Hoekom voel God se wil baie keer so moeilik?

👤 Wilmi Wheeler

As daar nou ‘n vraag is wat elke gelowige op hierdie planeet al gevra het, is dit: As God almagtig en goed is, hoekom laat Hy ons toe om seer te kry? Hierdie is nie ‘n nuwe vraag nie. Dit eggo deur die bladsye van die Bybel. Job het dit gevra terwyl hy op ‘n ashoop gesit het. Dawid het dit soveel keer uitgeroep in die Psalms: “Hoe lank nog, Here? Sal U my vir altyd vergeet?” (Psalm 13:2). Selfs Jesus het dit aan die kruis gebid: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46).

Die waarheid is dat lyding dikwels buite ons begrip lê. Ons leef in ‘n stukkende wêreld waar sonde en gebrokenheid deel van die werklikheid is. Pyn en hartseer is ‘n realiteit vir almal – gelowiges en ongelowiges. Maar as gelowiges glo ons dat lyding nie doelloos is nie. Dit is deel van ‘n groter prentjie.

Ons verwag dat God se wil gemaklik moet wees

Daar is ‘n stille oortuiging in ons harte dat as ons net gehoorsaam is aan God, dinge moet reg uitwerk. Ons wil graag hê dat die lewe vir ‘n gelowige altyd ‘n maklike, duidelike pad is, vol sonskyn en antwoorde wat sin maak. Dit is glad nie die geval nie en dit is ’n moeilike pil om te sluk.

Ons vergeet dikwels van Jesus wat gesê het: “Wie agter My aan wil kom, moet sy kruis opneem en My volg” (Matt. 16:24).

Dis nie juis ‘n boodskap wat ons graag wil hoor nie. Neem jou kruis op? Dit klink nie soos ‘n pad na ‘n gemaklike lewe nie. Maar dit is presies waaroor God se wil dikwels gaan: nie die maklike pad nie, maar die regte een.

God se wil bots met die mens se wil

As ons werklik daaroor dink, is dit nie lyding self wat ons frustreer nie, maar die feit dat ons nie verstaan hoekom ons deur dit moet gaan nie. Ons wil hê dat God ons moet gebruik, maar ons wil ook hê dit moet gebeur op ‘n manier wat vir ons sin maak. Ons wil hê sy wil moet netjies inpas by ons planne.

Maar wat as sy wil ons soms juis breek sodat Hy ons weer kan bou? Wat as ons idees oor sukses en ‘n “goeie lewe” nie dieselfde as Syne is nie? Ons dink dalk dat ‘n goeie lewe een is sonder swaarkry, maar God sien ‘n goeie lewe as een waar ons nader aan Hom beweeg, selfs al is dit deur trane en teleurstellings.

Dis maklik om te sê: “God is goed!” wanneer dinge goed gaan. Maar wat van wanneer dit nie goed gaan nie? Wat as jy jou werk verloor? Wat as jy iemand naby aan die dood afstaan? Wat as jy seerkry? Is God dan nog steeds goed?

Die antwoord is ja. Maar dis nie altyd ‘n maklike ja nie. Dit is ‘n ja wat ons soms met trane en vrae fluister.

Lyding is nie doelloos nie

Ons leef in ‘n stukkende wêreld. Sonde het dinge skeefgetrek en pyn is deel van ons realiteit. Maar as gelowiges glo ons iets radikaal anders: lyding is nie verniet nie. Dit het ‘n doel, al verstaan ons dit nie altyd nie.

Romeine 8:28 sê nie dat alles goed is nie, maar dat God alles ten goede laat meewerk.

Beteken dit dat ons nie mag huil oor ons swaarkry nie? Glad nie. Jesus self het gehuil oor Lasarus se dood, al het Hy geweet Hy gaan hom uit die dood opwek. Ons mag ook treur, wonder, en selfs vra: “Hoekom, Here?” Maar deur dit alles bly Hy teenwoordig.

God se wil vra vertroue, nie net begrip nie

Ons wil graag eers verstaan en dan gehoorsaam wees. Maar geloof werk andersom: ons gehoorsaam eers en vertrou dan dat God weet wat Hy doen. Abraham moes trek sonder ‘n bestemming. Moses moes ‘n see inloop voordat dit oopgaan. Maria moes “ja” sê vir ‘n onverklaarbare swangerskap.

God se wil is nie soos Google Maps of Waze wat vir ons ‘n stap-vir-stap die roete uitlê nie. Dit is ‘n reis waar ons Hom stap vir stap leer vertrou.

So, hoe hou ons aan as dit voel asof God se wil te moeilik is?

  1. Onthou wie God is. Hy is nie ‘n wrede tiran wat hou daarvan om ons deur vuur te laat loop nie. Hy is ‘n Vader wat vir ons lief is.
  2. Wees eerlik oor jou worsteling. God is groot genoeg vir jou vrae. Die Psalms is vol rou eerlikheid en God draai nie sy rug op ons seer nie.
  3. Hou vas aan die groter prentjie. As jy vandag nie verstaan nie, beteken dit nie jy sal nooit verstaan nie. Josef het jare lank nie gesien hoekom hy moes ly nie, totdat hy op ‘n dag die prentjie kon terugkyk en sien hoe God dit gebruik het.
  4. Onthou dat lyding nie die einde van die storie is nie. Die kruis was nie die laaste hoofstuk vir Jesus nie. Die opstanding het gevolg. Net so is ons lyding nie die einde nie. God se wil lei altyd na lewe.

Party dae gaan ons wonder. Party dae gaan ons sukkel om te glo. Maar deur dit alles staan een waarheid vas: God se wil is nie altyd maklik nie, maar dit is altyd goed.

Mag ons leer om Hom te vertrou, selfs wanneer sy wil ons vra om moeilike paaie te stap. Want op die ou end is sy wil ‘n uitnodiging na ‘n lewe saam met Hom. En daar is geen beter plek om te wees nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: