Zikomo-woonstelle in die mark
👤 Kaapkerk Kommunikasie
“Verandering is nie altyd maklik nie, maar dit bring dikwels nuwe moontlikhede. Met dankbare harte betree ons ‘n volgende fase vir een van ons sinodale geboue. Die Zikomo-woonstelle in die Strand het oor die jare ‘n onskatbare rol gespeel in ons sinode se werksaamhede en gasvryheid,” so skryf Daniël de Wet van Afrika Ekumene.
Die woonstelblok in Sarel Cillierstraat, Strand is tans in die mark. Die drie-verdieping gebou beskik oor elf woonstelle, ’n konferensiekamer en kombuis met verskeie stoorkamers en buitegeboue. Sommige van die woonstelle het ’n see-uitsig.


“Die besluit om die eiendom te verkoop is nie ligtelik geneem nie, maar na deeglike oorweging. Die besluit is geneem om volhoubare en verantwoordelike finansiële bestuur te verseker. Die groeiende behoefte aan groot opgraderings is ook in ag geneem.
Die woonstelblok oor die jare ’n onskatbare rol gespeel in ons sinode se werksaamhede en gasvryheid. Ons is veral dankbaar vir die betekenisvolle bydrae wat dit gelewer het deur huisvesting te bied aan ons sendelinge en ander ekumeniese vennote.
Ons hoop om steeds in die toekoms, soos tans, voorsiening te maak vir bekostigbare vakansieverblyf vir ons oud-sending personeellede, wat afgetree het in diens van die NG Sinode van Wes-Kaapland. Ons is dankbaar oor alternatiewe akkommodasie wat beskikbaar is. Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington behoort ook aan ons sinode en bied reeds ‘n verwelkomende ruimte, ook vir talle sendelinge en ekumeniese vennote. Ons sien uit daarna om hierdie vennootskap verder te versterk.
Met dankbare Zikomo-herinneringe, sien ons met verwagting uit na die toekoms en vertrou dat hierdie nuwe seisoen ons werksaamhede sal versterk om die Here steeds met ywer te dien.”
Die voorgeskrewe tendervorms vir aanbiedinge kan by Van der Spuy & Vennote se webwerf www.vdslegal.co.za afgelaai kan word. Foto’s van die woonstelle kan ook op die webwerf besigtig word.Skriftelike tenders in verseëlde koeverte, duidelik gemerk “Erf 21217 Strand”, moet voor 11:45 op 30 Junie 2025 by Van der Spuy & Vennote, Thomstraat 36, Paarl ingehandig word en sal daar om 12:00 in die openbaar geopen word. Die NG Kerk in Suid-Afrika behou die reg voor om in sy uitsluitlike diskresie enige of geen aanbod te aanvaar nie.
Navrae rakende die eiendom kan gerig word aan Marius de Jager (082 774 5740; marius@vdslegal.co.za).


