Badisa beteken ‘herders’ in Sesotho

Wilmi Wheeler

Vir ’n algemene jaarvergadering was daar verdag baie sprake van opstyg.

Daar was papiervliegtuigies. “Air Badisa”. ’n Lugvaarttema wat tot in die kleinste besonderhede deurgetrek is. Selfs die mense wat die verversings bedien het, het vir die geleentheid soos vlugpersoneel aangetrek.

Die tema was From Paper to Possibilities en die boodskap was eenvoudig genoeg: ’n stuk papier hoef nie net ’n stuk papier te bly nie. Dit kan ’n idee word. ’n Plan. ’n Besluit. ’n Nuwe moontlikheid. Selfs, met ’n paar strategiese voue, iets wat vlieg.

Op 9 September het mense van regoor die Badisa-netwerk by Die Bron by Willowbridge saamgekom vir ’n daglange konferensie en dié aand die organisasie se algemene jaarvergadering. Die aandprogram is doelbewus anders as ’n tradisionele AGM aangebied. Meer soos ’n regstreekse televisieproduksie, met onderhoude, musiek, vermaak en die bekendstelling van Badisa se digitale jaarverslag.

Dit was lig. Energiek. Kreatief.

Maar iewers tussen al die praat van vlugplanne en moontlikhede, tref ’n ander beeld my.

Badisa beteken “herders.” En skielik land die hele storie weer op die grond.

Die papier waarvan ons praat

Want in die wêreld van maatskaplike dienste is “papier” nie net iets waaruit jy ’n vliegtuig vou nie.

Papier kan ’n kind se lêer wees. ’n Verslag oor verwaarlosing. ’n Aansoek om pleegsorg. ’n Vorm wat iemand moet invul wanneer sy of haar lewe reeds ingewikkeld genoeg is. Dit kan ’n begroting wees wat nie heeltemal wil klop nie. ’n Skenkingsaansoek. ’n Hofverslag. ’n Sorgplan. ’n Dienskontrak. ’n Bladsy vol statistieke waarin elke syfer eintlik ’n mens verteenwoordig.

Badisa se eie 2025/26-jaarverslag is soos ’n “flight plan” saamgestel: Klik op ’n bestemming en jy beweeg tussen alternatiewe sorg, dienste aan ouer persone, gestremdheidsorg, substansafhanklikheid, kinders en gesinne, maatskaplikewerk-kantore en verpleging.

Op papier is dit diensvelde. In die werklikheid is dit mense.

’n Kind wat veilig moet wees. ’n Ouer persoon wie se wêreld kleiner geword het. Iemand wat probeer loskom van afhanklikheid. ’n Gesin wat nie weet hoe môre gaan lyk nie. ’n Persoon met ’n gestremdheid wat nie bloot versorg wil word nie, maar met waardigheid wil leef.

Dalk is dit waarom Badisa se slagspreuk so baie sê: “Social Services for All. Dignified. With heart.”

Meer as ’n eeu se herderswerk

Die naam Badisa self is jonger as die werk wat daaragter lê.

Die organisasie is in 2003 gevorm toe die maatskaplike dienste van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die VGKSA se Kaapstreek saamgevoeg is. Die verhaal wat dit voorafgaan, strek egter meer as ’n eeu terug in die kerke se diakonale dienswerk. Vandag funksioneer Badisa onder toesig van die twee kerke se gesamentlike bediening, Diaconia.

As ’n mens mooi daaroor dink, is dit eintlik honderd jaar van mense wat oor en oor moes besluit: Ons gaan nie wegkyk nie.

Vandag gebeur daardie werk deur 134 gemeenskapsgebaseerde programme in die Wes-Kaap en dele van die Noord- en Oos-Kaap.

En miskien is dít waar die beeld van die herder die beste pas. ’n Herder staan immers nie op ’n afstand en wys bloot in watter rigting die trop moet loop nie. ’n Herder bly naby genoeg om raak te sien wanneer iets verkeerd is. Wie agterraak. Wie seerkry. Wie verdwaal. Wie beskerming nodig het.

Dit klink minder indrukwekkend as “social impact”. Maar dit is waarskynlik baie nader aan hoe maatskaplike dienswerk in die werklikheid lyk.

Van papier na moontlikheid

Daar is iets besonders aan ’n organisasie wat sy jaarverslag in die taal van moontlikhede aanbied. ’n Jaarverslag kyk immers gewoonlik terug:

  • Hier is wat ons gedoen het.
  • Hier is die geld wat spandeer is.
  • Hier is die statistieke.
  • Hier is die mense wat ons bereik het.

Maar From Paper to Possibilities vra ’n ander vraag: Wat kan van hier af gebeur?

Dit is natuurlik maklik om oor moontlikhede te praat wanneer daar verhoogligte, musiek en goeie koffie is.

Moeiliker wanneer ’n maatskaplike werker se gevallelading te groot is. Wanneer befondsing onder druk is. Wanneer die nood groter as die beskikbare hulp voel. Wanneer daar nog ’n kind, nog ’n gesin, nog ’n ouer persoon, nog ’n mens voor jou staan wat hulp nodig het.

Dán word “moontlikheid” minder van ’n mooi konferensietema en meer van ’n daad van geloof. Die geloof dat ’n situasie nie hoef te eindig soos dit begin het nie. Dat sorg iets kan verander. Dat waardigheid herstel kan word. Dat ’n gemeenskap kan saamstaan. Dat ’n kerk meer kan doen as om net oor barmhartigheid te praat.

Dat papier (’n plan, ’n verslag, ’n vorm, ’n skenking, ’n handtekening) soms die eerste klein vou kan wees waardeur iets begin vlieg.

En toe die ligte uiteindelik afgaan en Air Badisa se metaforiese enjins stilraak, bly dié naam by my.

Badisa… Herders.

Mense wie se werk nie noodwendig is om voor te hardloop en almal te red nie, maar om naby te bly. Om op te let. Om te beskerm. Om te begelei. Om saam te soek na veiliger grond.

Daar is baie maniere om ’n organisasie se impak te meet.

Maar miskien begin Badisa s’n by iets wat moeiliker op ’n balansstaat pas: Om tussen al die papierwerk steeds die mens raak te sien. En dan saam met hulle na die moontlikheid te begin stap.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: