Vaderskap: Die gawe van “vreemde oomblikke”

👤 DJ Muller

In die literêre wêreld is daar ’n treffende gedagte van die skrywer Umberto Eco waaruit elke pa kan leer: “Ek glo dat dit wat ons word, afhang van wat ons vaders ons leer in vreemde oomblikke, wanneer hulle nie probeer om ons te leer nie. Ons word gevorm deur klein stukkies wysheid”. Hierdie “vreemde oomblikke” – die onbeplande oomblikke tussen die groot gebeure van die lewe – is dikwels waar die diepste spore van geloof getrap word.

Vir die Christelike pa is hierdie konsep nie nuut nie; dit is eintlik ’n eeue-oue Bybelse opdrag. In Deuteronomium 6:6-9 word vaders beveel om God se woorde op hul harte te dra en dit vir hul kinders in te skerp. Interessant genoeg is die metode nie ’n formele klaskamerlesing nie, maar ’n leefstyl: pa’s moet daaroor praat wanneer hulle tuis is, wanneer hulle op pad is, wanneer hulle gaan lê en wanneer hulle opstaan. Dit is die teologie van die alledaagse.

 

“En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.” Deuteronomium 6:6-9 (2020-Vertaling)

Vadersdag herinner ons daaraan dat ’n pa ’n unieke figuur is wat dinge vir sy kinders kan beteken wat niemand anders kan nie. In die moderne era het die rol van die pa verskuif van slegs ’n “ekonomiese voorsiener” na ’n aktiewe deelnemer wat in die emosionele en psigologiese behoeftes van sy kinders voorsien. Maar vir die gelowige pa gaan dit nog dieper. Sy daaglikse wandel met God dien as een van die sterkste getuienisse. Wanneer ’n pa in ontsag vir die Here leef, bied dit vir sy kinders ’n skuilplek. Sy kinders leer van God se genade nie net deur die Bybelstories wat hy lees nie, maar deur die manier waarop hy sy vrou liefhet, hoe hy integriteit in sy werk toon en hoe hy in sagmoedigheid optree wanneer dinge skeefloop.

Die sielkunde agter moderne vaderskap beklemtoon dat vaders dien as psigologiese rolmodelle. Hierdie rolmodel-skap word gevoed deur die “klein stukkies wysheid” waarvan Eco praat. Dit is die opmerking oor God se grootheid terwyl julle saam na die sterre kyk, of die kort gebed in die motor voor ’n moeilike dag. Dit is die “pyle in die hand van ’n krygsheld” waarvan Psalm 127 praat – kinders wat gerig en gevorm word deur die hand van ’n pa wat self op God gerig is. Vadersdag is dus meer as net kaartjies en geskenke. Dit is ’n oomblik vir ons kultuur om te kyk na wie ons mans en seuns werklik is. Dit is ’n geleentheid vir vaders om weer eienaarskap te neem van hul roeping: om waaksaam te wees, vas te staan in die geloof en manhaftig te wees deur die krag van die Here.

Mag ons as pa’s besef dat ons kinders ons dophou in daardie onbewaakte oomblikke. Mag die getuienis van ons lewens vir hulle ’n padkaart wees na die hemelse Vader, sodat wanneer hulle eendag terugkyk, hulle nie net ons woorde onthou nie, maar die vrug van die Gees wat in ons daaglikse handel en wandel sigbaar was.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: