Tannie Louise Roberts sê oor en oor “ja” vir die Here
Wilmi Wheeler
In Amerika praat hulle van Southern Hospitality.
Dis daardie amper mitiese gasvryheid van die Amerikaanse Suide waar mense jou laat sit voordat jy behoorlik hallo gesê het, iets te ete voor jou neersit sonder om te vra of jy honger is en jou teen die einde van die kuier laat voel asof jy al jare deel van die familie is.
In die Kaap dink ek draai ons die kompas net ’n bietjie. Hier kry ’n mens Northern Suburbs Hospitality.
Ek het dit onlangs by die sitting van die De Tyger Ring beleef. Gemeentes uit Goodwood en Parow se wêreld. Mense groet, lag en gesels oor tafels heen. Daar word plek gemaak. Niemand lyk juis haastig om belangrik te wees nie.
En hoe langer die aand aangegaan het, hoe duideliker word dit: Hierdie mense is lief vir die kerk. Vir die mense daarvan. Vir gemeentes met geskiedenisse, gewoontes en eienaardighede.
Een van dié mense word later die aand na vore geroep.
Tannie Louise Roberts.
Sy lyk nie besonder gemaklik daarmee dat die aand skielik ’n bietjie oor haar gaan nie.
Dit pas eintlik by die storie wat ds. Gerhard van der Merwe van Goodwood Moedergemeente oor haar begin vertel.

Louise is sedert 1985 deel van die gemeente. Dit is al meer as vier dekades. Lank genoeg dat ’n gemeente nie meer bloot die plek is waarheen jy gaan nie. Dit raak verweef met jou lewe. Jy leer mense se kinders ken. Jy sien gesinne verander. Jy deel verjaarsdae, siektes, troues en begrafnisse.
Maar Louise het nie net saam met die gemeente ouer geword nie. Sy het haarself oor jare heen toegerus om daarin te dien.
In die vroeë negentigerjare studeer Louise Bybelkunde, Christelike Etiek, Sending en toe nood- en traumaberading. Hierdie studies hou haar vir agt jaar besig. In dié jare kruis haar paaie ook met wyle oom Tienie Brits, wat haar raakgesien en begin mentor het. Hy leer haar preek en hoe om ’n roudiens te hou.
Oom Tienie het blykbaar graag gesê: “’n Regte persoon op die regte tyd en die regte plek, is iets van die Here.”
Jare later sit ’n mens in ’n ringsitting en wonder of Louise vir hom só ’n persoon was. En hy ook vir haar. Want lank nadat ’n mentor weg is, loop sy invloed soms nog op twee voete rond.
In 2006 word Louise as ouderling verkies. In 2011 word sy Goodwood Moedergemeente se eerste geestelike dienswerker. Haar bediening kry veral vorm onder ouer mense. Dit is juis daar waar Louise oor jare heen ’n bekende teenwoordigheid word. Iemand wat mense ken. Wat saam met hulle bid. Wat weet wanneer ’n mens moet praat en wanneer jy liewer moet sit.
Gerhard noem haar sommer reguit “ons dominee in die tehuise.” Iemand by een van die ouetehuise het glo eendag vir hom gesê: “Dominee Van der Merwe, jy hoef mos nie hier te preek nie. Louise is hier.”
Die vertrek lag. Maar hulle sê mos daar skuil ‘n bietjie waarheid agter elke grappie.
Jy verdien nie daardie soort vertroue wat Louise gekry het met ’n posbenaming nie. Jy kry dit deur op te daag. Oor en oor.
Gerhard sê dat as ’n mens al die stories uit die ouetehuise oor haar kon hoor, jy hoendervleis sou kry. Hy vertel hulle nie almal nie. Dalk hoef hy ook nie. Mens kan dit hoor wanneer hy oor haar praat. Daar is sekere mense oor wie ’n gemeente nie neutraal kan praat nie.
Louise is een van hulle.


Louise het vanjaar in Maart afgetree. Of, soos Gerhard dit veel beter stel: Sy het afgetree, maar sy het nie uitgetree nie. Die fakkel is oorgegee en iemand anders help nou met die werk wat sy vir jare gedoen het. Maar wanneer mense haar vra om ’n begrafnis te lei, gaan sy steeds.
Haar bediening het dalk afgeskaal, maar haar roeping nie. “Ek wens meer mense kan iets van hierdie roeping verstaan,” sê Gerhard.
Dan kry Louise self die kans om te praat. Ná alles wat pas oor haar gesê is, sou niemand haar kwalik neem as sy vir ’n oomblik terugkyk na al die jare, al die werk en al die mense nie. Maar dit is nie waar sy begin nie.
“Ek moet sê dit was alles genade gewees.”
Sy praat oor God se Gees. Oor God se teenwoordigheid wat haar deur moeilike tye in haar bediening gedra het. Oor die krag om aan te hou.
“Nou nog gee Hy vir my krag,” sê sy.
Later staan ds. Jako van Dyk van NG Kerk Monte Vista namens die ring op. “Mens dink altyd mens moet iets groots of buitengewoons doen,” sê hy. Dan kyk hy na Louise. “Maar hier het sy iets normaal gedoen. Mense met liefde bedien, vir mense gesorg.”
Ek dink dit is daardie aand dalk die mooiste ding wat iemand kon sê, want ons raak maklik beïndruk deur die buitengewone. Die groot projekte. Die indrukwekkende getalle. Die mense wat voor staan. Die dinge wat maklik in ’n verslag of op ’n verhoog pas.
Maar ’n groot deel van kerkwees gebeur eintlik op plekke waar niemand applous gee nie.
Langs ’n bed.
In ’n sitkamer.
By ’n familie ná ’n dood.
In ’n gesprek met iemand wat nie weet hoe hulle môre gaan aandurf nie.
Dit gebeur wanneer iemand hulle roeping van liefde lank genoeg bly uitleef sodat mense begin weet: Wanneer sy hier is, is ons nie alleen nie.
Toe sing die ring vir Louise:
Laat Heer u seën oor haar daal.
En om my sit hierdie warm, luidrugtige, laggende klomp mense van Goodwood en Parow. Ek dink weer: Northern Suburbs Hospitality.
’n Klomp mense wat lief is vir die kerk. En voor hulle staan Tannie Louise.
Iemand wat vir meer as vier dekades gewys het dat roeping nie altyd buitengewoon lyk nie.
Soms lyk dit bloot soos iemand wat bly opdaag.



