Die wysheid van stilte en stadiger leef

👤 Willem Smit

Johannes van die Kruis was ‘n volgeling van Jesus in die sestiende eeu. Die ruimte van stilte was vir hom, soos vir baie ander gelowiges, die “beste plek” van ontmoeting met God. Hy het beleef en verwoord wat ons oudste moeders en vaders in die geloof alreeds vanaf die derde en vierde eeu na Christus in afsondering in die woestyne ontdek het: DIE WYSHEID VAN STILTE. Johannes van die Kruis en ander geestelikes het dit so verwoord: “Silence is God’s first language; everything else is a poor translation.”  

Die wysheid van stilte as ‘n ruimte waarin God se Teenwoordigheid ontdek en beleef word, het oor al die eeue In die kerk voortgeleef. Ander christelike tradisies beskryf dit as “thin places” of “thin spaces” waar die membraan tussen hemel en aarde so dun word dat God se lewe en mense se lewe ineen geweef word. ‘n Dun ruimte van ontmoeting waar mense telkens verras word deur die Teenwoordigheid van die Teenwoordige. Die “thin spaces” is gewoonlik stil ruimtes. Dit is ‘n soort stil ruimte wat nie leeg is nie maar gevul is met die Teenwoordigheid van God. In hierdie stilte is daar nie niks nie maar Alles!

In ons Gereformeerde tradisie word hierdie wysheid van stilte al meer herontdek en beoefen. Dit is natuurlik ‘n wysheid wat nog altyd bestaan het en op baie plekke in die Bybel beskryf word. In die Ou Testament sien ons hoe God moeite doen om sy volk tog te laat besef hoe lief Hy hulle het. Wanneer Hy dan sy volk wil bewus maak van sy liefde en nabyheid, neem Hy hulle eenkant in die “woestyn” in. Daar waar niks is nie, behalwe stilte, sal God met hulle praat en hulle sal in die stilte kan hoor wat God sê. Die oënskynlike “niksheid en stilte” van die woestyn word skielik ‘n heilige ruimte van intimiteit tussen God en sy volk.

Elia was stok siel alleen op die berg – ‘n uitstekende ruimte van stilte. Op hierdie stadium het hy dalk nie meer veel van God verwag nie maar juis dan word hy verras. Hy word bewus van die Teenwoordigheid van God in die “fluistering in die aandwind…die gesuis van ‘n sagte koelte” Letterlik (vrouilike vorm van): “Sagte…kalm…dun…klein stemmetjie”  (1Kon 19). Verbeel jou: dat God praat met ‘n dogtertjie stemmetjie! Ja, soms bulder God…maar meestal nie… Ek vra myself: Hoe sal ek Hom kan hoor as Hy baie saggies fluister? Ek sal moet baie STIL wees, nie waar nie?

Die ou volk sing: “Bedaar…laat staan…laat los…wees stil…en weet dat Ek God is” ( Ps 46:11) So in die “laat los” stilte, kom die WEET…en KEN. Ja, wat ons weet oor God kan ons beskryf met (dikwels baie) woorde. Hoe ons God KEN beskryf ons dalk die beste sonder woorde…met stilte.

Selfs in die chaos van sy eie storms beleef Job dat hy God se Teenwoordigheid en omgee (wat hy verstaanbaar betwyfel) eers ontdek wanneer hy self ophou luister na die baie woorde van sy vriende en sy eie baie woorde wat hy uit-teem op die ashoop. Eers toe Job by al die gepratery verby kom, kon hy in die “shut up!”, God se Teenwoordigheid beleef en sy woorde hoor. In die oog van die storm, daar kom Job uiteindelik tot rus by God. Die wysheid van stilte.

Ons weet dat Jesus self met die wysheid van stilte geleef het en vir sy volgelinge geleer het. Dink net hoe hulle die stilte na die storm beleef het daardie dag  toe hulle so amper in die see gesink het. Eenkeer red Jesus hulle uit ‘n ander storm: die storm van besig wees met baie mense. Dit kan nogal ‘n veeleisende storm wees! Hy sê: Kom saam na ‘n VERLATE plek en RUS ‘n bietjie OP JULLE EIE…( Mark 6)

Jesus het self die wysheid van stilte beoefen deur gereeld eenkant toe te gaan en op ‘n stil plek met sy Vader te gaan praat. Selfs Jesus soek die alleen-stilte waarin Hy hierdie intieme Teenwoordigheid kan beleef. (Lukas 5:16) Ek sien ook die prentjie van Martha en Maria voor my afspeel. Martha die besige bytjie in die kombuis (dankie Here vir sulke mense!) en die “luierige” stil Maria wat net op die matjie sit en luister. Die wysheid van stilte. Die heilige ruimte van intimiteit met die Teenwoordige!

Op hierdie voetspoor van die wysheid van stilte, het die kerk haar pad deur die geskiedenis geloop. Ook en selfs deur storms en woestyne het gelowiges die Teenwoordigheid van die Teenwoordige in ruimtes van stilte opgesoek en ontdek. En vandag is daar baie gelowiges wat nie net nou en dan die Teenwoordigheid opsoek in ruimtes van stilte nie, maar wat daagliks leef in en met die Teenwoordigheid. Ek sien soms ‘n stille vrede in iemand se oë…dan weet ek.  Die dissipline wat hierdie mense die meeste help is die wysheid van stilte.

By die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit glo ons dat ruimtes van stilte vir mense die geleentheid bied om verras te word met die Teenwoordigheid van die Teenwoordige. Ons nooi jou uit om saam met ons verras te word deur God!

Ons verstaan ons werk by die Spiritualiteit Sentrum as GASVRYHEID. Ons wil jou verwelkom in ons gasvrye, vriendelike omgewing om te kom WEES…RUS…ONTDEK. Mag dit vir jou voel soos HUIS TOE KOM.

Ons verduidelik ons roeping met hierdie paar woorde: HOSTING SPACE FOR SACRED ENCOUNTERS. Ons nooi jou in hierdie heilige ruimte in. Wie weet wat kan met jou gebeur?

Ons nooi jou na ons beplande retreats en wonderlike groei geleenthede op ons program. Ons nooi jou ook om net op jou eie of saam met ander te kom rus en wees in die stilte. En wie weet…?

Die nuutste wat ons aanbied is ons STIL SATERDAG retreats. Dit is nou nie die een tydens Paasnaweek nie. Dis iets anders. Ons besef dat mense besig is en baie belange het. Dit is vir besige mense dikwels baie moeilik om langer tye weg te wees van die gewone. Daarom het ons gedink: wat van ‘n kort Saterdag oggend retreat. Dis dalk makliker. Ons wil graag saam ontdek hoe dit kan wees as ons nou en dan mense innooi om net vir ‘n Saterdag oggend tussen 8h00 en 13h00 hier te kom wees en begelei te word in die ruimte van stilte. En dalk stadig maar seker aan te leer hoe dit kan wees om te leef met die wysheid van stilte. Laat ons weet of jy sal belang stel. Ons wag.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: