Robert Vosloo vra: Sien ons mekaar regtig raak?

Wilmi Wheeler

Wat beteken dit om ’n ander mens werklik raak te sien? In sy nuwe boek, Redeeming Identity: A Theology of Recognition, ondersoek die teoloog Robert Vosloo hierdie vraag en wys hoe erkenning nie net ons verhoudings met mekaar raak nie, maar ook die hart van ons geloof.

Soms is daar nie woorde nodig om vir iemand te sê: Ek sien jou.

Ná die tragiese dood van sy seun het die musikant Nick Cave op ’n dag weer ’n bekende wegneemeteplek besoek. Die vrou agter die toonbank, wat hom al dikwels bedien het, het geweet waardeur hy gaan. Maar sy het nie probeer om die regte woorde te vind nie. Toe hy betaal, het sy bloot sy hand liggies gedruk.

Daardie klein gebaar het Cave diep geraak. Te midde van sy verlies het iemand hom raakgesien, sonder om sy pyn te probeer verklaar of regmaak.

Dit is een van die verhale wat Robert Vosloo tydens die boekbekendstelling vertel het. Dit illustreer iets van die vraag waarmee hy in sy boek worstel: Wat beteken dit om iemand werklik te erken?

Waarom ’n teologie van erkenning?

Ons praat dikwels van ’n teologie van hoop, van liefde en van vreugde. Maar waarom, vra Vosloo, praat ons nie ook van ’n teologie van erkenning nie? Dit is immers ’n tema wat regdeur die Bybel loop.

Dink aan die talle ontmoetings waarin mense mekaar herken, soms ná jare van vervreemding, verlies of konflik. Die Josefverhale in Genesis is hiervan ’n treffende voorbeeld. Daar is oomblikke van herkenning en omhelsing, maar ook herinneringe aan verraad, skuld en pyn wat nie sommer verdwyn nie.

Robert Vosloo, ek sien jou raak

Vosloo onderskei tussen twee betekenisse van erkenning. Die eerste is om iemand te herken: om te weet wie voor jou staan. Die tweede gaan veel dieper. Dit is om iemand te erken: om die ander se menswaardigheid, identiteit en bestaan te bevestig.

En juis hierdie tweede betekenis het ingrypende implikasies vir hoe ons oor God, onsself en mekaar dink.

Erkenning is meer as wat die oog kan sien

Een van die belangrike gedagtes in Vosloo se boek is dat erkenning nie bloot ’n intellektuele handeling is nie. Dit gebeur nie net in ons koppe of deur wat ons sê nie.

Erkenning is ook liggaamlik. Dit lê in die manier waarop ons na iemand kyk, hoe ons luister, ons stemtoon, ons teenwoordigheid en soms in ’n eenvoudige aanraking.

Daarom put Vosloo nie net uit teologiese en filosofiese werke nie, maar ook uit romans, films en kuns. Hierdie verhale en kunsvorme help ons om iets van die ingewikkeldheid van menslike ontmoetings te verstaan.

Want wanneer voel ’n mens werklik raakgesien?

Nie noodwendig wanneer iemand vir jou sê dat hulle jou erken nie. Soms juis wanneer iemand stilbly, luister of op ’n onverwagse manier wys dat jou verhaal saak maak.

Die handdruk waarvan Cave vertel, is ’n voorbeeld hiervan. Dit was nie ’n groot gebaar nie. Maar dit het ruimte geskep vir sy verdriet, sonder om dit met maklike antwoorde toe te smeer.

Erkenning kan nie goedkoop wees nie

Tog waarsku Vosloo dat erkenning nie bloot oor mooi gebare en goeie bedoelings kan gaan nie.

In Suid-Afrika dra ons steeds die letsels van ’n geskiedenis waarin mense se menswaardigheid sistematies misken is. Die oomblik van nasionale versoening in 1994, hoe betekenisvol ook al, het nie vanself die trauma, skuld en strukturele ongeregtigheid van die verlede beëindig nie.

Ons kan nie sê ons erken mekaar, terwyl ons die werklikheid van ongelykheid en onreg ignoreer nie.

Dit is waarom Vosloo erkenning in gesprek bring met geregtigheid én genade. Ware erkenning vra dat ons die ander se verhaal ernstig opneem, ook wanneer dit ons ongemaklik maak of ons eie aannames uitdaag.

Hy herinner ons ook aan die belangrikheid daarvan om die misterie van die ander mens te respekteer. Met verwysing na Dietrich Bonhoeffer wys hy daarop dat ons nooit moet dink ons ken of verstaan iemand volkome nie.

Elke mens is meer as ons kategorieë, ons vooroordele of die enkele verhaal wat ons van hulle ken.

Om iemand te erken, is dus nie om te beweer dat ons alles van hulle weet nie. Dit is eerder om met nederigheid te besef hoeveel ons nog nie weet nie.

Wat beteken dit vir die kerk?

Hierdie gedagtes laat ’n mens noodwendig nadink oor ons lewe as geloofsgemeenskap.

Ons praat graag van ’n kerk waar almal welkom is. Maar voel mense ook werklik raakgesien? Is daar ruimte vir diegene wie se stories anders as ons eie is? Vir mense wat swaarkry, twyfel, seerkry of nie maklik in ons bekende kategorieë pas nie?

En is ons bereid om nie net vriendelik teenoor mekaar te wees nie, maar ook eerlik te worstel met die dinge wat mense se waardigheid aantas?

Vosloo se werk nooi ons om erkenning nie as ’n eenmalige daad of ’n eenvoudige tegniek te verstaan nie, maar as iets wat ons verhoudings voortdurend vorm.

Dit bied ook ’n besondere geloofsperspektief: Ons behoefte om deur ander erken te word, staan in verhouding tot die dieper teologiese vraag wat dit beteken om deur God erken te word. En hoe behoort hierdie erkenning deur God die manier waarop ons na ander kyk, te verander?

Miskien begin die antwoord nie altyd by groot verklarings of indrukwekkende woorde nie.

Miskien begin dit by die bereidheid om werklik teenwoordig te wees. Om te luister voordat ons oordeel. Om ruimte te maak vir iemand anders se verhaal. Om te erken dat ons nie alles verstaan nie.

En soms, soos in daardie klein wegneemeteplek, begin dit met die ligte druk van ’n hand.

’n Eenvoudige gebaar wat sonder ’n enkele woord sê: Ek sien jou. Jy maak saak.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: