Toegangsroetes na die stilte wat ons vir God oopmaak
Dr. Siegfried Louw
Die liggaam hoor eerste.
Ons is liggaamlike wesens. Wanneer ons God soek, soek ons met hande, voete, asem en vel. Ons soek nie met ’n gees wat van die liggaam afgesonder is nie. Dit is die getuienis van die Skrif, van die kontemplatiewe tradisie, en deesdae al hoe meer ook van die navorsing oor hoe ons senuweestelsels werk. Maar omdat ons elkeen ’n ander liggaam het, hoor ons elkeen op ’n unieke manier. ʼn Spesifieke vorm van stilte wat een siel oopmaak, kan ’n ander siel belemmer. Die roete wat een persoon rustig bewus maak van God, kan ’n ander persoon onrustig of skuldig laat voel.
Hierdie artikel is ’n vereenvoudigde nadenke oor daardie verskeidenheid. Dit is geskryf vanuit die oortuiging dat die ou wysheid van stilte, gebed en ontmoeting met God, bekend as die kontemplatiewe tradisie, ryker is as enige enkele weergawe daarvan. Hierdie rykdom is ’n geskenk aan mense wie se liggame, temperamente en seisoene verskil.
Die liggaam hoor eerste
Die stelling is eenvoudig en het diep wortels.
Antropologies. Die Hebreeuse en vroeë-Christelike verstaan van die mens is nie dualisties nie. Ons is nie siele wat ’n liggaam besit nie. Ons is liggaamlike wesens en alles wat ons “siel” of “gees” noem, is verweef met die vlees. Wanneer Psalm 63 sê “my siel dors na U, my liggaam smag na U” (Psalm 63:2 2020), is die twee nie twee aparte entiteite nie, maar twee maniere om dieselfde gerigtheid uit te druk. Die dors van die siel is word in die lyf gevoel.
Neurologies. Drie dekades se navorsing oor die senuweestelsel het ons ’n nuwe woordeskat gegee vir ’n ou werklikheid. Bessel van der Kolk se The Body Keeps the Score (2014) het wyer bekend gemaak dat trauma in die liggaam gestoor word voor dit in woorde gevang kan word. Stephen Porges se polivagale teorie (The Pocket Guide to the Polyvagal Theory, 2017) wys hoe die outonome senuweestelsel voortdurend die omgewing meet aan die veiligheid of afwesigheid daarvan, lank voor die bewuste gedagtes iets daaroor kan sê. Deb Dana se Anchored (2021) vertaal hierdie werk in toeganklike taal. Die praktiese gevolg is dat, wanneer ons in stilte iets ervaar wat ons nie kan benoem nie (onverklaarbare trane, rusteloosheid, slaperigheid, kortasem), is dit dikwels ons liggaam wat eerste reageer op iets wat die gedagtes eers later sal kan verwoord. Ons voel dit voor ons dit kan sê.
Teologies. Die Woord het vlees geword (Johannes 1:14). Een van God se duideliker maniere om God self bekend te maak, is liggaamlik. Christus is nie ’n geestelike idee nie; Hy is ’n mens met hande, voete, spoeg, trane, honger en dors, bloed en wonde. Die Gereformeerde tradisie het hieroor altyd sterk gestaan: die Heidelbergse Kategismus se Vraag 1 spreek van “liggaam en siel” wat aan die getroue Verlosser behoort. Die nagmaal is liggaamlik. Ons doop is liggaamlik. Die aarde self word, in Paulus se verstaan, verlos saam met die kinders van God (Romeine 8:21). As God se manier van openbaring liggaamlik is, dan is die liggaam nie die laaste een om Hom te ontvang nie. Dit is die eerste.
James K. A. Smith, in You Are What You Love (2016), beklemtoon hierdie punt vir die Reformatoriese tradisie. Ons is fundamenteel liggaamlike wesens wat God liefhet, nie bloot denkende wesens wat oor God dink nie. Liturgie werk op ons, volgens Smith, omdat dit ons liggame vorm: ons kniel, ons staan, ons sing, ons eet, ons raak aan. Hierdie liggaamlike vorming is nie ’n byvoegsel by die geestelike lewe nie; dit ís die geestelike lewe in haar mees onmiddellike vorm.
Wat hieruit volg, is ’n eenvoudige, maar vrugbare perspektief. Die liggaam is nie ’n hindernis vir ons ontmoeting met God nie. Dit is die juiste plek waar daardie ontmoeting plaasvind. En omdat liggame verskil, in temperament, geskiedenis en seisoen, verskil ook die maniere waarop ons hoor.
Die rykdom van die kontemplatiewe tradisie
Die kontemplatiewe tradisie is nie eenstemmig oor stilte nie. Dit is een van haar grootste geskenke: dat sy oor eeue heen verskillende roetes uitgewerk en bewaar het. Elkeen van hierdie roetes dra in haar eie konteks vrug.
Die woestyn
Ons beeld van die woestynvaders en -moeders is dikwels romanties van aard. Ons dink aan hulle as stil figure in grotte. Douglas Burton-Christie se The Word in the Desert (1993) wys dat die werklike lewe van die ammas en abbas ’n digte weefsel was van handwerk, gasvryheid, Skriflesing en kort, duidelike uitsprake. Hulle stilte was nie die afwesigheid van aktiwiteit nie; dit was ʼn spesifieke kwaliteit van aandag bínne aktiwiteit. Die Apophthegmata Patrum, versamel en vertaal deur Benedicta Ward (1975), wys hoe die leermeesters hulle dissipels toegelaat het om mandjies te weef, koord te knoop en wol te spin terwyl hulle die onophoudelike gebed beoefen het. Die liggaam moes aktief wees; net dán kon die gebed in die hart afdaal.
Die hesigastiese tradisie
Die hesigaste van die Oosterse kerk maak hierdie punt nog duideliker. Hesychia, die innerlike stilheid wat die hart van hierdie tradisie vorm, is nie hoofsaaklik bereik deur uiterlike stilsit nie. Dit vind plaas deur die Jesusgebed, gekoppel aan die asem en aan liggaamshouding. Die gebed word herhaal: “Here Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig.” Die gebed word nie “gedink” nie; dit word in die asem ingewerk, in die liggaam gevestig, totdat dit uiteindelik sonder bewuste inspanning voortgaan, soos ’n hartklop.
Kallistos Ware beskryf hierdie proses in The Orthodox Way (1995) as die afdaling van die verstand na die hart. Met “hart” bedoel die hesigaste nie emosie nie, maar die sentrum van die liggaamlike persoon, soos wat die Hebreeuse woord in die Bybelse antropologie ook aandui. Die hesigaste leer dus dat gebed eers liggaamlik moet word voordat dit ten volle geestelik is.
Ignatius en die Westerse tradisie
Ignatius van Loyola, wie se Spirituele Oefeninge nog die raamwerk vorm van baie retraites in ons tradisie, was self nie ’n man van eenvormige stilte nie. Die Oefeninge is verbeeldingsintensief: die retraitganger word genooi om hom/haarself in ’n bybelse toneel in te plaas, die geluide, reuke, kleure, stemme en gesprekke tussen die karakters in te dink. Dit is uiters sintuiglike gebed. David Fleming SJ beklemtoon in Draw Me into Your Friendship (1996) dat Ignatius die verbeelding nie as ’n hindernis vir die ontmoeting met God beskou het nie, maar eerder as ʼn kreatiewe wyse waarop dit gebeur.
Die Reël van Benedictus verdeel die dag tussen ora et labora: gebed en werk. Stilte is een beweging in ’n groter choreografie. Die getye van die dag (Laudes, Sext, Vesper, Completorium) struktureer die tyd in ’n ritme wat aan die liggaam geleer word voordat dit aan die gedagtes geleer word. Henri Nouwen se The Way of the Heart (1981) bly een van die beste pastorale inleidings tot hierdie tradisie en wys hoe presies hierdie ritmiese vorming, en nie slegs intense mistieke oomblikke nie, die kontemplatiewe lewe bewoonbaar maak.
Ons eie Gereformeerde grond
Ook in ons Gereformeerde tradisie is daar bronne wat die liggaam se rol in gebed eerbiedig. Andrew Murray, wie se werke nog wyd in Afrikaans beskikbaar is, skryf in Die binnekamer (vertaal uit The Inner Chamber, 1905) oor ’n innerlike afdaling van die gedagtes na die hart. Dit is ’n beweging wat onverwags met die hesigastiese tradisie resoneer. Sy klem op die Gees wat in die gelowige bid, nie bloot deur die gelowige nie, impliseer ’n liggaamlike pneumatologie.
Eugene Peterson herinner ons in Working the Angles (1987) dat gebed nie ’n professionele tegniek is nie, maar ’n lewensweg. Tegniek kan geleer en bemeester word. ’n Weg kan slegs bewandel word, dikwels op maniere wat ons nie verwag het nie.
