Klipkoppe of steunpilare? Hoe kollegas mekaar kan dra
Dr. Siegfried Louw en ds. Anandie Greyling
Deel 1: Sewe soorte verskille wat kollegaskap moeilik maak, en wat predikante self daaraan kan doen
Dr. Siegfried Louw
Een van die dinge waarmee ek in my werk die meeste te doen kry, is nie soseer konflik tussen predikante en gemeentes nie, maar konflik tussen predikante ónderling. Kollegas verskil, en dié verskille maak dit soms byna onmoontlik om saam ’n gemeente te lei. Predikante weet dikwels nie wat om met kollegiale verhoudinge te maak nie. Soms is dit omdat ons vanuit ’n aanname opdaag: dat kollegas eintlik altyd vriende behoort te wees.
Vriendskap is egter nie die doel van kollegaskap nie. Dit is ook nie ’n voorvereiste vir goeie kollegialiteit nie. Indien ons veronderstel dat kollegas vriende móét wees, en ons ontdek daar is nie warmte nie, noem ons die teleurstelling maklik iets anders. Dan besluit ons dit is ’n teologiese probleem, of ’n “persoonlikheidsbotsing”. As ons die veronderstelde verwagting van vriendskap doelbewus eers eenkant skuif, gee ons al klaar ’n reuse tree. Ons mikpunt is nie in die eerste plek om “buddies” te wees nie, maar werkbare kollegialiteit.
Verskille daag dikwels in twee lae op. Ons het die oppervlakverskille waaroor ons gewoonlik vashaak: teologie, styl, persoonlikheid. En dan is daar die diepteverskille, waaroor ons eíntlik besig is om te stry: waarvoor die bediening bedoel is, en hoe maklik elkeen van ons angstig raak. Die nuttigste vraag wat ’n predikant kan leer om te vra, is: Waaroor gaan dit régtig?
By al sewe die verskille hieronder is die uitnodiging dieselfde: hanteer die verskil as ’n verskil en nie ’n gebrek nie; werk aan jóú kant daarvan; en kom ooreen hóé julle gaan saamwerk, eerder as om te wag totdat julle saamstem of van mekaar begin hou. Dikwels lê daar in die spanning ’n geskenk aan die gemeente, want julle gesamentlike bydrae is groter en wyer.
1. Waarvoor die bediening is (roeping en rolverstaan)
Twee predikante kan ewe getrou wees en steeds na verskillende goeie dinge mik: die een dink die werk gaan hoofsaaklik oor pastorale sorg, ’n ander oor onderrig, ’n derde oor missionale leierskap. Dit word vermom as ’n teologiese stryd, maar dit is dit nie.
Wat jy kan doen: Sê julle werksbeskrywings, soos wat jy dit verstaan, hardop vir mekaar: “Ek dink ons is hoofsaaklik hier om te …” Verdeel dan die veld volgens oortuiging en gawe, nie volgens terrein of ego nie.
2. Teologiese en oortuigingsverskille
Regte teologiese verskille bestaan, maar hierdie kategorie word dikwels misbruik om minder eerbare kwessies te verbloem: seergemaakte gevoelens, ’n beheerstryd, wedywering. Toets dus eers of die meningsverskil régtig teologies is.
Wat jy kan doen: Waar die oortuigingsverskille ’n werklikheid is, kan julle ’n onderskeid tref. Wat is ’n vereiste om saam te kan werk? M.a.w. op watter gemene grond móét julle staan? Skei dit van die sake en oortuigings waar julle onderlinge verskille die gemeente se fokus kan verruim. Eenstemmigheid is nie ’n voorwaarde vir samewerking nie.
3. Spiritualiteit en vroomheidstyle
Nie almal ontmoet en beleef God op dieselfde manier nie. Soms neem ons aan dat ander dieselfde pad moet loop. Die een is woord- en predikingsgerig, ’n ander kontemplatief, nog een aktivisties of begeesterd; hulle praat maklik by mekaar verby, sonder dat hulle teologies verskil.
Wat jy kan doen: Wees eerlik oor die manier waarop jy God beleef, in plaas daarvan om dit as die vanselfsprekende norm te aanvaar. Hoor die ander s’n as ’n ander instrument, nie ’n vals noot nie.
4. Leierskap en missionale transformasie
In ons kerk is leierskap nie ’n kwessie van smaak nie: ons verwag van predikante om ’n gemeente te begelei om te onderskei waar God reeds beweeg, en om haar as gestuurde na haar konteks toe te lei. Die verskil tussen kollegas lê dan selde by “wie is die visioenêr en wie is die bestuurder”, maar by hóé jy jouself teenoor daardie verandering gedra: hoe vinnig, met hoeveel risiko en hoeveel verlies jy bereid is om te dra. Want missionale transformasie bring altyd verlies en weerstand mee, en juis oor die tempo daarvan stamp kollegas teen mekaar.
Wat jy kan doen: Begin by dít wat julle wél deel: roeping is missionale transformasie, nie blote instandhouding nie. Wees dan eerlik oor waar elkeen op hierdie pad staan: die leraar wat die gemeente vorentoe laat waag en die een wat sorg dat niemand agterbly nie, dien dieselfde reis. Verdeel die leierskap van verandering doelbewus, sodat die een se “vorentoe trek” en die ander se “vashou” mekaar versterk, eerder as uitkanselleer.
5. Emosionele reaktiwiteit (differensiasie)
Emosionele reaktiwiteit is dikwels die eintlike oorsaak van al die ander verskille. Hoe vinnig raak jy angstig of defensief, of onttrek jy jou? Dit is nie noodwendig ’n karakterfout nie, maar dit bepaal grootliks hoe ’n verskil hanteer gaan word.
Wat jy kan doen: Jy kan net jouself reguleer. Die een ding heeltemal binne jou beheer is jóú reaksie; om jou eie angs te verlaag, doen meer vir die verhouding as enige veldtog om die ander te verander. En angs lyk nie altyd net soos iemand wat vinnig, impulsief of bewerig opdaag nie. Angs kan die vorm aanneem van iemand wat stewig alle prosesse wil vashou. Dan lyk dit na kalmte en beheer, maar alle beweging stol. Kan jy jou eie angstigheid in jouself herken, of sien jy net jou kollega s’n raak?
6. Grense en werksverwagtinge
Hieronder skuil ook wat mense gewoonlik “persoonlikheid” noem: werkstempo en kommunikasiestyl (direk teenoor indirek). Onuitgesproke verwagtinge word later verwyte.
Wat jy kan doen: Onderhandel die praktiese goed duidelik: beskikbaarheid, wie hanteer wat, en hóé julle ’n probleem gaan opper: reguit met mekaar, nie deur die kerkraad of die gemeente nie.
7. Wedywering (die verskil wat ons nie graag noem nie)
Vergelyking. Wie kry die “groot” of “belangrike” eredienste; wie se bediening lyk of dit floreer; wie word deur ander mense aangehaal? Dit is die mees ontkende verskil, en juis daarom die mees ondermynende een. Want dít waaroor ons nie eerlik is nie, kan ons nie hanteer nie.
Wat jy kan doen: Noem dit eerlik, al is dit eers net vir jouself, en al is dit ongemaklik. Afguns wat ’n naam kry, verloor die meeste van sy mag.
Al sewe hierdie verskille is nie noodwendig foute wat reggemaak moet word nie, maar werklikhede wat bestuur moet word. ’n Groot deel daarvan lê by die predikante self, by hoe elkeen sy of haar eie kant van die verskil hanteer. Maar nie alles nie. ’n Gemeente, haar leiers en die Diensverhoudingekommissie speel ’n beslissende rol in of hierdie verskille tot ryper samewerking of tot skeuring lei. Dáároor gaan Deel 2.
Deel 2: Klipkoppe of steunpilare?
Ds. Anandie Greyling
In Deel 1 is sewe verskille bespreek wat kollegaskap in ’n predikantespan moeilik kan maak. Kollegas het ’n verantwoordelikheid om self met mekaar te praat. Maar wanneer die leierskap van ’n gemeente verneem dat kollegas mekaar nie meer hoor nie, het hulle ’n belangrike rol om te speel.
