Die spiritualiteit van begeerte: 5 insigte oor geloof en liefde

Willem Smit

Spiritualiteit gaan oor God. Dit gaan ook oor mense. Dit gaan oor die vraag: Hoe beweeg en lei die “Spirit” (Heilige Gees) ons in dieper verhoudings met God, onsself, mekaar en die skepping in? Dit vra die vraag oor wat in God se hart gebeur en hoe dit in ons lewens resoneer en uitspeel. Of net: Waar is ons hartklop in ritme met God se hartklop … en andersom?

Deur die eeue was en is daar verskillende persepsies en oortuigings ten opsigte van die begrip begeerte. Die Boeddha leer dat begeertes die wortel van alle lyding is. As ons daarin kan slaag om deur gefokusde dissiplines al ons begeertes uit die weg te ruim, sal ons ontslae wees van lyding. In die Christelike tradisie was daar ook ontwikkeling in verskillende rigtings. Daar was die woestynvaders en -moeders wat, nadat die Christelike godsdiens as staatsgodsdiens verklaar is en dit “’n maklike mode” geword het om ’n Christen te wees, die woestyn ingevlug en in grotte gaan woon het waar hulle in afsondering – weg van alle wêreldse begeerte – net op God en gebed kon fokus. Daar kon hulle met die lyding, armoede en eenvoud van Jesus assosieer en vry wees van alle “wêreldse” verleiding en begeerte. Die kloosterkultuur van onttrekking uit die wêreld en die lewe in die askese van armoede, eenvoud en selibaat is waarskynlik deel van hierdie beweging.

Die vraag na die menslikheid en waarde van begeerte het egter nie verdwyn nie. Ignatius van Loyola het in sy Exercises (riglyne vir ’n lewe met God) die werklikheid en waarde van begeerte heroorweeg. Vir Ignatius is begeerte ’n normale en belangrike menslike ervaring, aangesien alles deur God aan ons geskenk is – ook die vermoë om te begeer. Die vraag is hoe ons hierdie geskenk van begeerte gebruik tot eer van God en die opbou van verhoudings. Ignatius stel voor dat ons ons begeertes eerlik herken, erken en waardeer. Wat belangrik is vir gelowiges, is om te onderskei tussen begeertes wat jou nader aan God lei en dié wat jou van God af weglei.

Ignatius skryf (my vrye vertaling): “Alle dinge in hierdie wêreld is geskenke van God wat aan ons gegee word om God self beter te leer ken. Ons enigste begeerte en ons persoonlike keuse moet wees: Ek wil daardie dinge kies wat my beter lei in die rigting waar God sy lewe in my verdiep.”

Kontemplatiewe spiritualiteit lê groot klem op die belang van begeerte (desire). In ons Afrikaanse kulturele konteks het die begrip begeerte ’n sterk nuanse van die aantrekkingskrag van menslike plesier en spesifiek die seksuele. Vir sommige “vromer” gelowiges voel dit onvanpas om begeerte en geloof in een asem te bedink of te bespreek. Ons probeer dit vervang met sagter sinonieme soos behoefte, hunkering, strewe, verlange of smagting. Tog lê die begrip begeerte – in die Bybel en Christelike tradisie – in die hart van Bybelse en Christelike spiritualiteit. Dit is dalk beter om dit nie af te water ter wille van “kuisheid” nie. Begeerte het nie net met die hunkering na (“sondige”) plesier te doen nie. Dit is baie wyer en dieper as dit.

Begeerte begin in God se eie hart

Begeerte begin in God se eie hart. God is in sy wese as Triniteit in verhouding met Homself. God begeer verhoudings. Vader, Seun en Heilige Gees begeer verhoudings, met Mekaar en met ander. So sterk is God se verhouding met Homself dat drie Persone eintlik Een is. God se begeerte na liefde is nie net op Homself gerig nie, maar ook op die ander. Hierdie “ander” is onder andere die mens. Die mens is vir God die betekenisvolle ander op wie Hy sy oorvloedige liefde kan uitstort. Hy skep dus die mens met die vermoë om sy liefde te kan ontvang en te kan beantwoord.