Die tradisie hou dus reeds, in haarself, ’n verskeidenheid van toegangsroetes vas: woordloos en met woorde, beweeglik en staties, ritmies en spontaan, sintuiglik en innerlik. Hierdie verskeidenheid is nie ’n verleentheid wat ons moet probeer harmoniseer nie. Dit is ’n geskenk.
Sewe ekologieë van luister
Hoe pas hierdie verskeidenheid by die werklikheid van ons eie verskillende liggame, temperamente en seisoene? Een hulpmiddel is om die toestande waarin verskillende mense ontluik, in plant-beelde te beskryf. Die Skrif self is vol plante: die boom langs waterstrome (Psalm 1), die wingerdstok (Johannes 15), die eike van geregtigheid (Jesaja 61:3), die mosterdsaad (Matteus 13), die seder van Libanon (Psalm 92:13). Hierdie beelde werk omdat plante ons iets leer oor geleidelike groei, oor eie tyd, en oor afhanklikheid van toestande wat ons nie self beheer nie. Dit is wat kontemplatiewe groei ook is.
Wat volg is sewe sulke ekologieë. Hulle is nie diagnoses nie. ’n Varing is nie ’n angssteurnis nie, en ’n olyfboom is nie ’n traumareaksie nie. Hulle is beskrywings van voorwaardes waarin verskillende mense oopgaan. Die meeste van ons is meer as een plant, en die meeste plante oorvleuel met mekaar. Ons herken dalk onsself in een ekologie vandag, en in ’n ander een oor ’n maand. Die metafoor is nuttig wanneer ons dit los hou, eerder as om dit eng toe te pas.
Wat dit vir ons saam beteken
As die liggaam eerste hoor, en as die kontemplatiewe tradisie reeds ’n verskeidenheid van toegangsroetes in haar dra, dan ontvang ons mekaar in ’n gees van geduld en verwondering eerder as om mense met mekaar te vergelyk.
Vrae verander. Ons begin nie met “hoe gemaklik is jy met stilte?” nie, maar met “watter toestande help jou gewoonlik om oop te gaan?” Ons vra uit oor slaap, klankgevoeligheid, beweging, vorige ervarings, die geleefde sin van stilte in die liggaam. Ons vra na liggaamlike inligting voor ons enigiets geestelik voorstel.
Aanbod verander. Daar is meer as een ritme moontlik. Soms begin ’n retraite in gesprek, nie in stilte nie. Soms is die eerste dag ’n dag van slaap. Soms moet ’n mens stap voor jy kan sit; soms het jy die vaste getye nodig voor jy in ongevormde stilte kan rus. Hierdie is wettige ingange tot die tradisie.
Taal verander. “Vind jou toegangsroete na die stilte wat jou vir God oopmaak” sê iets anders as “omhels die stilte.” Dit plaas die sentrum nie by ’n model nie, maar by die siel en by God se werk in haar.
Ons eie luister verander. Ons let op wanneer ons ’n ander siel teen ons eie temperament meet, want ons doen dit almal, soms. Ons leer by die plante wat ons nie self is nie. Ons herken dat ons mekaar oor en weer ontvang: dat die een wat vandag begelei, môre begelei word; dat die een wat oor ’n ekologie skryf, in ’n ander seisoen self in daardie ekologie groei.
Die stilheid waarna ons soek, is uiteindelik nie eenvormigheid nie. Dit is eenheid. ’n Tuin word nie heiliger deur slegs met een soort plant gevul te word nie. Dit word heilig deur versorg te word: elke ekologie word opgelet, elke oopmaak geëer, elke winter vertrou.
En die liggaam hoor eerste.
Verwysings
- Burton-Christie, Douglas. The Word in the Desert: Scripture and the Quest for Holiness in Early Christian Monasticism. Oxford University Press, 1993.
- Dana, Deb. Anchored: How to Befriend Your Nervous System Using Polyvagal Theory. Sounds True, 2021.
- Fleming, David L., SJ. Draw Me into Your Friendship: The Spiritual Exercises — A Literal Translation and a Contemporary Reading. Institute of Jesuit Sources, 1996.
- Murray, Andrew. The Inner Chamber. Oliphants, 1905. (Afrikaanse vertaling: Die binnekamer.)
- Nouwen, Henri J. M. The Way of the Heart: Desert Spirituality and Contemporary Ministry. Seabury Press, 1981.
- Peterson, Eugene H. Working the Angles: The Shape of Pastoral Integrity. Eerdmans, 1987.
- Porges, Stephen W. The Pocket Guide to the Polyvagal Theory: The Transformative Power of Feeling Safe. W. W. Norton, 2017.









