, maar ook waar ‘n lied liturgies die beste sou tuishoort. ‘n Liedboek wat ook by die huis gebruik word, maak die bundel verder deel van jou alledaagse geloofslewe.
‘n Liedboek dra ook persoonlike en gemeenskaplike herinneringe. ‘n Naam voorin, ‘n datum of ‘n potloodmerk laat ‘n spoor van iemand wat die boek voorheen gebruik het. Dit kan van een geslag na die volgende oorgaan en só deel word van ‘n familie se geloofsreis. Wanneer ‘n gemeente saam sing, ontmoet mense mekaar in teks en melodie. Wat herhaaldelik gesing word, word onthou, aangeleer en aan ander oorgedra – soms sodat dit jare later steeds sonder ‘n boek of skerm herken en saamgesing kan word. Só word die liedere deel van ‘n gemeente se geheue, geloofstaal en gevoel van verbondenheid.
Die argument is egter nie om die skerm af te skakel en na ‘n geïdealiseerde verlede terug te keer nie. Die Liedboek hoef ook nie die enigste bron van kerkliedere te wees nie. Digitale bronne het nuwe moontlikhede vir die kerklied geskep, en daar is geen rede waarom dit nie deel van ‘n lewende, gemeentelike liedereskat kan wees nie. Die vraag is eerder of ons die verskillende bronne só gebruik dat ons gemeente se liedereskat sinvol uitgebrei word, in plaas daarvan dat dit verskraal word. Dit vra van ons om bewus te bly van wát ons sing, wáárom ons sing en sáám met wie ons sing.
Dalk was daardie Sondagoggend, toe die skerms opgehou werk het en die liedboeke inderhaas gevind moes word, ‘n wekroep. Dit wys vir ons iets wat maklik uit die oog verloor kan word: ‘n gemeente kan net sing as daar liedere is om te sing – maar, belangriker nog, as daar liedere is wat deel van die gemeente se geheue geword het en sonder ‘n skerm of ‘n liedboek gesing kan word.
Of die teks dus op papier of op ‘n skerm verskyn, bly die vraag dieselfde: hoe sorg ons dat ons liedereskat lewendig bly?


