Rudi Janse van Vuuren vertel: As geloof en sport bymekaar kom

Rudi Janse van Vuuren

Ek doen my hele lewe lank sport, en fietsry is my groot liefde. Ek is ook ‘n Christen wat passievol oor die Here is. Die uitdaging was nog nooit om tussen die twee te kies nie, maar eerder om maniere te vind om dit saam te leef.

Aan die begin van 2026 het ‘n paar vriende wat hierdie passie deel, begin droom oor ‘n fietstoer. Die idee was eenvoudig: kom ons gaan ry ‘n paar dae lank net fiets. Soos die gedagte begin posvat het, het ander ryers ook begin vra wanneer en waarheen. So is die Lemoen 2 Perlemoen-toer in Oktober gebore.

Dit was ‘n driedagtoer van Citrusdal, meestal oor grondpaaie (en ongelukkig ook ‘n bietjie teer), na Rocherpan en uiteindelik tot in Langebaan. Sestien ryers, vier dames as ondersteuningspan in twee bakkies, en sowat 220 km oor drie dae.

Min het ons geweet dat hierdie toer oor veel meer as net fietsry sou gaan.

Rudi Janse van Vuuren

Ons het geleer van sand, wind, opdraendes en afdraendes. Ons het selfs geleer om in die reën te ry. Dan praat ons nie eens van die son nie. En dit was net die elemente.

Op so ‘n toer leer jy vinnig dat jy nie die belangrikste persoon is nie. Diensbaarheid, waarvan ons daagliks in die Bybel lees, kry ‘n nuwe betekenis. Dit beteken om iemand wat jy skaars ken teen ‘n bult uit te stoot. Dit beteken om ‘n maat wat in die sand val, op te help en aan te moedig eerder as om te lag.

Jy leer ook iets van Bybelse leierskap. Daar kom dae wanneer jy sterker as iemand anders is. Jy weet jy kan die wind beter hanteer, en daarom ry jy vir kilometers voor om die wind vir ander te breek. Dit voel soos die soort voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het.

Ons het ook vinnig geleer dat ons nie so oulik is as wat ons soms dink nie. Dan is daar die tannies in die ondersteuningsvoertuie wat teen slakkepas vir ure agter ons aan ry. By elke pitstop spring hulle uit met kos, koeldrank en groot glimlagte. Hulle moedig ons aan, herinner ons dat ons kan aangaan en sorg dat niemand agterbly nie. Dit is geloofsgemeenskap op sy beste.

Dit was kerkwees op ‘n ander manier.

Die fietsry het ons aan mekaar verbind. Die uitdagende omstandighede het ons nader aan mekaar gebring. Maar as kinders van die Here is dit Jesus wat ons werklik bind, en die elemente het ons net nader aan Hom en aan mekaar getrek.

Elke oggend het ons die voorreg gehad om in God se skepping te ry. Elke aand het ons stories vertel, gelag oor die gebeure van die dag en die “Ryer van die Dag” en “Pot van die Dag” aangewys. (Oor die tughandelinge sê ek liewer nie meer nie!)

Na drie dae se ry het ek weer besef dat ‘n toer van die lemoenwêreld na die perlemoenwêreld bloot nóg ‘n fietstoer kan wees. Maar as jy bereid is om mooi te kyk, word dit iets baie meer. Wanneer ek vandag deur die foto’s blaai, sien ek nuwe vriende, kosbare herinneringe en ongelooflike stories. Maar bo alles sien ek vir Jesus in elke deel van die reis.

Aan Hom al die eer.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Argief: Spookvloere, ’n verlore preek en 200 jaar se stories

  • Dominees in Clanwilliam-ring onthou: Ek is geken, geliefd en omring

  • Kenridge se nuwe gebou vir ontmoeting, toegewy aan Christus