Dalk is dit die diepste betekenis van ons “beeld van God” wees: om ’n persoonlike iemand te wees wat “soos” God met liefde in verhoudings kan leef en floreer. Ons ware self (soos God bedoel het ons moet wees) word net gevind en geleef in verhoudings. Ons is geskep om God se liefde te kan ontvang en te kan beantwoord. Die mens is iemand wat liefgehê kan word en kan liefhê. Dus iemand wat in verhouding met God, die self, ander mense en die skepping kan leef – juis as aardlinge wat na God aard! God is liefde. Menslikheid is liefde. Want ons is “beeld van God”.

Dit is, glo ek, God se “begeerte”: ’n intieme liefdesverhouding met die alles en almal van sy skepping. Maar veral – so glo ons – lê God se verhouding met mense vir Hom die naaste aan die hart. God begeer om te midde van sy volk te woon, om by hulle te wees soos Psalm 132 dit stel: “13 Ja, die Here het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: 14 ‘Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit.’” God begeer die intieme teenwoordigheid by sy mense. Die ou volk het daarom altyd geglo God woon in die tent, die tabernakel en die tempel … tussen en by hulle. So ken hulle God as die Een wat by en naby is. In Lukas 22 verklaar Jesus ook sy diep begeerte om saam met sy volgelinge te wees: Lukas 22:15: “Toe sê Hy vir hulle: ‘Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly.’”

Dalk is dit daarom dat die verhouding tussen God en sy volk dikwels – en nie toevallig nie – vergelyk word met die verhouding tussen mense in die huwelik. Dink maar aan die Ou-Testamentiese verwysings na die volk van God as “vrou” van God wat in die Nuwe Testament verder uitvloei na die kerk as die “bruid” van Christus wat wag op haar Bruidegom en afwagtend uitsien na die Bruilofsmaal van die Lam.

Dink ook aan die arme profeet Hosea wat met sy eie mislukte huwelik die ontrou van die volk teenoor hulle Eggenoot, God (!), moet demonstreer en publiek ten toon stel. Onthou ook die rol van die woestyn in die Ou Testament wat nie net die plek van godverlatenheid was nie, maar ook die plek waar die volk weer hulle verlange na God kan herontdek en waarheen God sy geliefde “vrou” neem om sy liefde aan haar te verklaar en sy verbondstrou telkens aan haar te herbevestig. Dink ook aan die boek Hooglied met sterk ondertone van seksuele begeerte wat dalk ook ’n bepaalde intimiteit tussen God en sy mense verteenwoordig!

Die wet sê dat God “jaloers” waak oor sy verhouding met sy verbondsvolk. Geen ander gode word dus verdra nie! Augustinus het gesê dat God ons VIR HOMSELF geskep het. Ook dat God ons geskep het met ’n “God-shaped hole” of vakuum in ons harte waar daar net vir Homself plek is. En dat ons harte onrustig sal bly soek totdat dit rus vind in God. Beide Augustinus en Ignatius, en miljoene gelowiges ná hulle, het die onrustige soeke en genadige “tot rus kom in God” in hulle eie lewens ervaar.

Kan ons byvoeg: God soek ook “onrustig” na ons totdat Hy tot rus kom in sy eie plek wat Hy net vir Homself in ons harte geskep het? Ek vermoed die Johannesevangelie sal dit bevestig. Die eerste en bronbegeerte is dus God se begeerte na liefdevolle verhouding: sy liefdevolle verhouding in sy Trinitêre Self en sy liefdevolle verhouding met ons (en alles!). God is die primêre Soeker wat nie rus totdat ons tuisgekom het in sy eie Trinitêre gesinslewe nie. Johannes (Johannes 15) rig ons verbeelding op die wingerd waar die kragtige “Ek in julle en julle in My …” betekenis kry.

Direk ná die sondeval kom God na Adam en Eva wat skaam en bang wegkruip. God se woorde aan hulle is: “Waar is jy/julle …?” In die Nuwe Testament is God die Soeker wat soos die herder soek na sy een verlore skaap en die vrou wat soek na haar een verlore munt … totdat dit gevind is! Onthou ook die aangrypende verhaal van die pa wie se hart onrustig, soekend wag totdat sy verlore seun terugkom, hom tegemoet hardloop en omhels. Eers dan is daar rus en vreugde in beide pa en seun se harte! Vanuit sy diepste begeerte soek God na ons en vanuit ons diepste begeerte soek ons na God. Om God te vind en deur God gevind te word, is uiteindelik dalk presies dieselfde!

Ons diepste begeerte is na God

Ons as mense is geskep om ’n intieme verhouding met God te begeer. Ons diepste verlange is na God self. Jesaja 26:9: “Met my hele wese smag ek na U in die nag, ja, my gees in my binneste soek na U.” Dit herinner ons weer aan Augustinus se bekende uitspraak dat die mens se hart onrustig sal bly soek totdat dit rus gevind het in God.

Die bekendste metafore vir begeerte in die Bybel is sekerlik honger en dors. Voedsel en drank word dus die metafore vir die bevrediging van ons diepste begeertes. Die volk se woestynbesoeke is dus ook ’n bewuswording van hulle afhanklikheid van en smagting na God se versorging deur die ervaring van fisiese honger en dors. Hulle is honger vir kos en dors vir water, maar hulle diepste honger en dors is na God en sy liefdevolle versorging.

Min Skrifgedeeltes beskryf dit meer treffend as Psalm 63:

“1 ’n Psalm. Van Dawid. Toe hy in die woestyn van Juda was. 2 God, U is my God, na U soek ek; my siel dors na U, my liggaam smag na U in ’n droë, uitgeputte land sonder water. 3 So het ek uitgesien na U in die heiligdom, om u krag en glorieryke teenwoordigheid te ervaar, 4 want u troue liefde is beter as die lewe. My lippe sal U roem; 5 so sal ek U prys in my lewe; in u Naam sal ek my hande ophef. 6 Asof van binnevet en die vetste dele word ek versadig; en met jubelende lippe bring my mond lof 7 as ek aan U dink op my slaapplek, as ek in die nagwake oor U prewel. 8 Want U was vir my tot hulp, en in die skadu van u vlerke jubel ek. 9 My diepste wese is aan U verknog …!”

Dan ook die bekende woorde van Psalm 42:2-3: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God.”

In Johannes 6 vermeerder Jesus gewone voedsel sodat gewone mense met gewone honger gevoed kan word. Pas daarna bied Jesus Homself aan as voedsel en drank wat ons diepste honger en dors les en ewige lewe gee.

Johannes 6:48-58: “48 Ek is die brood van die lewe. 49 Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. 50 Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: 51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.” 52 Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53 Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. 54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. 55 Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. 56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. 58 Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.”

Jesus bied Homself ook aan as water vir die mens se diepste dors. In Johannes 4 lees ons die aangrypende verhaal van die Samaritaanse vrou se ontmoeting met Jesus by die put. Hier maak Jesus haar bewus van haar diepste dors – nie na water nie, maar na die lewende water van die lewende God. Lees gerus weer die verhaal in Johannes 4 ’n paar keer deur en gaan dompel jouself saam met hierdie vrou in die fontein van lewende water.

Die mens se diepste begeerte – ons honger en dors – is na God. En God bied Homself – sy eie lewe – aan vir elkeen wat “honger en dors” na Hom. Want ons begeertes – ons honger en dors – is vir God belangrik. In 1 Konings 3:5 vra God in ’n droom vir Salomo: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” Salomo se wyse keuse was om wysheid te kies en God was baie gelukkig daarmee! Dit is vir God goed om te ervaar dat sy kinders goeie begeertes het!

Ons begeertes bepaal die rigting van ons lewe

Ons het egter ook ons eie gewone menslike begeertes en ook dit is vir God belangrik, want Hy weet dat dit die dryfveer vir ons lewens is. Daar is ’n bekende waarheid (J. Smith): “You are what you love.” Ek stem saam en sê: “We are what we desire.” Of: “Ons word wat ons begeer.” Ons begeertes bepaal die rigting van ons lewe. Daarom fokus Jesus ook deur sy aardse bediening op mense en hulle begeertes. Vir Bartimeus vra Jesus in Markus 10: “Wat wil jy hê …?” God stel belang in dit wat ons wil hê! God is in ons begeertes besig om ons begeertes te belyn met sy begeertes vir ons.

Natuurlik is ons begeertes (desires) en die manier waarop ons ons begeertes vervul, nie alles ewe goed of Godgerig nie. Dikwels probeer mense die “God-shaped hole” in hulle lewens volstop met “junk and addictions” soos rykdom, mag, oppervlakkige plesier, ensovoorts. Dit lei noodwendig tot groter onrus, onvervuldheid, betekenisloosheid en ’n gevoel van leegheid.

Dink net hoe Paulus, in die lig van sy eie “tot rus kom” in Christus op die Damaskuspad, sy vroeëre geestelike prestasies (wat sy begeertes weerspieël het) in Filippense 3 beskryf as “betekenisloos, waardeloos, verwerplik, skadelik, verlies”. Begeertes kan as sodanig opbouend of afbrekend wees; wins of verlies. Daarom is dit baie nodig om fyn te onderskei (discern) watter begeertes ons na God toe lei en watter ons van God af weglei.

Om ons begeertes te evalueer, het ons die genade van onderskeiding (discernment) baie nodig. Die onderskeidende vraag is altyd: Watter begeertes lei my nader aan of weg van God, my ware self, ander mense en die wêreld? Vir gelowiges is dit nie te moeilik om te onderskei tussen reg en verkeerd of tussen sondig en heilig nie. En ons kan aanneem dat gelowiges meestal ten minste die voorneme (intensie) sal hê om teen die “verkeerde” en vir die “regte en heilige” dinge te kies. Dit word moeiliker wanneer ons moet onderskei en kies tussen wat goed en wat beter is.

Verskillende soorte begeertes

Daar is natuurlik baie soorte begeertes wat na ons toe kom en in ons leef. Ons kan ten minste die volgende kategorieë begeertes onderskei (vir eers benoem ek dit net, en dit is nie ’n volledige lys nie):

  1. Hedoniese begeertes (hedonic desires): Die begeerte na plesier.
  2. Eudaimoniese begeertes (eudaimonic desires): Die begeerte na sinvolheid en betekenis.
  3. Eksentrieke begeertes (eccentric desires): Die begeerte na erkenning en “applous” van buite.
  4. Intrinsieke begeertes (intrinsic desires): Die begeertes na verryking van jou menswees met die waardes waarin jy glo.
  5. Na-aapbegeertes (mimetic desires): Die begeerte om soos ander te wees.
  6. Uiteindelik kan ons, op voetspoor van Ignatius, onderskei tussen “geordende begeertes” (ordered desires) wat op hulle “plek” en onder beheer is, en “ongeordende begeertes” (disordered desires) wat buite beheer is en “op hulle plek” gesit moet word.

