Redder-kompleks: Wees eerder ‘n broer, ‘n suster, en reisgenoot
👤 Daniel de Wet
Ek onthou hoe ek ‘n paar jaar gelede Tim Keller se boek Counterfeit Gods gelees het. Dit was een van daardie boeke wat my onverwags getref het – nie net met nuwe insigte nie, maar ook as ‘n soort spieël wat ek nie geweet het ek benodig nie. Een aspek het my veral diep geraak: hoe maklik ek ander dinge – myself, my drome en my goedbedoelde planne – hoër kan ag as my roeping. Hoe selfs pogings om ander te help subtiel kan verander in ‘n soeke na betekenis en erkenning.
Dit is ‘n ontstellende waarheid: ek begin dalk met ‘n hart vol diensbaarheid, maar voor ek weet, bou ek ‘n wêreld waarin mense afhanklik raak van my.
Die “redder-kompleks” en die illusie van hulp
Baie mense het al gesien hoe iemand – met die beste bedoelings – betrokke raak by ‘n gemeenskap, ‘n uitreik of ‘n projek, en hoe dit mettertyd verander. Dit begin as ‘n daad van diens – ‘n opregte begeerte om ‘n verskil te maak. Maar iewers langs die pad verskuif die fokus. Wat as ‘n goeie bedoeling begin, kan onbewustelik ‘n afhanklikheidskultuur skep wat nie volhoubaar is nie. Wanneer mense afhanklik gemaak word, word hul selfstandigheid en waardigheid ondermyn – dikwels sonder dat dit die bedoeling was.
Sommige noem dit ‘n “redder-kompleks”—die subtiele manier waarop ‘n mens begin glo dat jy self die verskil maak. Dit is dikwels makliker om namens ander op te tree as om werklik saam met ander te werk. Dit is makliker om oplossings te probeer bied as om mense toe te rus om hul eie oplossings te vind. Maar wanneer hulpverlening selfgesentreerd raak, verskuif die fokus: die “held in die verhaal” is nie meer diegene wat bemagtig word nie, maar die een wat gee.
Drie waarskuwingstekens
- Jy luister nie regtig nie.
Daar is dikwels ‘n aanname dat ek weet wat ander nodig het, sonder om werklik na hul stemme te luister. Die subtiele nuanses, die ongesproke woorde, die diepste drome en stories raak verlore wanneer ek nie met oop ore en ‘n oop hart luister nie. - Mense raak afhanklik van jou.
Wanneer ek self die oplossings voorsien, eerder as om ander toe te rus, plaas ek myself onbewustelik as die “antwoord”. Dit ontneem mense die geleentheid om verantwoordelikheid te neem vir hul eie besluite en vir hul gemeenskappe. - Jy fokus op eie suksesse.
Sukses word dikwels verbind aan tasbare resultate, maar ware verandering gebeur dikwels buite sig. As ons net fokus op onmiddellike vrugte, mis ons dieper groei en transformasie.
Hoe kan ons ‘n nuwe perspektief ontwikkel oor projekte, uitreike en diensbaarheid?
- Begin deur te luister.
Moet nooit aanneem jy weet wat mense nodig het nie. Vra vrae, sit stil en luister, en probeer om ander se werklikhede vanuit hul perspektief te verstaan. Slegs dan kan jy die dieper behoeftes identifiseer en die drome ontdek wat onder die oppervlak lê. - Gee beheer oor.
In plaas daarvan om die “held” te wees, bemagtig ander om self verantwoordelikheid te neem. Rus hulle toe met die nodige kennis en vaardighede, en skep ruimte vir selfstandigheid en groei. Dit is in daardie ruimte waar werklike verandering gebeur. - Werk saam met ander.
Niemand het alle antwoorde nie. Deur vennootskappe te bou, kan ons ‘n groter impak maak. Wees oop om saam te werk, van ander te leer en jou eie beperkinge te erken en te omhels. - Dink langtermyn.
Dit gaan nie net oor ‘n eenmalige uitreik of projek nie, maar oor verhoudings. Fokus op die bou van verhoudings, die ontwikkeling van mense se vaardighede en die skep van ‘n omgewing waarin almal kan groei en floreer. - Hou die fokus op die koninkryk van God.
Ons is nie hier vir erkenning nie. Ons is hier vir Christus en Sy koninkryk.
Wees ‘n broer, ‘n suster, ‘n reisgenoot, nie ‘n redder nie
Ons is nie geroep om ander se probleme namens hulle op te los nie, maar om langs hulle te staan, met respek vir hul waardigheid en selfstandigheid.
Die gemeenskap van gelowiges is nie ‘n instelling wat hulp vanuit ‘n verhewe posisie bied nie, maar eerder ‘n groep mense wat saam met ander deur die seisoene van die lewe stap. Ons taak is nie om ander te red nie – dit is wat Jesus Christus doen.
Wees ‘n vriend, ‘n broer, ‘n suster, ‘n reisgenoot op die pad; iemand wat bemoedig, ondersteun en inspireer. Wees ‘n teenwoordigheid van hoop en liefde, ‘n getuie van God se genade, en ‘n instrument van Sy vrede.