Wanneer kerkfamilie om dieselfde tafel sit
Wilmi Wheeler
Daar gebeur iets besonders wanneer mense van ver af kom om by dieselfde tafel aan te sit. Hulle kom nie noodwendig met dieselfde stories, vrae of antwoorde nie. Maar dit is juis rondom ’n tafel waar ons mekaar begin verstaan en ontdek wat ons, ten spyte van ons verskille, aan mekaar verbind.
Van 14 tot 17 September het Algemene Sekretarisse van ons Gereformeerde susterskerke uit verskillende Afrikalande by die Emseni Christian Centre in Kempton Park om dieselfde tafel aangesit vir die jaarlikse vergadering van die Reformed Family Forum (RFF). Die afgevaardigdes was onder meer afkomstig uit Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië, Kenia, Lesotho en Botswana.
Op die oog af klink ’n jaarlikse byeenkoms soos hierdie dalk na net nog ’n kerklike vergadering, met verslae en gesprekke oor sake wat aandag vra. Maar wanneer ’n mens rondom ‘n tafel sit, besef jy telkens dat daar agter elke verslag mense is. Mense wat die Evangelie verkondig in gemeenskappe waar die uitdagings soms groter is as die beskikbare hulpbronne. Mense wat bekommerd is oor veranderende reënpatrone en oeste wat misluk. En mense wat onlangs families ontvang het wat uit Suid-Afrika na hul lande van herkoms moes terugkeer, dikwels sonder werk, inkomste of die nodige dokumente om weer te begin.
Dan kry die sake op die agenda ’n gesig. ’n Naam. ’n Verhaal.


Migrasie was een van die belangrike temas waaroor die Reformed Family Forum gesprek gevoer het. Dit is een ding om migrasie as ’n politieke of ekonomiese begrip te bespreek. Vir die kerk kry dit egter ’n ander betekenis wanneer migrasie ’n mens se verhaal word. Dit is iemand wat jare lank in Suid-Afrika gewerk het en moes wegtrek. Dit is ’n gesin wat sonder ’n inkomste ’n nuwe begin moet maak. Dit is ’n gemeente wat die gevolge van hierdie beweging binne hul eie gemeenskappe beleef.
Juis daarom was dit vir die kerkfamilie binne die RFF belangrik om nie net oor mekaar te praat nie, maar om met mekaar in gesprek te bly. Om mekaar nog beter te leer ken. Om te luister. Om mekaar se werklikheid beter te probeer verstaan.
Die RFF het ook gesprek gevoer oor konflikhantering, finansiële bestuur, vroue in die amp en die voortgesette opleiding van predikante. Nie al die vrae is beantwoord nie, en nie al die gesprekke is afgehandel nie. Maar dalk is dit nie die belangrikste nie.
Want familie beteken nie dat almal altyd saamstem nie. Familie beteken dat jy bly sit. Dat jy luister. Dat jy verskille kan verdra. Dat jy soms weer van voor af begin praat. En dat jy nie sommer van die tafel af wegstap wanneer die gesprek moeilik raak nie.

Vir Getuienisaksie en die Taakspan Afrika Ekumene het die gesprek ná afloop van die RFF voortgegaan. Manasse Matiquele, Algemene Sekretaris van die IRM Mphatso-sinode in Mosambiek en Prinsipaal van die Hefsiba Institute for Christian Higher Education, het saam met Daniël de Wet na die Wes-Kaap gereis. Daar is gemeentes besoek en tyd deurgebring by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit, asook by Hugenote Kollege in Wellington.
Een van die besondere oomblikke was die ondertekening van ’n Memorandum van Verstandhouding tussen Hefsiba en Hugenote Kollege. Die ooreenkoms skep ruimte vir samewerking op die gebied van navorsing, gesamentlike programme en verdere akademiese ontwikkeling.
Dit klink alles baie amptelik. Maar agter die dokument is daar iets eenvoudiger: mense wat vir mekaar sê: Ons wil saam aan tafel sit. Ons wil saam leer. Ons wil saam verder stap.
Miskien is dit uiteindelik waaroor die Reformed Family Forum gaan. Nie net oor vergaderings en strukture nie, maar oor die ontdekking dat die kerk van Christus groter is as my gemeente, my land, my taal en my eie tradisie.
Ons kom van verskillende plekke. Ons het verskillende stories. Ons praat verskillende tale. Ons verstaan dinge nie altyd dieselfde nie.
Maar ons sit by dieselfde tafel.
En terwyl ons daar sit, begin ons weer onthou: Ons is familie.
En wat ons aan mekaar verbind, is uiteindelik nie ons eie pogings nie.
Dit is Christus.


