Bid & Beleef hoe Psalms jou hart raak
👤 DJ Muller
Met ‘n lekker sterk koffie in die hand gaan sit jy om ‘n tafel in Clairvaux skrywershuis by die Andrew Murray Sentrum in Wellington saam met nog mense wat saam in ‘n psalm wil reis. Wanneer jy die eerste keer die dag se psalm lees, voel dit vreemd – eintlik so bietjie verwyder van vandag. Die meeste van die sinne klink asof dit óf die vanselfsprekende verkondig óf ‘n wenk tot ‘n dieper betekenis verklap. Alles maak nie heeltyd sin nie, maar tog hoor die hart wat hy moet hoor.
As jy met ‘n psalm van net so onder die 700 woorde (soos Psalm 107) iewers in die Donkiebos gaan sit om ‘n Haikoe te skryf, is die eerste gedagte: “Waar begin ek en waar eindig ek?”
Jy beredeneer die belangrikheid en betekenis van verse, soek na ritme en rym, wonder oor beelde en skuif tussendeur na ‘n groter skadukol onder die boom. En dan gee jy oor, amper asof jy handdoek ingooi, want iets so eenvoudig soos ‘n psalm, is toe nie so eenvoudig nie en het jou heeltemal uitoorlê.
Die wonderlikste ding gebeur juis op hierdie oomblik. Die psalm begin saggies met jou praat en voor jy weet is die diepte en rykdom van dié psalm in lettergrepe van 5 – 7 – 5 voor jou uitgepak. ‘n Haikoe. Of ‘n lied. Of ‘n stuk kunswerk waarvan jy jou ander retraitegangers kan vertel. Nadat julle ervarings gedeel het. gaan jy huis toe as iemand wie se honger gestil is en nuwe lewenskrag ervaar.
Dít is wat ‘n retraite oor ‘n psalm met jou doen. Ds. Nico Viljoen bied gereeld by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit hierdie tipe retraites aan. Hulle noem dit: “Bid en Beleef Psalms”. ‘n Spesifieke psalm word elke keer behandel. Dit is nie akademies van aard nie. Retraitegangers se ervarings is eerder dié van geloofsgroei en kontemplasie.
Dit bied ‘n besondere geleentheid vir stilwees, waarin ‘n mens regtig op verskillende maniere iets van die psalm (en van jouself) kan ontdek. Dit help jou ook om dinge oor God, jouself en die lewe te ontdek.
Só ‘n retraite is ‘n impakvolle halfdag ervaring en ‘n tipiese program begin om 07:30 met ‘n kapeldiens en koffie en vrugte om 08:00. Om 08:15 kom retraitegangers in Clairvaux skrywershuis bymekaar. Nadat daar met die psalm tyd spandeer is, word die oggend afgesluit met ‘n heerlike middagete.
Die vloei van die tyd wat spandeer word met die psalm lyk so:
Klik op die prent om te vergroot.
Besoek die webwerf van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit om meer te wete te kom oor toekomstige Bid & Beleef Psalms Retraite.
Koste:
R270 (met middagete)
R100 (sonder middagete)
Besprekings: admin@andrewmurraysentrum.co.za