Hier is sewe maniere waarop ’n kerkraadsvoorsitter en ’n Diensverhoudingekommissie (DVK) steunpilare kan wees:
1. Skep veilige ruimtes
’n Goeie beginsel is: ons praat met mense en nie oor hulle nie. Indien jy hoor dat kollegas op ’n manier van mekaar verskil wat hul kollegaskap belemmer, moedig hulle persoonlik aan om eerstens met mekaar te praat. Indien hulle voel hulle kan nie, of reeds probeer het, kan die kerkraadsvoorsitter of DVK help om die gesprek te prioritiseer en ’n geskikte tyd en ruimte daarvoor te skep.
2. Noem die verskil by die naam
Is dit ’n verskil oor roeping, teologiese oortuigings of grense? In Deel 1 word sewe moontlike verskille bespreek, met voorstelle oor hoe kollegas daarmee kan werk.
’n Beginsel uit narratiewe terapie is dat die persoon nie die probleem is nie. Noem die verskil by die naam en vermy om die persoon die probleem te maak. Dit kan ook van waarde wees om te onthou dat kollegas wat van mekaar verskil, nie ’n probleem hoef te wees nie.
3. Verlaag die angs
Wanneer spanning tussen kollegas opduik, help dit nie as die gemeente se leierskap self angstig raak nie. Verskil beteken nie noodwendig dat daar ’n krisis is nie.
Kollegas hanteer spanning verskillend. Een wil dadelik praat; ’n ander moet eers gaan dink. Skep genoeg tyd en ’n duidelike fokus vir die gesprek. Dit kan help om vooraf twee vrae te gee waaroor die kollegas op ’n afgespreekte tyd kan gesels. Só weet almal waaroor die gesprek gaan en word niemand onkant gevang nie.
4. Die verwagtinge oor kollegaskap
Wat verwag ons eintlik van kollegas? Wat bedoel ons met kollegaskap? Dit is nie noodwendig vriendskap nie.
Skep doelbewus ’n spanbougeleentheid waar die predikante, of selfs die hele personeelspan, kan praat oor hoe hulle wil hê kollegaskap moet lyk. Gebruik kaarte of prente uit tydskrifte, of laat elkeen ’n beeld kies wat goeie kollegaskap vir hulle uitbeeld.
Só gee die span saam taal aan die soort kollegaskap waarna hulle streef, eerder as om met verskillende, onuitgesproke verwagtinge te werk.
5. ’n Eksterne fasiliteerder
Indien kollegas reeds met mekaar probeer praat het en die DVK ook reeds ’n veilige ruimte probeer skep het, kan dit sinvol wees om ’n eksterne fasiliteerder te betrek. Die DVK kan help deur te sê: “Hierdie kollegaskap is belangrik en daarom wil ons ’n eksterne fasiliteerder in die gesprek nooi.” Die fasiliteerder is nie ’n skeidsregter nie, maar poog om ’n ruimte te skep waarin ’n konstruktiewe gesprek kan plaasvind.
6. Die sisteem en kultuur
Ons vra soms: “Wat is fout met die predikante?” Dit is moeiliker om te vra: “Wat gebeur in ons gemeente en leierskap wat die spanning tussen kollegas versterk?” Die manier waarop ons in vergaderings of in gange oor predikante en personeel praat, vorm ’n kultuur. Watter waardes kan bydra tot die skep van ’n teenkultuur wat kollegas, met hulle verskille, vier en ondersteun?
7. Bou ’n DVK-span
’n DVK hoef nie net een of twee mense te wees wat arbeidsreg en kerkreg goed ken nie. Daardie kennis is belangrik, maar ’n DVK het ook ’n proaktiewe en voorkomende rol. Die DVK kan gereeld by die predikante en personeel inloer, nie net wanneer daar ’n beroep, ’n arbeidskwessie of ’n krisis is nie. Dink gerus wyer oor wie deel van die DVK is en oor die roeping van hierdie span.
Ons hoef nie klippe te gooi omdat kollegas van mekaar verskil nie. Om moeilike gesprekke te voer, is deel van menswees, saamwerk en onderskeiding. Die kerkraadsvoorsitter en DVK kan juis steunpilare wees wat help om hierdie verskille vas te hou en selfs te vier.
Dalk is dit waar klipkoppe steunpilare word: wanneer ’n span se unieke bydraes gevier en ingespan word om die gemeente en God se koninkryk te dien.


