Liminaliteit van verandering – Tussen belydenis en ervaring
DJ Muller
Liminaliteit! Jy ken dit, en jy het dit vir seker al in jou lyf gevoel: “Ek is iewers, maar ek is ook nêrens.” Dit is die lewe in die huis se gang nadat jy uit die een vertrek gestap het, maar nog nie in die volgende een ingestap het nie. In die lewe is hierdie gang baie keer juis die plek waar verandering gebeur.
Ek hou nie van sulke gange nie.
Paarl Mall word tans oorgedoen. Om te sê dat dit deurmekaar is daar binne, is om dit ligtelik te stel. Behalwe vir die geraas en stof wat hul weg vind tot in die diepste holtes van jou skedel, voel alles skielik uit plek. Waar daar voorheen ’n uitgang was, is nou ’n tydelike muur. Om by Markhams uit te kom, moet jy deur ’n gangetjie loop wat nooit daar was nie. Jy navigeer rondom stukkende teëls, gevaarborde en mense wat die stof probeer bymekaar vee. Bo jou hang ’n lig uit die dak en dele van die plafon word met stutte bo gehou.
“Nee Henry!” vererg die tannie wat voor my stap haar terwyl sy haar man aan die arm gryp en hom tot stilstand bring. “Waar is ons dan nóú?”
Ek probeer myself ook posisioneer deur na bakens te soek wat eens bekend was. Mr Price was altyd af in die gang tussen Woolies en Pick n Pay, maar nou is selfs Mr Price weggesteek agter tydelike skerms en groot borde wat sê: “This Way”.
This way waarheen?
Ek bevind my weer in ’n gang. ’n Plek waar ek ook saam met Henry se vrou wil vra: “Waar is ek dan nóú?”
Die realiteit is dat hierdie vraag soms eenvoudig nie ’n konkrete antwoord het nie.
Liminaliteit.
Soms beleef ons in die lewe dat ons skielik verlore voel in ons eie velle. Ons weet iets is besig om te verander, want die bekendheid en sekerheid van hoe dinge was, is nie meer iets wat ons herken nie. Tog is die toekoms – hoe dit gaan lyk ná die “gang” – nog ’n raaisel.
Dit is juis in hierdie oomblikke dat ons, veral as gelowiges, bewus raak van die afstand tussen wat ons bely ons glo en dit wat ons eerlik moet bely ons voel.
Kom ons wees eerlik: ons belydenis en ons diep geleefde ervaring stryk nie altyd met mekaar nie.
Alhoewel ek met hart en siel bely dat die Here by magte is om by verre meer te doen as wat ek kan dink of droom, kry my menslikheid soms die oorhand. Dan wonder ek of ek nie maar ook ’n plan moet maak nie – net vir ingeval.
In die tye van ons lewens waar ons in die gang vasgevang voel, is dit soms baie moeilik om soos ’n kind vas te hou aan die belofte van ’n Grootmens. Om genoeg vertroue te hê dat die Here met ons op pad is, selfs wanneer ons nie weet presies waarheen nie. Om te glo dat ons lewens steeds binne die groot ruimte van sy genade en trou gehou word, selfs wanneer ons self nie kan sien hoe al die stukke bymekaar pas nie.
Dan tree die skuldgevoel in.
Die stof in jou neusholtes en die geraas van jou gewete.
“Hoe kan ek dan so kleingelowig wees? Hoe kan ek my so verset teen ’n mooi belofte? Sal die Here teleurgesteld wees wanneer Hy sien hoe ek sukkel om Hom amper blindelings te vertrou?”
En dalk is dit juis wat die gang so uitdagend maak: om in hierdie spanning te leef.
Hoe kan ek in Paarl Mall stap en só opgewonde voel oor hoe dit gaan lyk wanneer die opgradering klaar is, en terselfdertyd só gefrustreerd raak deur die chaos en ongerief wat die opgradering veroorsaak?
Miskien lê die antwoord nie daarin dat ek die “regte” gevoel moet probeer produseer nie, maar dat ek eg voor God mag wees. Dat God nie bedreig word deur my eerlikheid nie. Dat ek nie eers my gevoelens hoef reg te kry voordat ek na Hom toe mag kom nie.
Hoe doen ’n mens dit?
Deur toe te laat dat jou totale menswees ervaar wat jou totale menswees ervaar.
Om ruimte te laat vir ongemak, frustrasie, vrae en worsteling. Om nie elke moeilike emosie dadelik as ’n geloofsprobleem te bestempel nie, maar te erken dat ook dít deel is van menswees.
Om te besef dat elke huis ’n vorm van ’n gang het. Dat daar plekke in ’n mens se lewe is waar jy nie meer kan teruggaan na wat was nie, maar ook nog nie kan sien wat voorlê nie. Die gang is nie ’n mislukking van die huis nie; dit is deel van die huis.
Om toe te laat dat hierdie ervaring ook ‘n gebed word. ’n Gebed waarin ek eerlik voor die Here staan as die mens wat ek op hierdie oomblik is. ’n Gebed waarin ek mag kla oor die stof en die geraas. Waarin ek kan huil, wonder, vra en selfs erken dat ek tans sukkel om te voel soos ek bely.
En dan, dalk die belangrikste: om te ontdek dat genade groter is as chaos, dat God se liefde dieper gaan as my twyfel, en dat sy teenwoordigheid nie eers aan die einde van die gang begin nie.
God wag nie net in die volgende vertrek nie.
Hy is ook hier.
In die stof. In die geraas. In die onsekerheid.
In die kamers én in die gang.


