Dario Carzola: Ons geloof in ’n wêreld waar AI altyd antwoord

Wilmi Wheeler

Daar is deesdae min vrae waarvoor ’n mens lank hoef te wag vir ’n antwoord.

Jy hoef nie meer daardie akteur se naam te probeer onthou totdat dit jou drieuur die oggend tref nie. Jy hoef nie deur vyf webblaaie te lees om uit te vind wat jy met daardie drie bestanddele wat nog in die yskas is, kan maak nie. Jy hoef selfs nie meer twintig minute voor ’n leë Word-dokument te sit en wonder hoe om daardie ongemaklike e-pos te begin nie.

Jy vra. En binne sekondes antwoord iets terug.

Maar ons vra nie meer net oor budget-vriendelike resepte en e-posse nie.

Ons vra oor ons werk. Oor verhoudings. Oor geld. Oor gesondheid. Oor besluite wat ons bang maak. Ons vertel van spanning met ’n kollega, onsekerheid oor die toekoms of ’n idee waarmee ons al weke rondloop.

En tydens ’n gesprek oor kunsmatige intelligensie en geloof by Parow-Panorama Gemeete se Blank Space-aand, stel Dario Carzola, filosoof en entrepreneur, ’n vraag wat ’n mens effens ongemaklik laat rondskuif:

Klink ons gesprekke met kunsmatige intelligensie nie ’n bietjie soos gebed nie?

Dario Carzola

Wie dien vir wie?

Dario is nie ’n tegnologie-skeptikus nie. Inteendeel. Hy beskryf homself as ’n “techie” wat al van jongs af met rekenaars peuter en graag die moontlikhede van nuwe tegnologie ondersoek.

Juis daarom is sy vraag nie of AI boos is of selfs of Christene dit behoort te gebruik nie. Hy vra eerder: Wie dien vir wie?

Is die tegnologie ’n hulpmiddel wat ons gebruik of begin ons stadig maar seker ons lewens rondom die hulpmiddel organiseer?

Dit is maklik om dié vraag af te maak as ’n debat vir tegnoloë en mense wat graag oor die toekoms filosofeer. Maar AI het reeds stadig, maar seker deel van ons gewone lewens geword.

AI maak ons sinne netjieser. Som dokumente foutloos op. Help met idees. Gee raad. Beplan roetes. Skryf resepte. Verduidelik moeilike begrippe. En ja, soms spaar dit ’n mens ure se werk.

Maar met elke nuwe gerief daag Dario ons uit om ’n ander vraag te vra: Wat gebeur met die dinge wat ons nie meer self hoef te doen nie?

As ek nooit meer hoef te sukkel om ’n naam te onthou nie, oefen ek nog my geheue? As ek nooit meer deur ’n lang artikel hoef te worstel nie, maar net die opsomming lees, wat gebeur met al die kennis wat ek toevallig op pad na die antwoord sou raakgelees het?

As ek elke moeilike boodskap deur ’n algoritme laat versag, begin mense uiteindelik met my praat of met die beste weergawe wat ’n masjien van my kan maak? En as ek met elke onsekerheid eerste na ’n chatbot draai, wat gebeur met die stadige werk van onderskeiding, gesprek, gebed en wag?

Dario vra ’n baie ou vraag oor ’n baie nuwe tegnologie

Dario gebruik die Bybelse verhaal van die Toring van Babel as lens waardeur hy na AI kyk. Maar nie omdat kunsmatige intelligensie eenvoudig die nuwe Babel is nie.

Die interessante ding van Babel is juis dat daar niks besonders boos aan die mense se boumateriaal was nie. Bakstene was bakstene. Teer was teer. So, die probleem was nie dat mense tegnologie ontwikkel het nie. Die vraag was wat hulle daarmee wou doen.

“Kom,” sê hulle in Genesis 11, “laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik, en laat ons vir ons ’n naam maak.”

Die tegnologie het die vermoë gegee. Maar die menslike begeerte het die rigting bepaal.

Dalk is dit hoekom Babel steeds iets te sê het in ’n wêreld waarvan die slimste tegnologie toevallig rondom taal gebou word. Ons het vandag gereedskap waarvan vorige geslagte nie eens sou kon droom nie. Die vraag is nie noodwendig of ons dit mág gebruik nie.

Die vraag is waarvoor.

Gebruik ons dit om beter na mense om te sien? Om moeilike werk makliker te maak? Om tyd beskikbaar te maak vir dinge wat werklik saak maak? Of raak doeltreffendheid self die doel?

Meer. Vinniger. Slimmer. Foutloos.

Totdat ons dalk eendag ontdek dat ons alles geoptimaliseer het, behalwe die mens wat veronderstel was om daarby baat te vind.

Wat ons verloor wanneer alles maklik word?

Een van Dario se praktiese voorstelle verwoord dat daar waarde is in ’n bietjie sukkel.

  • Wanneer jy volgende keer nie ’n naam kan onthou nie, moenie noodwendig onmiddellik jou foon gryp nie. Probeer ’n oomblik langer onthou.
  • Wanneer ’n soekenjin vir jou ’n perfekte AI-opsomming gee, lees dalk tog die oorspronklike artikel.
  • Laat iets wat jy skryf soms ’n bietjie onvolmaak wees.

Nie omdat tegnologie sleg of boos is nie, maar omdat daar dinge is wat ons net behou deur dit te gebruik.

Geheue. Kreatiwiteit. Nuuskierigheid. Geduld. Die vermoë om met ’n probleem te sit sonder dat daar onmiddellik ’n antwoord verskyn.

En dalk ook geloof.

Want geloof het nog nooit soos ’n soekbalk gewerk nie.

Daar is nie altyd ’n antwoord binne sekondes nie. Party vrae bly lank ongeantwoord. Party gebede word anders beantwoord as wat ons gehoop het. Partykeer is daar stilte. Soms moet ’n mens saam met ander onderskei, wag, verkeerd wees, weer probeer en stadig leer vertrou.

Dit is nie baie doeltreffend nie, maar dalk was doeltreffendheid nog nooit die doel nie.

AI gaan waarskynlik deel bly van hoe ons werk, leer, skep en kommunikeer. En dit hoef nie noodwendig iets te wees waarvoor die kerk bang hoef te wees nie.

Juis daarom behoort geloofsgemeenskappe plekke te wees waar ons die vrae vra wat nie deur nóg tegnologie opgelos kan word nie.

Nie net: Wat kan hierdie hulpmiddel doen?

Maar: Wat doen dit aan ons?

Wat help dit ons om beter te doen? Wat begin ons daaraan oorlaat wat ons eintlik self behoort te oefen? En watter dele van menswees is ons eenvoudig nie bereid om uit te kontrakteer nie?

Miskien is dít die belangrikste vraag wat ons in die era van kunsmatige intelligensie kan vra.

Nie hoeveel daarvan ons kan gebruik nie, maar wie ons besig is om te word terwyl ons dit gebruik…

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: