Nuwejaarsvoornemens? Vergeet dit, kom ons bid!

👤 Wilmi Wheeler

Dis die einde van Desember en jy sit met ‘n glasie iets in die een hand en ‘n lys vol nuwejaarsvoornemens in die ander. 2025 gaan my jaar wees! beloof jy jouself, terwyl jy groot droom oor hoe jy daardie 10 kilogram gaan verloor, ‘n nuwe taal gaan leer en elke dag 5 kilometer gaan draf. Ons almal was al daar. Maar dan kom Februarie. Daardie “New Year, New Me” energie verdwyn vinniger as ‘n pak tjips by ’n braai. Nou sit jy met skuldgevoelens en probeer onthou wanneer laas jy jou gymkaart gesien het…

As ons eerlik is, veroorsaak nuwejaarsvoornemens meer angs as opgewondenheid. En terwyl goeie gesondheid en persoonlike groei wonderlike doelwitte is, is dit dalk tyd om ons fokus te skuif. Maar wat as ons 2025 begin met iets anders? Iets wat nie oor uiterlike veranderinge gaan nie, maar oor innerlike vrede?

Nie nuwejaarsvoornemens nie, maar gebed

Nou hoor ek jou al sug. “Meer bid? Regtig? Ek het skaars tyd vir myself.” En weet jy wat? Jy’s nie alleen nie. Ons enigste gebed vir die dag is dikwels daardie 30 sekonde-lysie waardeur ons jaag net voordat ons aan die slaap raak, half uit plig, half uit moegheid.

Maar wat as gebed nie net ‘n roetine is wat ons afmerk nie?

Die geheim is om gebed bewustelik te benader. En ja, dit mag aanvanklik ongemaklik voel, veral as bid nie deel van jou normale roetine is nie. Dis soos om vir die eerste keer ‘n burpee te doen: jou spiere voel vreemd, jou balans is af en jy wonder of jy nie net eerder op die bank moes bly lê nie. Maar met tyd raak dit natuurliker en jy begin die voordele daarvan sien.

Begin klein. Maak nie saak hoe vreemd dit voel nie, begin net. Sit ‘n paar minute opsy deur die loop van jou dag en wees eerlik met God. Jy hoef nie groot woorde of teologiese terme te gebruik nie. Bid net oor wat op jou hart is. En as jy nie weet wat om te sê nie? Dis ook okay. Romeine 8:26 herinner ons: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”

Gebed hoef ook nie altyd formeel of in stilte te wees nie. As jy meer kreatief is, probeer ‘n gebedsdagboek. Skryf jou gedagtes, vrae en waarmee jy sukkel neer – dis soos ’n Dear Diary, maar met God as jou gehoor.

Of dalk hou jy daarvan om buite te wees. Gaan stap en praat met God soos jy sou met ‘n vriend. Dit gaan oor die verhouding, nie oor die formaat nie.

Vir diegene wat sukkel om aan die gang te kom, is die Bybel ‘n wonderlike hulpmiddel. Daar is soveel gebede in die Psalms wat ons kan gebruik as inspirasie. Psalm 23 is ‘n pragtige voorbeeld van hoe ons God se leiding en teenwoordigheid in ons lewens kan vra. Of kyk na die Onse Vader in Matteus 6:9-13, wat Jesus self vir ons gegee het as ‘n gids. Hierdie gebede gee ons woorde wanneer ons eie woorde opraak.

En wat van gebed as deel van jou gesin of, durf ek dit voorstel, vriendekring? Dis ‘n wonderlike manier om mekaar te ondersteun en te herinner dat ons nie alleen is in ons stryd nie. Dit mag aanvanklik awkward voel om hardop saam met ander te bid, maar dit bou ‘n ongelooflike gevoel van gemeenskap en geloof.

Die belangrikste ding om te onthou is dat gebed nie oor perfeksie gaan nie. Jy hoef nie ‘n heilige te wees om te bid nie. Jy hoef nie ‘n perfekte gebed uit te dink nie. God ken jou hart. Hy weet wat jy nodig het nog voordat jy ‘n woord uiter. Gebed is nie daar om God in te lig nie; dit is daar om ons harte nader aan Syne te bring.

Dus, hierdie jaar, kom ons los daardie oorweldigende lyste en onrealistiese doelwitte. Kom ons maak eerder plek vir gebed. Nie omdat ons moet nie, maar omdat ons kan. Want in ‘n wêreld waar ons altyd besig is om die volgende groot ding na te jaag, is daar niks groter as die Een wat reeds alles weet nie.

Maak 2025 ’n gebedsjaar. Begin klein. Begin ongemaklik. Haal diep asem en begin met die woorde: “Here, hier is ek.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: