Moenie die Heilige Gees in ’n kas bêre nie
👤 Wilmi Wheeler
Dis snaaks hoe mense daarvan hou om sekere goed te bêre. Iets soos daardie fyn porselein teestelle met blommetjies op. As die stel regtig fancy is, het dit dalk ‘n goue-randjie. Daardie teestel staan gewoonlik in ’n vertoonkas of iewers agter saam met ’n lukrake versameling plastiekbakke sonder deksels. Jy’t dalk hierdie stel gekry as ’n trougeskenk, geërf by jou ouma of gekoop by ’n wit olifanttafel toe jy nostalgies gevoel het.
Hierdie stel het ’n spesiale plekkie in jou hart, maar dis net… dis nie vir elke dag nie. Dit mag net gebruik word vir ’n spesiale geleentheid. Soos as die dominee kom huisbesoek doen. Of as koningin Camilla eendag onverwags opdaag vir melktert. Maar verder? Off limits!
En dit laat my wonder… Is dit nie dalk hoe ons soms die Heilige Gees hanteer nie?

Die Heilige Gees maak ons dalk soms… ongemaklik
Ons hoor baie van God die Vader, die Een wat alles gemaak het. En Jesus, natuurlik, Wie vir ons gesterf het. Maar die Heilige Gees? Uhm… wel… daar’s ’n duif. En ons vier Pinksterfees. Jy onthou dalk iets van ‘vertrooster’ as jy mooi geluister het tydens katkisasie of ’n pinksterpreek of twee. En dan kom daar mense wat sê om in tale te praat sinoniem is met die Heilige Gees. Dan word Pinkster en die Heilige Gees ’n ongemaklike onderwerp.
Soms voel dit selfs bietjie scary. En as jy mense hoor sê die Gees het met hulle gepraat, of hulle voel die Gees lei hulle. Dan dink jy dalk: “Ek wens ek kon dit ook sê… maar ek hoor niks nie.”
Oor die algemeen voel dit partykeer of die Gees daai goue-randjie teestel is. Iets fynsinnig wat net op sekere geleenthede gebruik moet word. Mooi. Maar broos. Moeilik om reg te hanteer.
Wat sê Jesus oor die Heilige Gees?
Tog wys Jesus self vir ons iets heel anders. In Johannes 14:16-17 sê Hy:
“En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
By julle bly. In julle wees. Nie net vir spesiale geleenthede nie. Nie net op Kersdag of Pinkster nie of wanneer die dominee kom kuier nie. Die Heilige Gees is nie ‘n ornament wat ons net uithaal as dit by die dekor pas nie. Hy is woonagtig. Hy’s deel van jou daaglikse lewe… Of jy nou in ’n vervelige vergadering sit, met jou kinders skool toe jaag of in die ry by Binnelandse Sake staan.
Dis dalk hoekom Pinkster vir baie van ons half ongemaklik maak. Dit bring die Gees skielik reg voor jou neer. En nie net as ’n vae idee of ’n mooi liedjie oor wind en vuur nie. Nee, as ’n aktiewe teenwoordigheid. ’n Realiteit wat kom inmeng.
En ons hou nie altyd van inmeng nie.
Die Heilige Gees is nie net daar wanneer jy optimisties oor die wêreld dink of tydens mooi oomblikke gedurende lofprysing nie. Die Gees wil jou uitdaag. Jou lei. Jou aan die gang sit. Jou help vergewe. Jou aanhits om lief te hê.
En soms… Ja, kom ons wees eerlik, is dit makliker om net maar die teestel in die kas te los. Maar die Heilige Gees is nie ’n delikate teestel nie. Hy is die beker koffie waarsonder jy nie jou dag kan begin nie.
Hy is die asem in jou longe, die vuur in jou bene, die sagte stem in jou gedagtes.
Die Heilige Gees is nie net teenwoordig wanneer jy sing nie, maar ook as jy stoei. Nie net op Pinkster nie, maar op elke gewone dag.
Moenie Hom bêre nie. Nooi Hom in en luister.