Bid vir Teologiese opleiding en Evangelieverkondiging in die Midde-Ooste

👤 Daniël de Wet

In ons gebedsreeks het ons reeds die afgelope paar weke gebid vir kerke en gemeenskappe in die Midde-Ooste wat diep geraak word deur geweld, onsekerheid en verlies. Ondanks die uitdagings word predikante, teoloë en kerkleiers steeds toegerus om die Evangelie in hul gemeenskappe te verkondig. ’n Belangrike rolspeler in hierdie voorbereiding is die Association of Theological Institutes in the Middle East (ATIME), ’n netwerk van teologiese instellings wat sedert 1967 saamwerk om teologiese opleiding en eenheid tussen kerke in die streek te bevorder.

ATIME bring teologiese instellings uit verskillende kerklike tradisies bymekaar, met die doel om toekomstige kerkleiers toe te rus vir die bediening in ’n konteks van konflik, spanning en onsekerheid. Die fokus is nie bloot akademies nie. Predikante word gevorm om met wysheid, geloof en volharding die Evangelie te kan uitleef en verkondig.

Dié samewerking het onlangs treffend na vore gekom tydens ’n byeenkoms van ongeveer 200 teologiese studente in Kaïro, waar studente en dosente uit verskillende kerklike tradisies in die Midde-Ooste, die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas bestudeer het. In ’n streek waar verdeeldheid dikwels oorheers, was dit ’n besondere getuienis van geestelike verbondenheid en eenheid in Christus.

Baie van hierdie studente berei hulself voor vir bediening in gemeenskappe waar Christene ’n klein minderheid vorm en waar ekonomiese druk, politieke spanning en emigrasie groot uitdagings skep. Tog kies hulle om te bly, te dien en hul lewe aan Christus en Sy kerk toe te wy.

Foto: www.facebook.com/MECChurches

Bid hierdie week:

  • vir teologiese studente in die Midde-Ooste wat voorberei vir die bediening van die Evangelie;
  • vir moed, gehoorsaamheid en geestelike volharding onder jong gelowiges;
  • vir dosente en kerkleiers wat studente begelei;
  • vir teologiese instellings wat onder moeilike omstandighede voortgaan met opleiding;
  • vir die bediening van ATIME en die ondersteuning van die Middle East Council of Churches;
  • dat Christus se kerk in die streek ’n getuienis van hoop, waarheid en vrede sal bly.
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Aanpassing weens klimaatsverandering is nie meer ‘n keuse nie

  • Die eerste nagmaal na die opstanding

  • My magtie, Riaan!