Wat bly agter waar gelowiges eens geleef het?
DJ Muller
In September vanjaar het ek die voorreg gehad om saam met ’n toergroep van 50 mense deur die suidwestelike deel van Turkye te reis. Ons het antieke stede besoek waaroor daar in die Nuwe Testament en Openbaring geskryf word, soos Efese, waar ek in die agora gestaan het waar Paulus heel waarskynlik sy leerwinkel gehad het.
Maar te midde van die massiewe amfiteaters, die oorvloed historiese inligting, die gewarboel van toeriste en die gekommersialiseerde winkeltjies, het ek al hoe meer bewus geraak van my eie indrukke en gevoel hoe die warboel van mense en inligting my begin oorweldig. Toe ons bus by Laodisië stop, het ek ’n diep behoefte gehad om net vir ’n oomblik van die groep weg te breek.
Teen die bult van die antieke stad het my oog ’n groot boom op ’n koppie gevang, omring deur ou ruïneklippe (foto). Ek het reguit na die boom gestap en vir ‘n ruk alleen onder sy takke gaan sit. Daar het ek ’n ongelooflike, ongekende vrede beleef – so tasbaar dat ek dit fisies aan my eie lyf kon aanvoel.
Toe ek later weer by die toergroep aansluit, het ons gids vertel van die antieke Christelike gemeenskap wat eens hier geleef en aanbid het. Reeds in die eerste eeu hoor ons in Paulus se brief aan die Kolossense van gelowiges in Laodisië en van Epafras se betrokkenheid by die Christelike gemeenskappe van Laodisië, Kolosse en Hierapolis. Laodisië sou later ook een van die sewe gemeentes word wat in Openbaring direk aangespreek word – die gemeente wat ernstig gewaarsku word omdat hulle “lou” geword het.
Maar daardie teregwysing was nie die einde van Laodisië se Christelike verhaal nie. Die geloofsgemeenskap het voortbestaan, die stad het later ’n belangrike biskopsetel geword, en eeue later sou kerklike vergaderings steeds hier plaasvind. Argeoloë het op die terrein die oorblyfsels van talle Christelike kerke en kapelle gevind, waaronder ’n groot kerk uit die vroeë vierde eeu.
Terwyl ek daarna luister, het ’n diep besef by my tuisgekom: mense het op hierdie plek oor geslagte heen geglo, gebid, geworstel, aanbid en hulle geloof probeer uitleef. En daar, onder daardie boom, het dit vir my gevoel asof iets daarvan steeds in die plek bly hang – ’n heilige neerslag van geloof. Dit is soos wanneer ’n mens ’n vertrek binnestap waar mense pas uitgestap het en jy dadelik aanvoel dat iets betekenisvols daar plaasgevind het.
Hierdie ervaring het my laat besef hoe ons dikwels te ontasbaar, onsigbaar en onwerklik oor die spirituele wêreld dink. Ons is geneig om te glo dat die geestelike werklikheid ver verwyder is van ons daaglikse bestaan, terwyl dit in werklikheid ’n tasbare realiteit is wat regstreeks op ons fisiese wêreld inwerk. Die geestelike wêreld is nie van ons geskei deur afstand nie, maar deur dimensie, en die Heilige Gees tree op as die poortwagter wat ons in staat stel om hierdie dimensie te beleef en daardeur geïnspireer te word.
As fisiese wesens ervaar ons die skepping deur ons sintuie – ons sig, gehoor, tas en gevoel. Wanneer iemand wedergebore word, beleef hy die geestelike werklikheid nie buite sy fisiese liggaam om nie, maar juis deur sy menswees. Ons liggaam is uit die skepping gevorm en verteenwoordig ’n teologiese terrein waar God se beeld (imago Dei) en sy menswording in Christus fisies gestalte kry. Die bonatuurlike werk van God gryp dus op ’n baie tasbare wyse in op ons menslike ervaring en laat spore in die fisiese skepping agter.
My ervaring van vrede onder daardie boom was nie bloot ’n gedagte nie, maar ’n fisies-beleefde teenwoordigheid van God in die kern van my wese.
My reis deur Turkye en my stil oomblik onder die boom in Laodisië het my herenig met ’n eeue oue waarheid: die geestelike en die fisiese is nie twee vreemde wêrelde wat los van mekaar staan nie. God se teenwoordigheid en die spoor van gelowiges se gebede laat ’n blywende, fisiese neerslag in ons wêreld en ons liggame agter.
Dit laat my met ’n vraag wat sedertdien by my bly: Dink ons as moderne gelowiges nie miskien te ontasbaar en onwerklik oor die spirituele nie?


