Huldeblyk aan ds. Stefanus Albertus Esterhuizen (1 Nov 1941 – 5 Mei 2024)

Ons het onlangs verneem van die afsterwe van ds. Stef Esterhuizen, ‘n man wie se bediening sy merk gelaat het op menige gemeenskap. Hy het sy bediening in 1968 by Ysterplaat begin en het daarna beroepe aanvaar na Kraaifontein in 1972, Vryburg in 1978, en Bellville-Noord in 1983, waar hy in 2011 sy emeritaat aanvaar het.

Die NG Gemeente Bellville-Noord, waar hy vir 28 jaar predikant was, betuig hul dankbaarheid: “Dankie dat u ’n lewende teken van God se teenwoordigheid in die wêreld was. In tye van nood het u ons bygestaan met liefde, insig en begrip. Nooit was dit te veel gevra om langs ons te kom stap in ons swaarkry nie. U bereidheid om vir baie jare in die kerkverband ’n ekstra verantwoordelikheid op te neem is ‘n teken van God se barmhartigheid. Ons sal u onthou as ’n begaafde en entoesiastiese verkondiger van die Woord van God. U het u lewe daaraan gewy om siele vir God te wen. Ons het groot waardering vir die voorbeeld wat u aan ons gestel het.”

Kobus Swarts, wat Stef se begrafnis waargeneem het, deel sy herinneringe: “Persoonlik het ek vir Stef leer ken toe ek saam met hom vir ’n lang tyd op die Ringskommissie gedien het, waar hy as voorsitter opgetree het. Sy rustigheid en wysheid het die kommissie altyd goed gedien in moeilike sake.

Ons vier die lewe van dominee Stef Esterhuizen

Hy was goed ingelig oor wat in die kerk gebeur en het baie mense in die strukture van die kerk geken. Stef het baie lank gedien op die Sinodale Kommissie van Diens van Barmhartigheid. Hy was altyd gereed vir die bediening en betrokke by die kerk en sy strukture. Al was hy soms hardkoppig en onwillig om af te tree, het hy uiteindelik besef wanneer die tyd reg was.”

Hy voeg met ’n glimlag by: “Stef was altyd netjies aangetrek – kraaghemp, das en baadjie. Sy kinders het hom op ’n stadium sover gekry om ook ’n jean te dra, maar dan was die das en baadjie steeds daar. Stef het altyd tyd gehad om ’n grappie te deel – sy humor en glinster in die oog was altyd daar. Hy het groot waarde geheg aan sy gesin en was vir hulle baie lief.”

Stef se dogter, Esta Starks, deel ’n staaltjie wat sy pa se toewyding illustreer: “Toe pa gedurende 1972-1978 predikant in Kraaifontein was, was hy ook betrokke by die bou van Huis Ravensig. Ek onthou van ’n insident waar hy met die bouery op die dak geklim het, afgeval het en sy rug beseer het! Van daar moes hy in 1981 ’n rugoperasie kry in Johannesburg.”

Elize van der Weshuizen, voormalige bestuurder van Chrismar Villas in Bellville, sê dit is vir haar ‘n eer om hulde te bring aan ds. Stef: “Ek het hom in 1997 leer ken toe ek as bestuurder by Bellville Senior Sentrum begin werk het. Hy was as voorsitter van die beheerraad gekies. In die jaar 2000 het ons saam met Marius Wethmar van GHBM aan Chrismar Villas begin beplan en bou. Ds. Stef was ’n uitstekende voorsitter wat alle vergaderings met groot insig, deernis en omgee gelei het. Hy het menige moeilike situasies met sy humor ontlont en het almal met die grootste respek hanteer. Hy was ’n omgeemens wat altyd sy medemens wou help. As voorsitter het hy ons personeel baie ondersteun en het opreg in almal se doen en late belang gestel. Hy het nooit ’n vergadering gemis nie, tensy hy baie siek was. Hy was ’n ware gentleman.”

Sy betrokkenheid en liefde vir mense word verder beklemtoon deur sy optrede tydens basaars: “Na hy die opening waargeneem het, het die mense hom so oorval om met hom te gesels dat sy koppie tee en pannekoek yskoud geword het. Ds. Stef, dit is met hartseer en heimwee dat ons nou moet groet. Ons sal die stewige handdruk, innemende glimlag en grappies mis. Ons gun jou die rus en vrede.”

Ds. Stef Esterhuizen se nalatenskap leef voort in die harte en gedagtes van almal wat hy aangeraak het.