“Ons sing omdat ons glo dat God saam met ons op pad is.”
Wilmi Wheeler
Daar is iets besonders aan die manier waarop ’n liedjie ’n mens kan terugvat na ’n spesifieke oomblik.
Jy hoef soms nie eens die eerste vers klaar te hoor nie. ’n Paar note is genoeg en skielik is jy weer daar: By ’n troue, ’n begrafnis, ’n verhouding, ’n tyd in jou lewe wat jy gedink het jy lankal agtergelaat het.
Jou kop onthou dalk nie dadelik al die woorde nie, maar jou lyf onthou.
Dit was waar Kara Hutten, finalejaar teologiestudent, op die tweede oggend van die moderamen begin het.
By musiek en ritme. By die vreemde vermoë van klank om iets binne ’n mens wakker te maak.

Sy het die saal genooi om vir ’n oomblik net teenwoordig te wees. Om asem te haal. In. En uit. Om hier te wees, in hierdie lyf, op hierdie stoel, in hierdie oomblik.
Van daar het Kara na Psalm 98 beweeg: “Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here.”
Die Psalm se uitnodiging tot sang kom nie omdat die wêreld uiteindelik perfek geword het nie. Dit kom uit herinnering. Die psalmdigter kyk terug na God se dade, sy trou, sy liefde en sy verlossing en daarom word die hele aarde opgeroep om te sing.
Die lied begin by God. Nie by ons sekerheid of by ’n probleemlose lewe nie. Nie by ’n kerk wat presies weet waarheen sy op pad is nie. By God se trou.
“Ons sing omdat ons glo dat God saam met ons op pad is,” sê Kara.
Daarin lê iets belangriks vir ’n kerk wat gereeld probeer uitwerk wat volgende moet gebeur. Ons sing nie omdat ons reeds by die bestemming aangekom het nie. Ons sing omdat ons glo ons loop nie alleen daarheen nie.
God wag nie aan die einde van die pad totdat ons alles uitgefigure het nie. God is teenwoordig ín die pad. In die vrae. In die onsekerheid. In die moeilike gesprekke. In oomblikke waarin die volgende tree nog nie vanselfsprekend is nie.
En soms is dit moeilik om dit te onthou. Soms raak ons eie lied stil. Soms voel geloof minder soos ’n uitbundige koor en meer soos ’n mens wat net probeer om die volgende asemteug te haal.
Dit is waar Kara se beeld van saamsing vir my nog sterker geword het.
Want miskien sing ons juis om te onthou. En soms, wanneer ons self vergeet het, sing ander rondom ons totdat ons weer kan onthou.
Wanneer ek nie kan of wil sing nie, kan iemand langs my dalk nog.
Wanneer jou stem breek, dra die stemme rondom jou die melodie ’n ent verder.
Wanneer ek nie meer die woorde kan onthou nie, sing die geloofsgemeenskap dit rondom my totdat ek dit weer begin herken.
Dalk is dit een van die mooiste beelde vir kerkwees. Kerk is nie ’n groep mense wat almal ewe seker en ewe sterk is nie, maar mense wat mekaar onderweg herinner dat God nog hier is.
En miskien is dit ook ’n belangrike herinnering vir ’n moderamen.
’n Mens kan maklik dink so ’n vergadering gaan hoofsaaklik oor agendas, strukture, verslae en besluite. En natuurlik gaan dit ook daaroor. Maar onder alles lê ’n dieper vraag: Kan ons, te midde van al ons onderskeiding en beplanning, steeds raaksien dat God saam met ons op pad is?
Ons hoef nie voor te gee dat ons al die antwoorde het nie. Ons hoef nie onsekerheid weg te sing nie. Ons hoef selfs nie altyd sterk te klink nie.
Ons kan eenvoudig aanhou loop. Aanhou luister. Aanhou asemhaal. Aanhou sing.
Nie omdat ons weet presies waar die pad gaan eindig nie. Maar omdat ons glo dat God reeds saam met ons daarop is.


