“Dit uur met God”: Enkele gedagtes oor kerkmusiek, liturgie en geloof
Dr. Diederick Basson
Dit uur met God, vanuit een waar verlangen samen komen
om opgewekt, de overvloed te delen, aarde bewonen.
wie met open hand en geest groeit aan Gods liefde,
onvermoed, in Hem het meest!
– Herman Koetsveld
Dit uur met God, Herman Koetsveld, emeritus-predikant van die Westerkerk in Amsterdam, se lied met musiek van Evan Bogerd, orrelis van dieselfde gemeente, het my onlangs aan die dink gesit. Wat sing ons tydens “dit uur met God”?
Hannes van der Merwe, predikant van die NHK Pretoria-Oos, skryf verlede jaar in SAKOV se tydskrif Vir die Musiekleier dat ’n kollega een keer teenoor hom opgemerk het: “As jy regtig wil weet wat ’n gemeente of ’n dominee glo, kyk na hulle playlist.” Hoewel dit natuurlik ’n veralgemening is, steek daar tog waarheid in. Wat sing ons week ná week? Hoe sing ons? Waarom sing ons? Watter rol speel ons kerksang in die verloop en karakter van die gekose aanbiddingstyl?
In ’n vorige gemeente is U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie gereeld gesing. Só gereeld dat ek later nie meer die lied wou hoor of begelei nie. In ‘n ander gemeente, soos aan my vertel, word Psalm 33:1 (“Sing juigend, sing ‘n nuwe loflied…”) byna elke Sondag vir die Sondagskoolopening gesing. (Kan daar dan steeds sprake wees van ‘n nuwe loflied wat gesing word?) “Bekend maak bemind” lui die spreekwoord, maar té bemind is ook nie gesond nie. Dit laat die vraag ontstaan hoe ons ’n verantwoordelike balans tussen die waarde van bekende liedere en die gevaar dat daar slegs uit gewoonte gesing word, moet vind.
Om weekliks ‘n erediens tussendeur al die ander gemeentelike verpligtinge te beplan, kan ‘n uitmergelende taak word. Wanneer drie of vier liedere uit die groot verskeidenheid beskikbare liedere – meer as 2 000 in die Liedboek van die Kerk, FLAM- en VONKK-korpus! – gekies moet word, terwyl die gemeente se verskillende spiritualiteitstipes ook in ag geneem moet word, lê die uitdaging dus nie in ’n gebrek aan keuse nie, maar in die verantwoordelike uitoefening van die keuse.
Ons leef in ’n verbruikers- en vermaaklikheidsgerigte kultuur waarin ons gewoond geraak het aan onbeperkte keuses. Met ’n toepassing op jou foon kan jy binne sekondes na bykans enige denkbare stuk musiek luister. Hou jy nie daarvan nie? Kies iets anders. Of laat Kunsmatige Intelligensie vir jou ’n lied skryf.
Dié gewoonte van onbeperkte, individuele keuse sluip maklik ook die kerk binne – en juis daarom is dit die moeite werd om dit hardop te verwoord. Die erediens kan egter nie ’n Spotify-tipe speellys volg nie. Liedkeuse is meer as ’n roetine-aangeleentheid. Volgens die Nigeriese teoloog en musikoloog Adeolu Ogunlye is dit ’n geestelike én intellektuele oefening. Dit vra dat ons nie alleen aandag gee aan die inhoud en musikale karakter van ’n lied nie, maar ook aan die funksie daarvan en die plek wat die lied binne die erediens inneem.
Vroeër vanjaar het ek die voorreg gehad om ’n himnologiese gesprek met die MDiv-studente van die Fakulteit Teologie in Stellenbosch te voer. Ons het onder meer stilgestaan by vrae wat kan help om liedere vir die erediens verantwoordelik te beoordeel. Ek het die gesprek afgesluit met ’n vraag wat ons by elke lied behoort te vra: “Ons sing hierdie lied op hierdie oomblik, omdat …” Die antwoord behoort meer te wees as: “Omdat mense daarvan hou” of “Omdat dit mooi klink.” Gemeentevoorkeur en musikale kwaliteit is belangrik, maar die deurslaggewende vraag is of ’n lied inhoudelik, liturgies en pastoraal by hierdie spesifieke oomblik in die erediens pas.
Ons hoef nie elke week nuwe liedere te sing nie. Bekende liedere bied vertroudheid en kan ’n belangrike rol in die geloofslewe van ’n gemeente speel. Die uitdaging is egter om nie bloot te sing wat ons altyd sing nie, maar om telkens weer te vra waarom hierdie lied op hierdie oomblik gesing word.
Die tweede strofe van Koetsveld se lied lui:
Dit uur van hoop, van lied, muziek, gebeden, stilte omgeven.
In Jezus’ naam: ‘Volg Mij’, gehoorde woorden om te doorleven,
In tijd van zorg, van pijn of vrolijkheid
te weten dat wij mensen van de zegen zijn.
Mag ons opnuut bewus word van die besondere gawe én verantwoordelikheid van gemeentesang: dat ons, wanneer die kerk sing, nie bloot musiek maak nie, maar sáám – as “mensen van de zegen” – ons geloof in God bely.
*Dr Diederick Basson is ‘n vryskut-orrelis, bestuurder van die NG Kerk in SA Argief op Stellenbosch, en ondervoorsitter van die VONKK-taakspan.


