Drie kenmerke van ’n goeie leier: geneentheid, geduld en getrouheid
Prof. Nico Koopman
Psalm 103 besing die eienskappe van God, naamlik genade, geneentheid (barmhartigheid, deernis), goedheid en goedertierenheid (verbondsliefde). God se kinders word geroep om hierdie eienskappe in ons lewens te weerspieël. Die Heilige Gees rus ons met hierdie eienskappe toe. Almal van ons word geroep om formele en informele leiers te wees in die persoonlike, professionele en publieke verbande van die lewe.
Leierskap is nie net die voorreg of verantwoordelikheid van presidente, ministers, bestuurders of kerkleiers nie. Elkeen van ons gee formeel of informeel op een of ander terrein van die lewe leiding. Ons kan almal leiers word wat God se eienskappe weerspieël. Ons fokus op drie van hierdie eienskappe.
1. Leiers van geneentheid
Deernis begin wanneer die lyding én die florering van ander mense ons diep raak. Leiers met deernis staan nie op ’n afstand en beskou ander se swaarkry met koue onverskilligheid nie. Die pyn van mense beweeg hulle en spoor hulle aan tot praktiese omgee. Hulle harte word geraak, hulle gewetens versteur en soms verloor hulle selfs slaap wanneer dit sleg gaan met die mense wat aan hulle sorg toevertrou is.
Deernis het verskillende dimensies. Simpatie stel ons in staat om saam met ander te voel: om te treur saam met dié wat treur en ons te verheug saam met dié wat bly is. Soms vermy ons die rou van ander omdat dit ons eie kwesbaarheid blootlê. Om mense lief te hê, beteken dat ons die risiko loop om seer te kry wanneer hulle seerkry. Net so kan afguns ons daarvan weerhou om saam met ander oor hulle prestasies en vreugdes bly te wees. Simpatie is ook om saam met mense te voel in hul vreugdes en om te weet hulle gawes en suksesse verryk ons lewens en dra by tot die gemeenskaplike welsyn (common good).
Empatie nooi ons uit om onsself in ander se omstandighede in te dink en in te voel: om in hulle skoene te staan, deur hulle oë te kyk en hulle vreugdes, vrese en lyding te probeer verstaan. Dit vereis dat ons aandagtig luister, eerder as om aan te neem dat ons reeds weet wat ander nodig het.
In diverse samelewings het ons ook interpatie nodig: die bereidwilligheid om mense te verstaan wie se godsdienstige, kulturele, etniese, taalkundige, gender- of sosio-ekonomiese agtergrond van ons eie verskil. Ons moet doelbewus moeite doen om hulle ervarings en perspektiewe te leer ken.
Leiers met deernis is tegelyk mensgerig én gerig op die sake wat mense se welsyn raak.
Deernis vra ook opoffering. Die Lutherse teoloog en ekonoom Klaus Nürnberger het die belangrikheid beklemtoon van praktiese diens, gesonde sosio-ekonomiese bedelings en selfopofferende liefde in die stryd teen armoede. Sulke liefde gee om, deel met ander en kies ’n eenvoudige lewenswyse sodat ander ook kan leef.
Uiteindelik is leiers met deernis diensbare leiers en herderleiers. Hulle was voete eerder as om voortdurend erkenning te eis. Hulle beskerm en begelei mense, bly teenwoordig in goeie tye én in donker valleie, en help mense om groen weivelde en waters van rus te ontdek. Hulle oefen hulle gesag uit ter wille van ander se florering.
2. Leiers van geduld
Geduld is nie swakheid of passiwiteit nie. Dit is die krag om te wag, weer te besin, te volhard en te hoop wanneer oplossings nie onmiddellik kom nie. Ons leef in ’n gejaagde wêreld wat kitsantwoorde, onmiddellike oorwinnings en vinnige resultate verwag. Goeie leierskap vereis egter dikwels ’n langer perspektief.
Geduldige leiers beskik oor die innerlike krag om ander deur moeilike omstandighede te dra. Die apostel Paulus herinner ons in 1 Korintiërs 13 daaraan dat die liefde geduldig is. Die bekende lied He Ain’t Heavy, He’s My Brother verwoord iets van hierdie gees. Ons leer om mekaar se laste te dra, selfs wanneer ander se gedrag, menings of behoeftes ons uitdaag. Dit beteken nie dat ons onreg moet duld of oortredings moet verskoon nie. Ons kan skadelike gedrag ferm aanspreek en terselfdertyd diegene wat daarvoor verantwoordelik is, met waardigheid behandel en ruimte laat vir verandering en herstel.
Geduld beteken ook dat ons bereid is om ons oordele en besluite te heroorweeg. Goeie leiers luister na verskillende perspektiewe, ondersoek die beskikbare getuienis, oorweeg moontlike gevolge en gee aandag aan die emosies en behoeftes wat agter mense se woorde lê. Besluitneming kan langer duur, en konsensus bly soms buite bereik, maar deeglike oorweging kan groter billikheid bevorder.
Geduldige leiers koester bowenal hoop. Christelike hoop is nóg wensdenkery nóg passiewe afwagting. Dit is ’n realistiese en veerkragtige hoop wat gegrond is in die oortuiging dat vernuwing steeds moontlik is. Dit inspireer ons om op te tree, selfs wanneer vooruitgang stadig is en geregtigheid ver buite bereik lyk.
Geduld behels ook dat ons ons vrese en bekommernisse aan God oorgee. Hierdie oorgawe is nie ’n verskoning om van moeilike verantwoordelikhede weg te vlug nie. Dit erken eerder dat ons nie die wêreld se laste alleen hoef te dra nie. Die vertroue dat God teenwoordig is, kan ons bevry om te doen wat reg is sonder om verteer te word deur die behoefte om elke uitkoms te beheer.
Geduldige leiers ontwikkel ’n lang lont. Hulle weerstaan die versoeking om oorhaastig te reageer of wraak te neem. In plaas daarvan kies hulle om met wysheid, moed, selfbeheersing en gepaste fermheid op te tree.
3. Leiers van getrouheid
Getrouheid beteken dat ons verbind bly aan God, aan mense en aan die groter gemeenskaplike belang. Getroue leiers stel die belange van dié wat hulle dien, bo persoonlike vooruitgang. Hulle het hulle instellings en gemeenskappe só lief dat hulle bereid is om tekortkominge te erken en mee te werk om dit reg te stel. Ware lojaliteit is nie blinde trou nie; dit is die moed om die waarheid te praat en te help om dinge reg te stel.
Getrouheid vereis ’n verbintenis aan die waarheid in ’n wêreld waar verkeerde inligting, halwe waarhede en politieke lojaliteite ons verstaan van die werklikheid kan verwring. Goeie leiers soek betroubare getuienis, luister na beredeneerde argumente en bly bereid om hulle eie aannames te bevraagteken.
Hulle beoefen ook deursigtigheid, integriteit en konsekwentheid. Deursigtigheid beteken dat ons relevante inligting eerlik en op gepaste wyse deel, terwyl ons vertroulikheid respekteer en diskresie aan die dag lê. Integriteit beteken dat ons waardes, woorde, beloftes, besluite en dade geïntegreerd en aaneengeskakel is. Ons verkondig nie net billikheid nie; ons beoefen dit ook. Woord en daad sing ’n duet.
Getroue leiers skep kulture van vertroue en veiligheid. Of dit nou in ’n gesin, kerk, universiteit, werkplek of land is, hulle optrede help mense om veilig genoeg te voel om eerlik te praat, foute te erken en saam te werk. Hulle beskerm ander se kwesbaarheid eerder as om dit uit te buit.
Laastens blyk getrouheid uit groot én klein dinge: in die raadsaal en die slaapkamer, in die parlement en die gemeente, in die klaskamer en die huis, in die hantering van openbare fondse en die uitvoering van gewone huishoudelike take. Karakter word deur alledaagse gewoontes gevorm. Mense wat eerlikheid, billikheid en verantwoordelikheid in skynbaar onbeduidende sake beoefen, help om die grondslag van betroubare leierskap te lê.
’n Roeping vir ons almal
Geneentheid, geduld en getrouheid hoort bymekaar. Geneentheid beweeg ons om om te gee; geduld gee ons die krag om te volhard; getrouheid hou ons verbind aan dit wat waar en goed is.
Mag ons huise, kerke, instellings en samelewings geseën word met leiers van geneentheid, geduld en getrouheid. Mag ons God se eienskappe weerspieël. Mag die appel nie ver van die boom val nie.