As ons eerlik genoeg is, sal ons waarskynlik al hierdie begeertes in onsself kan identifiseer. Dit sal afhang van baie dinge wat die landskap vorm wat ons “omstandighede” noem. Dinge soos ekonomiese lewenstandaard; ouderdom; gesondheidstoestand; waar ek woon en werk; wie my vriendekring is; my politieke oortuiging; my waardes en geloof; kultuur; taal; persoonlike voorkeure; die seisoen van my lewe, ensovoorts. Letterlik enigiets kan ’n invloed hê op wat en hoe ek begeer. Tog moet ons erken dat dit ’n “normale” menslike verskynsel is: ons begeer almal, dit is ’n feit. En hierdie stuk is ook nie bedoel om enige waardeoordeel oor enige begeertes uit te spreek nie. Dit probeer net die raamwerk gee waarbinne ons ons eie begeertes kan “orden” volgens (vir gelowiges) God se wil.

Die belangrike vraag is nou: Hoe herken ons hierdie begeertes in ons eie lewe en in ons samelewingsverbande? En hoe onderskei ons (à la Ignatius) tussen “geordende begeertes” en “ongeordende begeertes”? Verder veral: Hoe onderskei ons tussen begeertes wat ons in die rigting van God, ons ware self, ons medemense en die skepping lei en begeertes wat ons vervreem (weglei) van God, ons ware self, ons medemense en die skepping?

Die belangrikste onderskeidende beginsel kan eintlik niks anders wees as die liefde soos ons dit by Jesus geleer het nie. Want God is liefde en God begeer liefde. Liefde vir God, vir myself, vir ander en liefde vir die skepping. Dus liefde en waardering vir alles en almal wat God gemaak en gegee het. Daardie soort liefde (wat ons by Jesus sien en leer) wat gaan oor selfopoffering, diensbaarheid aan die belang van ander, die soeke na geregtigheid, gerigtheid op die eer van God, respek en waardering vir mekaar, genade, barmhartigheid, vrede, ensovoorts.

Rooiligbegeertes: Begeertes wat onderskeiding vra

Ek vermoed dat, indien liefde as toets aangelê word, die volgende begeertes die rooi ligte kan laat aangaan as dit nie op hulle plek gesit en “georden” word nie! Kom ons noem dit sommer vir die oomblik “rooiligbegeertes”.

Hedoniese begeertes

Dit is die begeerte na plesier. Die smagting na alles wat net vir myself lekker is. As sodanig is die ervaring van plesier ’n goeie Godgegewe ervaring – hoe vervelig sou die lewe sonder enige plesier nie wees nie! Wanneer plesier egter “buite beheer” en ’n doel op sigself raak, gaan die rooi ligte aan. Dink byvoorbeeld aan die advertensiewese wat nogal voed op hedoniese begeerte deur dinge aan ons te smous met die verskuilde belofte dat dit ons gelukkiger, gesonder, mooier en beter sal maak. Dat dit ons lewe lekkerder sal maak. Hierdie aanbod verloor egter gou die beloofde glans saam met al die geld wat ons daaraan bestee het!

Hedoniese begeerte moet nie verwar word met die hunkering na geluk of vreugde nie. Hierdie begeertes het te doen met die eksklusiewe smagting na eie plesier. Daar is ’n verskil tussen plesier en geluk of vreugde. Dit is gewoonlik ’n mistasting om te dink dat die ervaring van plesier sal lei na ’n vreugdevolle, gelukkige lewe. Dikwels is die teenoorgestelde eerder waar. Hierdie soort begeerte is ook gevaarlik wanneer dit gryp na plesier wat ten koste van die menswees en waardigheid van ander mense geskied. Ook wanneer plesier “ontgin” word ten koste van die skepping, moet dit sterk bevraagteken word.

Alle mense het die begeerte na persoonlike plesier. Dit mag net nooit ten koste van enigiemand of enigiets anders of tot oneer van God wees nie. Die onderskeidende vraag is: Hoe is dit onder die beheer van en getem deur die liefde wat Jesus ons geleer het? En natuurlik: Wat is die trajek of uitkoms daarvan? Waarheen neem dit my? Lei dit my nader aan God, aan my ware self, ander mense, die wêreld en skepping, of lei dit my weg van God en my ware self, ander mense, die wêreld en die skepping?

Eksentrieke begeertes

Dit gaan oor die begeerte na erkenning, prestasie, sukses en applous van buite. Die bevrediging van hierdie begeertes voed die ego. Die oorweldigende strewe na rykdom, invloed en mag vind sy oorsprong en stimulus meestal hier. Ons sien hierdie begeertes uitspeel in die gemeenskap waar mense meeding om sosiale, ekonomiese en veral politieke posisie en mag. Dit is gewoonlik baie selfsugtig en vernietigend wanneer dit ten koste van ander is.

Weereens is eksentrieke begeertes ’n gewone menslike behoefte. Ons het almal die hunkering na goedkeuring. Ons is van kleins af in kompetisie met ander en wil graag wen en “beter” wees. Dink aan skole se beloning van prestasie en ouers wat baie druk op kinders plaas om “hoogtes” (wat hulle self dalk nie kon haal nie) te bereik. Ons hou van applous. As sodanig is goedkeuring en erkenning nie noodwendig verkeerd nie. Dit gebeur egter dikwels dat mense (veral kinders) swig onder die verwagtings en druk van ander om te presteer. Dit gebeur ook in ons samelewing dat mense op ander trap om “bo” uit te kom; dat mense mekaar as “trappe” gebruik om hoër te klim. Dan gaan die rooi ligte aan!

Die onderskeidende vraag is: Hoe is my eksentrieke begeertes in lyn met die liefdevolle diensbaarheid en nederigheid wat ons by Jesus leer? Waarheen neem hierdie begeertes my: nader aan of weg van God, myself, my medemens, die wêreld en die skepping?

Na-aapbegeertes (mimetic desires)

Dit sluit baie nou aan by die vorige, maar is tog ’n bietjie anders. Dit gaan hier oor die begeerte om soos ander te wees, net beter! Om ander mense wat jy (met jaloesie) bewonder, na te aap en te oortref. Om te wil hê wat ander het, net meer. Ons sien dit by kindertjies wat mekaar se speelgoed gryp al het hulle self reeds te veel. By volwassenes sien ons dit in mense wat daarna smag om te bereik, te besit en te wees soos die Jones-familie langsaan, net beter.

Die begeerte word ’n probleem waar mense hulleself op ’n kompeterende wyse met ander vergelyk. In ons gemeenskappe gaan dit maklik oor in gewelddadige gedrag as een groep voel dat hulle daarop geregtig is om te besit wat ’n ander groep besit. Die gevoel dat “ons” beroof is van wat “hulle” het. Aan die ander kant kry ons die houding van “ons” verdien wat ons het en “hulle” verdien wat hulle nie het nie! Dan doen ons alles om ons lewenstyl en -standaard te beskerm teen die grypende hande van ander.

Dit is egter nie net sleg om ander mense se lewenstyl as standaard na te volg nie. Om ’n goeie voorbeeld te volg, is goed. Paulus beveel in 1 Korintiërs 11:1 aan: “Volg my voorbeeld soos ek die voorbeeld van Christus volg.” Om ander mense na te boots, kan goed of sleg wees, afhangende van die tipe voorbeeld wat gestel word. Die onderskeidende vraag is weereens dit: Hoe leef ek my na-aapbegeertes uit in lyn met Jesus se liefde wat alle mense gelykwaardig en regverdig behandel? Kan ek, in plaas daarvan om ander mense na te aap, eerder vir Jesus “na-aap” wat ander se belange hoër geag het as sy eie? Neem hierdie begeertes my nader aan of verder weg van God, myself, my medemense, die wêreld en skepping?

Groenligbegeertes: Begeertes wat ons nader aan God bring

Daar is ook goeie begeertes wat ek sommer “groenligbegeertes” noem. Ons sal dit ook hopelik in ons eie harte herken, waardeer en voed. Dit is daardie begeertes wat ons gewoonlik nader bring aan God, ons ware self, ons medemense, die wêreld en skepping waarin ons leef. Ons onderskei die volgende:

Eudaimoniese begeertes (eudaimonic desires)

Die begeerte na dieper sin, betekenisvolheid en doelgerigtheid in my lewe. Die begeerte om te ervaar dat my lewe ryk is aan positiewe waardes, wysheid en geloof. Die begeerte om te groei in dit wat belyn is met my waardestelsel en geloof. Dit is ook hierdie begeerte wat my beweeg om te ontwikkel deur studie, leeswerk en kursusse aan te pak. Uiteindelik gaan dit oor die strewe om ’n “goeie” en bekwame mens te wees.

Intrinsieke begeertes (intrinsic desires)

Die begeerte na die ervaring dat my lewe saak maak en ’n positiewe verskil maak in die wêreld waarin ek leef. Die skuif van “success to significance”. Die begeerte om my unieke gawes en vermoëns aan te wend tot voordeel van die wyer wêreld (met alles en almal daarin) waarin ek daagliks leef.

Dit is natuurlik so dat ons almal in mindere en meerdere mate ’n mengsel van al hierdie rooilig- en groenligbegeertes in ons dra. Weereens is die onderskeidende vraag na die uitkoms (trajek) van ons begeertes: Waarheen neem dit ons? En soos Ignatius ons leer om te onderskei tussen geordende en ongeordende begeertes. Die uitnodiging is om al ons begeertes baie eerlik in gebed na God te bring en te onderskei of dit ons na God toe lei of van God af weglei. Daaruit vloei die vraag noodwendig: Lei my begeertes my nader aan of verder weg van my eie ware self, my medemens en die skepping waarin ons leef?

Wanneer begeertes met God se begeertes belyn word

Aangesien ons as mense elkeen uniek is en met unieke begeertes leef, moet ons versigtig wees om ons begeertes in klein houertjies te plaas en te etiketteer. In watter kategorie ’n sekere begeerte geplaas word, hang af van ons diepste bedoelings en eerlike motiverings daaragter.

Neem byvoorbeeld ’n normale begeerte soos ambisie. Ambisie kan gedryf word deur eksentrieke begeertes as dit gaan oor erkenning en applous waarna die ego verlang. Dit kan ook gedryf word deur na-aapbegeertes (mimetic desires) as dit gaan oor kompetisie en die behoefte om beter te presteer as ander.

Maar ambisie kan ook gedryf word deur eudaimoniese begeerte as die strewe is na persoonlike verdieping, betekenis en die ontwikkeling van my menswees en gawes. Ambisie kan ook gedryf word deur intrinsieke begeertes as die behoefte is om deur my menswees, gawes en rol in die samelewing ’n positiewe bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die wêreld, omgewing of samelewing waarin ek leef. Dus kan ambisie ’n destruktiewe of konstruktiewe begeerte wees, afhangende van my diepste, eerlike motivering. Soos reeds dikwels gesê is, lê die finale toets van my begeertes uiteindelik in die vraag na die “trajek” of uitkoms van die bepaalde begeerte: Neem dit my nader aan of verder weg van God, my ware self, ander mense, die wêreld en skepping?

Die genadegebed wat ons hier nodig het, is dat ons begeertes belyn sal word met God se begeertes. Want daar waar ons begeertes in lyn is met God se begeertes, verdiep ons verhoudings met God self, ons eie ware self, ons medemens, ons wêreld en die skepping. Ek dink aan die woorde: “The glory of God is a human being fully alive.” En “fully alive” gebeur daar waar die begeerte van God se hart en die begeerte van ons harte mekaar ontmoet en belyn. Ek vermoed dat dit net op een plek gebeur: in Jesus Christus. In Hom wat ons inneem in God se Trinitariese lewe in!

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: