Burgerskap: Is daar hemel-stof op jou vellies?

DJ Muller

Ek het hom van ’n myl af gesien. Daai keps, vellies en die wit kouse wat tot net onder die knieë strek… “dié oom is nie van die Paarl nie”, het ek dadelik gedink. Dis ’n Noord-Kaap-vibe, dié. Dit ruik na stofpad en onderonsies in die koöperasie. Ons stap toevallig langs mekaar by Checkers uit. Die oom klim in sy Hilux. En toe ek by sy nommerplaat verbyloop, staan dit daar: Upington Toyota. Ek was reg.

Ek het daar gestaan met my inkopies en aan Paulus gedink. Aan Filippi. Aan burgerskap.

In Paulus se tyd het jou burgerskap alles beteken. Dit het vir jou sekuriteit, regte en status gegee. Dit het bepaal of jy kon praat, werk kon kry of vrygelaat kon word. Dit het gesê wie jy is. Filippi, die Romeinse kolonie in Masedonië, was vol mense wat dit ook geweet het. Mense wat trots was op hul Romeinse burgerskap. Mense wat geleer het om hul walk en talk te belyn met Rome se ekonomie en identiteit. Dis vir daardie mense dat Paulus skryf: “Ons burgerskap is in die hemel.”

Maar ons het vergeet hoe om burgers van die hemel te wees.

Ek glo jy het ook al in ‘n gemeentevergadering gesit. Dis eintlik snaaks – of tragies – hoe ons soms daar oor mense gesels, oor hul lewens, hul pyn en hul hoop, en iemand sê: “Dit is maar hoe dit ook in die korporatiewe wêreld werk.” Iets in my trek saam. Want die kerk is nie die korporatiewe wêreld nie. Die kerk is die liggaam van Christus. En ek wonder soms of ons dit dalk te maklik buite berekening begin hou.

Ons open byeenkomste met gebed. Bid mooi. Vra die Here vir leiding. En dan vergader ons – met agendapunte, politiek en magasyne vol antwoorde. En dan sluit ons weer af met gebed. Is ons gebede dan net blikoopmakers?

En toe tref dit my weer: Dis presies wat Paulus raaksien – ’n groeiende gaping tussen wat ons sê ons glo en hoe ons leef. Dis nie net in kerkvergaderings nie. Dis in die ry by Pick n Pay, langs die sportveld, in WhatsApp-groepe en in hoe ons geld spandeer. Dis in hoe ons kerk toe kom – as ons kom – en in wat ons as sukses beskou. Ons leef soos Filippense – en vergeet waar ons vandaan kom.

Dis waarom Paulus huil. Letterlik. “Ek sê dit vir julle met trane …” Want hy het gesien hoe mooi die kerk kan wees. Hoe die Gees mense kan verander. Hoe diep Christus mense se waardes kan herbedraad. En nou sien hy hoe vinnig die kerk weer van koers af raak.

Filippi was ’n droomplek om te bly – die Franschhoek van sy tyd. Dit het goed gegaan. Té goed. En dis presies die gevaar. Want wanneer dit goed gaan, het ons baie keer minder tyd vir Christus. Minder behoefte aan geloof. Minder ruimte vir genade. Dan raak Jesus ’n aanhangsel.

Jy dra jou burgerskap sigbaar en hoorbaar. Dis iets wat jy leef.

Dis hoekom die oom by Checkers my nie wil los nie. Want jy sien ’n mens se burgerskap aan sy lyf. Jy hoor dit in sy aksent. Jy sien dit in hoe hy staan, wat hy dra, hoe hy jou groet, waaroor hy praat, waarvoor hy opstaan. Net so sê Paulus: Ek sien dit in julle vellies, Filippi. Julle sê julle is burgers van die hemel, maar julle leef soos almal anders. Julle “god is julle maag”. Julle eer lê in julle skande. Julle dink aan aardse dinge.

Paulus herinner hulle – en ons – aan iets wat hulle al vergeet het: Jy is nie in die eerste plek ’n burger van Filippi nie. Jy is nie in die eerste plek ’n burger van die Paarl, van Suid-Afrika of van hierdie wêreld nie. Jy is ’n burger van die hemel. En dit moet sigbaar wees.

Wat gebeur as ons dit ernstig begin neem?

Wat gebeur as ons nie net kerk dóén nie, maar kerk ís? Wat gebeur as ons vergader, besluit, praat, koop, stem, dien, bestuur, liefhê en protesteer soos mense wat eerstens aan ’n ander koninkryk behoort? Wat gebeur as jou “ekonomie” – jou oikos nomos, die reëls van jou huis – nie die ekonomie van wins en selfrealisering is nie, maar een van genade, diensbaarheid en tevredenheid in ’n lewe wat in Christus verborge is? Wat gebeur as ons geloof nie net ’n kruk word wanneer dit swaar gaan nie, maar die longe waarmee ons asemhaal – ook wanneer dit goed gaan?

Dan, sê Paulus, begin dinge verander. Nie noodwendig die wêreld nie, maar ons. En wanneer die kerk verander, kan die wêreld dalk ook.

Dis nie verkeerd om ’n mooi huis of  selfs, soos die oom, ’n Hilux te hê nie. Dis nie verkeerd om goeie skoene te dra nie. Maar dit is verkeerd as dít alles jou definieer. As dít bepaal hoe jy ander behandel. As dít jou eer en jou ambisie bepaal …

Want jy is meer. Jy is anders. Jy is ‘van bo’.

So, as mense wil weet wie jy is, hoef hulle net na jou vellies te kyk en die stof van die hemel daaraan te sien klou.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • “Ons sing omdat ons glo dat God saam met ons op pad is.”

  • Liminaliteit van verandering – Tussen belydenis en ervaring

  • Dario Carzola: Ons geloof in ’n wêreld waar AI altyd antwoord