Hoe om God te vertrou bo jou eie planne

👤 Wilmi Wheeler

As ons eerlik is met onsself, sal ons erken dat ons glad nie daarvan hou om beheer te verloor nie. Ons maak planne. Dis hoe ons as mense funksioneer. Ons beplan ons dae, ons lewens, ons toekoms tot in die fynste detail.

Ons hou van sekerheid, maar wat gebeur wanneer ons planne uitmekaar val? Wanneer ons gebede nie beantwoord word soos ons gehoop het nie? Wanneer die lewe ons tref met seer, verlies, teleurstelling?

Petrus wou beheer, Jesus het oorgegee

Petrus weet presies hoe dit voel. Hy is ‘n man van aksie, iemand wat dinge reguit aanspreek, iemand wat veg vir wat hy glo reg is. Toe die soldate kom om Jesus in Getsemane gevange te neem, gryp hy ‘n swaard en slaan die hoëpriester se slaaf daarmee – soveel so dat sy regteroor in die slag bly (Johannes 18:10).

Dit is nie net ‘n impulsiewe daad nie; dit is ‘n daad van lojaliteit, van beskerming, van weerstand teen ‘n onregverdige situasie. Maar Jesus draai na hom en sê: Bêre jou swaard!

Dit is hier waar ons eie hartstryd begin. Ons verstaan Petrus. Ons verstaan sy drang om iets te doen, om in te gryp, om te keer dat dinge skeefloop. Want is dit nie maar ons instink ook nie? Wanneer ‘n geliefde siek word, wanneer ‘n verhouding uitmekaar val, wanneer finansiële krisisse ons tref… Dan soek ons oplossings, ons beplan, ons veg.

Maar Jesus wys vir Petrus (en vir ons) ‘n ander weg. Nie een van mag nie, maar van oorgawe. Nie ‘n pad van beheer nie, maar van vertroue.

Hoekom is dit so moeilik om te vertrou?

Dit is moeilik om te aanvaar dat ons planne nie altyd God se wil is nie. Ons het drome, verwagtinge, ‘n sekere prentjie van hoe dinge móét wees. Maar hoe dikwels bots ons wil met God se wil?

Dalk het jy gebid vir ‘n deurbraak en dit het nie gekom nie. Dalk het jy gedink ‘n sekere verhouding sou vir altyd hou en toe skei julle paaie. Dalk, soos jy hier sit, het jy seer of ervaar verlies in jou lewe en jy verstaan nie hoekom nie.

Die moeilike waarheid is dat God se wil soms deur trane en lyding loop. Jesus self het in Getsemane gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Maar nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26:39). Selfs Jesus het geworstel met die gewig van God se wil.

En tog… Hy het dit vertrou.

Hoe vertrou ek God se wil as ek bang is?

  1. Onthou dat jy net ‘n deel van die prentjie sien
    Jy kyk na jou situasie uit ‘n beperkte uitgangspunt. God sien die hele storie. Hy weet wat vorentoe lê en Hy is besig om iets in jou lewe te doen wat jy dalk eers later sal verstaan.
  2. Bid vir oorgawe, nie net vir uitkoms nie
    Jesus het in Getsemane gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Maar nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matteus 26:39). Sy gebed was eerlik, maar dit het geëindig in oorgawe. Bid dieselfde vir jou situasie.
  3. Laat gaan van die drang om altyd te verstaan
    Soms sal ons eers in die ewigheid verstaan hoekom sekere dinge moes gebeur. Intussen moet ons vertrou dat God nie sy kinders in die steek laat nie.
  4. Herinner jouself aan God se getrouheid in die verlede
    Dink terug aan vorige situasies waar God vir jou gesorg het. Onthou dat dieselfde God wat jou destyds gelei het, jou nou ook nie sal los nie.

God se plan is altyd beter

Lydenstyd herinner ons dat Jesus nie die maklike pad gekies het nie. Hy het die kruis gedra. Hy het die Vader se wil bo sy eie begeertes geplaas.

Soos Jesus, soos Petrus, soos soveel ander voor ons, moet ons leer om ons planne in God se hande te plaas. Want wanneer ons dit doen, gebeur iets ongeloofliks: Ons ontdek ‘n vrede wat nie afhang van hoe dinge uitdraai nie, maar van Wie ons vertrou.

En dit, liewe leser, is hoe ons leer om God te vertrou bo ons eie planne.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: