Argief: Spookvloere, ’n verlore preek en 200 jaar se stories

Wilmi Wheeler

Daar is stories wat in geskiedenisboeke beland. Ander verdwyn stilweg tussen die bladsye van die verlede. En dan is daar dié wat dekades later, soms heel onverwags, weer hul pad na die lig vind. Tydens die Argief se 200-jarige viering het dit duidelik geword: ’n argief is veel meer as ’n plek waar ou dokumente bewaar word. Dit is ’n plek waar stories bly leef.

Iewers tussen bokse vol ou dokumente, vergeelde papier en jare se geskiedenis het ’n preek gelê wat nooit gepreek is nie.

Dit was die preek van ds. Malan Jacobs, ’n predikant van Laingsburg wat tydens die verwoestende vloed deur die water meegesleur is. Jare later het sy seun by Marlene in die Argief aangeklop met ’n vraag: Daar was gerugte dat die preek wat sy pa voor die vloed geskryf het, steeds iewers bestaan. Sou dit moontlik in die Argief wees?

En Marlene het begin soek.

Bokse en nog bokse. Dae het maande geword. Maande het jare geword. Maar van die preek was daar geen teken nie.

Totdat ’n student wat sy gevra het om deur die predikanteversamelings te werk, op ’n dag met ’n vreemde vraag by haar aankom: “Was daar ’n vloed in Laingsburg?”

Marlene het onmiddellik geweet. “Moenie vir my sê jy het ds. Malan Jacobs se preek gekry nie?”

En daar was dit. Die verlore preek. Nog vol modder en slik. Marlene het dadelik die seun gebel om hom te vertel dat hulle sy pa se preek gevind het. Vir haar was dit een van die grootste hoogtepunte van haar jare as argivaris.

En miskien vertel hierdie enkele verhaal iets van die diepste betekenis van ’n argief. Dit bewaar nie bloot papier nie. Dit bewaar mense se lewens, hul woorde, hul geloof, hul verlies en die spore wat hulle agtergelaat het.

Die Kerkargief is nie sinoniem met stof en stilte nie

“Ek het nog nooit ’n vervelige argivaris ontmoet nie,” het Lizelle tydens die Argief se 200-jarige viering opgemerk.

En ná die paneelgesprek waarmee die konferensie afgesluit is, sou min mense seker met haar kon stry.

Die paneel het bestaan uit mense wat oor baie jare heen nou by die Argief betrokke was. Hulle is gevra om terug te dink aan hul tyd daar, aan hoogtepunte en herinneringe, maar ook aan die groter vraag: Waarom is ’n argief belangrik?

Wat gevolg het, was allesbehalwe ’n droë geskiedenisles. Daar was stories van ontdekkings, van mense, van dokumente wat onverwags weer betekenis gekry het. En selfs van spookvloere.

Bossie Muller het vertel van ’n tyd toe die Argief se rakke skynbaar vanself beweeg het. Die stories oor die geheimsinnige bewegings het mettertyd ’n eie lewe gekry.

Maar in 2011 is die raaisel uiteindelik opgelos: Die vloere was nie behoorlik gelyk nie.

Wat gevolg het, was ’n enorme onderneming. Meer as vier kilometer se rakke moes afgebreek word. Die vloere moes met epoksie gelykgemaak word, waarna die spore en rakke weer geïnstalleer en al die argivalia teruggepak moes word.

En die wonderlikste van alles? Nie ’n enkele dokument of stuk het verlore geraak nie. Tot vandag toe weet die Argief steeds presies wat waar op daardie rakke staan.

Die Argief het stories wat jou hart haal

Toe een van die paneellede gevra is om ’n gunstelingversameling uit te sonder, het sy dit vergelyk met die onmoontlike opdrag om vir ’n ma te vra watter een van haar kinders haar gunsteling is. Want elke versameling is besonders. Elke dokument dra iets van iemand se lewe.

Vir Diederick Basson lê die hoogtepunte juis in die stories waarmee ’n mens voortdurend in die Argief gekonfronteer word. “Dis nie noodwendig stories wat die kollig haal nie, maar hulle haal jou hart.”

Hy het die gehoor daaraan herinner dat elke stuk in die Argief daar is omdat iemand, op ’n bepaalde tydstip, gedink het dit is belangrik genoeg om op te teken en te bewaar. En soveel jare later het daardie woorde, briewe en dokumente steeds iets te sê.

Ook die mense saam met wie hy werk, bly vir hom ’n besondere deel van die Argief se verhaal. Dit is immers mense wat hierdie geskiedenis met geduld, toewyding en dikwels groot liefde versorg. Mense wat weet dat wat vandag na ’n doodgewone dokument lyk, môre dalk die ontbrekende stukkie van iemand se familiegeskiedenis kan wees.

Of ’n preek waarna ’n seun al jare soek.

Die glasdeure mos oop!

Die gesprek het ook ’n belangrike vraag oor die toekoms op die tafel geplaas: Wat beteken dit om geskiedenis te bewaar as niemand toegang daartoe kry nie?

Vir Andrew Kok was een van die groot hoogtepunte van sy betrokkenheid by die Argief juis die besef dat die glasdeure moet oopgaan. Die dokumente en versamelings kan nie bloot agter geslote deure bly nie. Hulle moet gebruik word. Navorsers, studente, gemeentes en belangstellendes moet toegang hê tot die verhale en kennis wat daarin opgesluit lê.

Daar was soveel wat nog in die Argief verborge was en wat ontdek kon word. Om studente weer by die Argief te betrek, was daarom vir hom besonder betekenisvol.

Ben du Toit het op sy beurt die blywende waarde van die Argief beklemtoon. Selfs wanneer soveel ander dinge verdwyn, kan die Argief die een plek wees wat steeds bly staan as getuie van wat gebeur het. En dit gaan nie net oor die geskiedenis van die kerk nie. Die versamelings vertel ook van Suid-Afrika en die breër vasteland se geskiedenis, van sendingwerk, gemeenskappe en die ingewikkelde verweefdheid van geloof, taal, kultuur en kolonialisme.

Ben het onder meer verwys na sendelinge wat op verskillende plekke in Afrika tale begin opteken en dokumenteer het. Dié rekords vorm vandag deel van ’n veel groter geskiedenis wat nie net bewaar nie, maar ook krities ondersoek en vanuit verskillende perspektiewe verstaan moet word.

Die Argief is dus nie bloot ’n bewaarplek van antwoorde nie. Dit is ook ’n plek waar nuwe vrae gevra kan word.

Die Argief is ‘n kraamsaal, nie ’n graf nie

Hierdie is ’n beeld wat ’n mens nie sommer vergeet nie. Want ’n graf is waar iets tot rus kom. ’n Kraamsaal is waar iets nuuts begin.

In die Argief kry ou verhale nuwe betekenis. Dokumente wat dekades lank onaangeraak gelê het, word die beginpunt van nuwe navorsing. ’n Brief kan ’n familie se geskiedenis help herstel. ’n Kerkraadsnotule kan lig werp op ’n gemeenskap se verlede. En ’n modderbesmeerde preek kan ’n pa se woorde ná soveel jare aan sy seun teruggee.

Agter elke dokument was daar eers ’n mens. ’n Lewe wat geleef is. ’n Gebeurtenis wat beleef is. ’n Gedagte wat iemand belangrik genoeg geag het om neer te skryf.

En dit is miskien die grootste geskenk van 200 jaar se argiefbewaring: Dat die stemme van gister nie heeltemal stil word nie.

Dat ons steeds kan luister. Steeds kan ontdek. Steeds kan leer. En soms ook anders kan begin kyk na die geskiedenis wat ons gedink het ons ken.

Die Argief is nie net waar ons onthou waarvandaan ons kom nie. Dit is ook waar ons ontdek wie ons is, en waar nuwe stories begin.

Twee honderd jaar later is die rakke steeds vol. Die glasdeure wag om oopgemaak te word. En daar is nog soveel stories wat vertel wil word.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: