Wanneer kinders ons roep
👤 Wilmi Wheeler
By die onlangse Vocatio-roepingskonferensie by die Andrew Murray-sentrum het Anriëtte de Ridder oor roeping gepraat. Kinders, het sy gesê, roep óns.
Haar eerste voorbeeld was eenvoudig en ontroerend: Kinders wat hul eie name herhaal. Hulle sê hul naam oor en oor. Ook so die name van mense vir wie hulle lief is. Want om iets genoem te word, is om te bestaan. Om op jou naam geroep te word, is om gesien te word. “Before we are ministers or theologians or leaders,” het sy gesê, “we are called by name because God sees us.” Roeping begin dus nie by funksie nie. Dit begin by geliefd wees.
Dit begin by geken wees.
Dan het sy gepraat van wat sy in haar huis noem “the who and the are.” Daardie oomblikke wanneer ’n kind jou roep asof die huis brand en jy aangehardloop kom, net om ’n sonsondergang te sien waar die wolke soos kole lyk wat gloei. Of ’n mier. Of ’n klip wat soos ’n dinosourus lyk. Kinders merk die wonder van die skepping op. Grootmense, met ons dagboeke en sperdatums, hardloop dikwels verby dit.
Kinders roep ons om stadiger te leef. Om werklik te kyk.
Derdens roep kinders ons om vrae te vra. Hulle vra sonder skaamte. Hoekom? Wanneer? Wie? Wat as? Iewers langs die pad het ons geleer volwassenheid beteken om antwoorde te hê. Veral in ’n wêreld waar sosiale media vinnige, afgeronde stellings beloon. ’n “Sterk” Christen, lyk dit soms, is iemand wat sonder huiwering kan reageer.
Maar kinders herinner ons daaraan dat geloof nie bedreig word deur vrae nie. Dat dit veilig is om met misterie saam te leef. Dat twyfel nie noodwendig die teenoorgestelde van vertroue is nie. Jy kan onseker wees oor baie dinge en tog diep geborge wees in God.
Vierdens het sy gepraat oor verbeelding. Kinders betree ’n storie lank voordat hulle dit ontleed. Hulle jaag nie die teks om drie preekpunte daaruit te haal nie. Hulle het nie bullet points nodig nie.
“Faith without imagination becomes a life without a narrative,” het sy gesê. Sonder verbeelding word geloof ’n stel feite. Met verbeelding word dit ’n wêreld waarin jy kan instap. Kinders nooi ons terug in daardie wêreld. Terug in die storie van God.

Dan het sy gewaag om oor speel te praat. Ons het dit op ’n stadium begin assosieer met onvolwassenheid. Ernstigheid het die nuwe maatstaf van toewyding geword.
Maar wanneer kinders ons leer speel, ontdek ons iets van vryheid. Ons kan eksperimenteer. Ons kan onsself wees sonder skaamte. Sy het tong-in-die-kies voorgestel dat ons ’n heilige ritueel moet beoefen: Om jou naam met ’n plank te slaan saam met tieners. Dis haar manier om te sê: laat vaar jou trots. Wees bereid om dom te lyk. Want wanneer jy dit doen, wen jy vertroue. Jy kry toegang tot ’n dieper vlak van verhouding.
Laastens het sy gesê kinders help ons om geloof te beliggaam. Om dit van ons koppe af te skuif, deur ons harte, tot in ons hele lywe. Om emosies nie as swakheid te sien nie, maar as eerlike reaksies op die storie waarin ons leef. Ons moet soms kan saambeweeg soos ’n peuter wat op ’n ritme wieg, lank voordat hy die musiek verstaan. Ons moet makliker kan huil. Soms heilig kwaad kan word. Tafels kan omkeer. Hard kan lag.
Kinders herinner ons dat geloof iets is wat geleef word, nie net verstaan word nie.
Sy het afgesluit met ’n storie van ’n tienerleierskamp by die Andrew Murray-sentrum. Die tema was “geroep”. Oor ’n naweek het tieners geleer oor roeping, kleingroepe gefasiliteer, gebedsstasies ingerig. Die Saterdagaand het hulle ’n “Living Human Library” aangebied. Vyftien volwassenes uit verskillende beroepe het gekom. ’n Joernalis, ’n onderwyser, ’n ingenieur, ’n boer, ’n sendeling, ’n kunstenaar. Die tieners moes elke “menslike boek” vir tien minute “lees” deur drie vrae te vra: Hoekom het jy jou werk gekies? Wat geniet jy daarvan? Hoe maak jy ’n verskil?
Wat bedoel was om tieners oor roeping te leer, het iets onverwags gedoen. ’n Universiteitsdosent wat deelgeneem het, het later geskryf dat die herhaalde vrae hom gedwing het om sy eie roeping weer te verwoord. Hy het gepraat van vier bewegings in sy lewe: die vonk, die bevestiging, die openbaring en nou die krag van doelgerigtheid.
Die tieners was veronderstel om te leer. In plaas daarvan het hulle die volwassenes teruggeroep na hul eie roeping.
“In both cases,” het sy gesê, “the adults thought they were taking the lead. And in both cases, the adults were being led.”
Miskien is dit wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het ons moet soos kinders word. Nie dat kinders soos ons moet word nie. Ons soos hulle. Roeping in die koninkryk is nie net ’n opwaartse beweging na meer gesag en verantwoordelikheid nie. Dit is ook ’n afwaartse beweging na afhanklikheid, nuuskierigheid, vertroue en verwondering.
Die vraag is dus nie net hoe ons kinders in hul roeping vorm nie. Die vraag is of ons bereid is om deur hulle gevorm te word.
Dalk het die kerk nie bloot beter kinderbediening nodig nie. Dalk het ons kinders nodig in die middel van ons eredienste, ons gesprekke, ons leierskap. Nie in die saal langsaan nie, maar in die hart van ons geloofsgemeenskap.
Want kinders is nie net die kerk van môre nie.
Hulle is God se kinders vandag.


