Ek het God se goedheid op ’n bus raakgeproe

DJ Muller

Ek het onlangs op ’n bus gesit toe iemand vir my ’n vy gee. Sommer net ’n vy. Ek het dit geëet, en toe gebeur iets wat ek steeds sukkel om behoorlik te verklaar. Ek het skielik baie bewus geword van God se goedheid. Nie omdat ek aan iets besonders gedink het nie, of besig was om te bid nie. Ek was net besig om ’n vy te eet.

Dit het my onkant gevang.

‘n Mens verwag mos om God so duidelik te ervaar wanneer jy in die kerk sit, op jou knieë langs jou bed is, of iewers in die natuur na ’n indrukwekkende sonsondergang kyk. Nie noodwendig tussen ’n klomp mense op ’n bus met ’n vy in jou mond nie.

Maar daar sit ek toe, met ’n mond vol van God se goedheid.

Ek het later gewonder wat presies daar gebeur het. Was dit die soet smaak? Die tekstuur van die vy? Die feit dat iemand dit vir my gegee het? Of was dit bloot dat ek vir ’n oomblik lank genoeg bewus was van iets wat ek elke dag miskyk?

Ons praat so maklik van God se goedheid. Ons sing daaroor, bid daaroor (daarvoor?) en herinner mekaar daaraan wanneer die lewe ons onderkry. Maar hoe dikwels ervaar ons dit werklik? Nie net as ’n gedagte wat ons glo nie, maar as iets wat ons aan ons lywe voel?

In Psalm 34 skryf Dawid: “Proe en sien dat die Here goed is.”

Ek het hierdie woorde al baie keer gehoor. Daar is tot ‘n VBO hieroor gehou. Maar skielik wonder ek hoekom Dawid juis dié twee woorde gebruik het. Proe en sien. Hoekom nie bloot “weet” of “glo” dat die Here goed is nie?

Miskien omdat daar ’n verskil is tussen om van iets te weet en om dit self te ervaar.

Ek kan vir jou vertel hoe lekker ’n ryp vy smaak. Ek kan die soetheid beskryf, die sagte binnekant en daardie klein saadjies wat tussen jou tande kraak. Ek kan selfs ’n hele preek oor vye lewer. Maar totdat jy self een eet, bly dit maar net iemand anders se beskrywing.

Is dit nie dalk ook waar van ons geloof nie?

Ons weet geweldig baie van God, maar hoeveel van Hom ervaar ons?

In die sewende eeu het ’n teoloog met die naam Maximus “die Belyer” (ongeveer 580–662 n.C.) iets interessants hieroor geskryf. Hy het die mens se vyf sintuie verbind aan ons innerlike geestelike vermoëns. Volgens hom is ons oë, ore, neus, mond en hande nie bloot instrumente waarmee ons die wêreld ervaar nie. Dit kan ons ook help om die Skepper beter te leer ken.

Ek hou van hierdie gedagte. Veral omdat dit beteken dat ek nie noodwendig meer dinge hoef te doen om nader aan God te leef nie. Ek moet dalk net anders begin omgaan met die dinge wat ek reeds doen.

Maximus het selfs spesifieke name gegee aan die geestelike vermoëns wat hy met ons sintuie verbind het. Ons smaak verbind hy aan die begeertevermoë (appetitive faculty) – dit waarna ons ten diepste honger en dors. Ons sig verbind hy aan die verstandsvermoë (intellective faculty of nous) – ons vermoë om dieper te kyk en betekenis raak te sien wat nie altyd met die blote oog sigbaar is nie. Ons gehoor verbind hy aan die redelike vermoë (rational faculty) – om dit wat ons hoor, te verstaan en te deurdink. Ons reuk verbind hy aan die aandrywende vermoë (incensive faculty) – dit wat ons innerlik in beweging bring en help om op die goeie te reageer. En ons aanraking verbind hy aan die lewendmakende vermoë (vivifying faculty) – ons vermoë om lewe te ontvang en deur liefdevolle aanraking iets daarvan aan ander deur te gee. Ek vind dit nogal besonders dat ons sintuie volgens hierdie verstaan nie net vensters na die wêreld is nie, maar ook deure na ons eie binneste.

Dink byvoorbeeld aan ons vermoë om te sien.

Ons kyk elke dag na duisende dinge, maar hoeveel daarvan sien ons regtig? Ek ry soms werk toe en kan byna niks onthou van die pad waarlangs ek gery het nie. My oë was oop, maar my kop was elders. Tog was daar waarskynlik iewers ’n besonderse wolkformasie, ’n boom vol nuwe blare of iemand wat met ’n groot glimlag langs die pad gestap het.

Dieselfde geld vir luister. Ons hoor heeldag geluide. Karre, telefone, mense, musiek en kinders wat mekaar se name oor en oor skree totdat iemand uiteindelik antwoord. Maar wanneer laas het jy werklik geluister? Na die reën op jou dak? Die voëls vroegoggend? Of jou kind se asemhaling wanneer jy haar saans in die bed sit?

En reuk! Daar is min dinge wat my so vinnig na ’n ander tyd en plek kan terugvat soos ’n bekende reuk. Vars brood, nat grond ná die eerste reën of ’n vuur wat iewers brand. Ek wonder hoeveel van hierdie klein oomblikke ons mis omdat ons gedagtes reeds by môre se probleme is.

Dan is daar aanraking. Die warmte van ’n koppie koffie tussen jou hande op ’n koue oggend. Jou vrou se hand in joune. Of ’n kind wat sonder waarskuwing teen jou kom staan en net ’n drukkie soek. Ons ervaar die wêreld nie net met ons gedagtes nie. Ons ervaar dit met ons hele lyf.

En miskien is dit juis die punt.

God het ons nie net ’n verstand gegee waarmee ons Hom kan probeer verstaan nie. Hy het ons ook sintuie gegee waarmee ons Sy skepping kan geniet.

Ek dink ons maak ons geloof soms onnodig ingewikkeld. Ons soek dieper geestelike ervarings deur nog ’n boek te lees, na nog ’n preek te luister of nog ’n Bybelstudie by te woon. Daar is natuurlik groot waarde hierin. Maar ek wonder of ons nie soms só besig raak om meer van God te leer dat ons vergeet om dit wat ons reeds van Hom ontvang, te geniet nie.

Ons bid voor ete om dankie te sê vir die kos, maar eet dit dan so vinnig dat ons skaars agterkom hoe dit smaak. Ons dank God vir die natuur, maar stap met ons oorfone in deur die mooiste plekke rond. Ons vra vir Sy teenwoordigheid, maar is selde self behoorlik teenwoordig.

Dalk is dit nie altyd God wat stil is nie. Dalk is dit net ons wat te veel geraas maak.

Ek wil ook nie voorgee dat elke koppie koffie of mooi sonsondergang noodwendig ’n besondere geestelike ervaring gaan wees nie. Party dae is koffie net koffie. En soms is die lewe só swaar dat selfs die mooiste dinge geen vreugde bring nie. God se goedheid hang gelukkig nie af van hoe goed ons dit op ’n bepaalde dag kan ervaar nie.

Maar miskien kan ons onsself meer geleenthede gun om daarvan bewus te word.

Ek wil dit probeer. Om soms my eerste sluk koffie met toe oë te drink. Om ’n slag stil te staan wanneer ek iets moois sien, eerder as om dadelik my selfoon uit te haal om ’n foto daarvan te neem. Om werklik te luister wanneer iemand met my praat. Om die reuk van reën vir ’n oomblik in te asem sonder om te wonder of die wasgoed nog buite hang.

Nie omdat hierdie dinge op sigself heilig is nie, maar omdat dit my kan herinner aan die Een wat dit alles moontlik gemaak het.

Ek besef ook dat ek nie God in elke smaak, geluid of aanraking hoef te gaan soek asof Hy iewers wegkruip nie. Ek moet dalk net leer om die gewone gawes van die lewe met groter dankbaarheid te ontvang.

Daardie vy op die bus het my nie iets nuuts oor God geleer nie. Ek het lankal geweet dat Hy goed is. Dit het my net vir ’n oomblik gehelp om iets wat ek reeds glo, te ervaar.

En ek dink dit is wat vir my so besonders was.

Ek wonder hoeveel sulke oomblikke ek al misgeloop het. Hoeveel keer God se goedheid al op my bord gelê het, in my tuin geblom het, teen my kom staan het vir ’n drukkie, of vroegoggend buite my kamervenster gesing het, sonder dat ek daarvan bewus was.

Ek gaan voortaan probeer om stadiger te eet. Beter te kyk. Mooier te luister. Dieper asem te haal. En meer gereeld my mense styf vas te hou.

Want miskien hoef ons nie altyd ons oë toe te maak om nader aan God te kom nie.

Miskien moet ons dit soms net behoorlik oopmaak.

En as iemand jou weer ’n vy op ’n bus aanbied, vat hom.

Jy weet nooit wat jy alles gaan proe nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: