#Imagine – ‘n ontmoeting met Christus

👤 DJ Muller

Tien jaar gelede het die #imagine-beweging hulle ontstaan gevind met inspirasie uit Efesiërs 3:20: “Now to Him who is able to do immeasurably more than all we ask or imagine, according to His power that is at work within us.”  Van 21 – 23 Maart het 2170 jongmense van 121 dorpe en 371 verskillende kerke vir #imagine2024 in Bredasdorp in die Wes-Kaap en Bothaville in die Vrystaat bymekaar gekom. Hulle is vergesel deur 196 vrywilligers en 228 groepleiers.

In Bredasdorp het die kwik vroegdag al oor die 30ºC geklim, maar dit het nie die entoesiasme van die spul jongmense gedemp nie. Na die geskarrel van registrasie en tentopslaan was dit uiteindelik tyd om die energievlakke op te stoot met ‘n kenmekaar-oefening, ‘n praise en worship sessie met ‘n groep ongelooflike musikante, begaafde sangers en die PS-dansspan wat reg was met groot gees.

Deur die verloop van die byeenkoms is PS-sjokolade se gewilde slagspreuke soos PS I love you, PS Besties ens.  aangepas om gesprekssessies in te lei, byvoorbeeld PS I See You, PS I Know You, PS I call you. Dit het gehelp om gewaarwording te skep dat God ons almal raaksien, dat Hy ons elkeen ken en dat ons geroep is om in God se voetspore te volg.

Motiveringspreker, skrywer en diensleraar Ivor Schwartz het die tema verder uitgebrei aan die hand van die bekende storie van Saggeus uit Lukas, waar die tollenaar in ‘n boom klim om Jesus te sien en uiteindelik vir Jesus by sy huis onthaal en die res van sy verlossingsverhaal. Hierdeur is daar gespreksessies ontknoop, waarby tieners kon gesels oor hoe die storie hulle raak, vergelykings tref met hulle eie leefwêrelde en die ooreenstemming met Saggeus se begeerte dat Jesus hom moet raaksien. Uiteindelik bied Saggeus ook ‘n uitdaging ons ons jongmense om ‘n verskil in hulle huise, skole, gemeentes en gemeenskappe te maak.

Verskillende werkswinkels deur die dag het die jeugdiges bemagtig deur vir hulle hulpmiddels te gee om hulle te help floreer. Daar is gekyk na diversiteit, kreatiewe aanbiddingsmetodes, selfbeeld en depressie. Ander sessies het gewys hoe ontmoetings met Jesus in die natuur kan gebeur of geloof deur sport uitgeleef kan word. Dan is daar ondermeer ook gesels oor sosiale media, hoe elkeen ‘n verskil kan maak en om groepsdruk en boelies te hanteer.

Saans se ontmoetingstasies (encounter stations) was ‘n belewenis om te ervaar en was sprekende voorbeelde van hoeveel werk deur die #imagine-span ingesit word om hierdie ervarings vir tieners relevant en insiggewend te maak. Hulle is uitgedaag om hulle uitdagings en struikelblokke te verwoord of uit te beeld met die wete dat Jesus dit raaksien, maar dan ook dat Hy vergewe, vir elkeen liefhet en hulle by die naam ken. Dit was hartverskeurend om te sien hoeveel seer en trauma daar in ons kinders vasgevang is – oor valse etikette wat aan hulle gegee word (soms deur die naaste aan hulle), hoeveel druk en spanning hulle ervaar en selfs ernstiger gevalle van mishandeling en aanranding. Daar was ‘n spesiale omgeespan om die jongmense te begelei, te troos en vir hulle te bid.

Dit was ‘n vreugde en ‘n voorreg om te sien hoe duisende tieners vlerke aan hulle verbeelding gee om op ‘n ontdekkingsreis met Jesus Christus te gaan. Dit was soms verstommend hoeveel energie ‘n praise & worship span onder ‘n klomp jongmense kan losmaak, maar dan ook om te beleef hoe dit hulle inspireer om diep oor Jesus te dink en te praat. Terselfdertyd was die trefkrag van ‘n gewyde stilte van so ‘n groot groep wat die teenwoordigheid van die Heilige Gees intens ervaar, weereens ‘n roepstem. Die sagte mymering van die lied Holy deur ‘n 1000+ mense het selfs die duisternis van beurtkrag oorwin en het vir baie die hart van vanjaar se #imagine vasgevang.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: