Die verskil tussen ‘bedink’ en ‘bely’

Tinus van Zyl

As jy stil raak

Daar het iets vreemd met my gebeur, daar op die sagte mat, voor in die kerk, rondom die nagmaaltafel van Stellenbosch-Wes gemeente, tussen medeleraars van die VG Kerk en NG Kerk. Wat was dit?

Ek dink ek het gehoor dat die dominee langs my emosioneel raak, maar ek was te bang om op te kyk, want iets was besig om met my ook te gebeur.

Ek was stil. Ek het niks gesê nie. Niemand het meer iets te sê gehad oor die belydenis nie. Die Belydenis van Belhar het nou met óns gepraat, met my gepraat.

40 jaar in die woestyn

Die Belydenis van Belhar is vanjaar 40 jaar oud – ‘n baie kort tyd in die leeftyd van belydenisskrifte. In die Bybel simboliseer 40 ‘n woestyntydperk, soos die volk wat 40 jaar in die woestyn was en Jesus wat na 40 dae in die woestyn deur die duiwel versoek is.

Met die viering van die Belhar Belydenis se 40ste bestaansjaar is hierdie tema te gebruik om te vra of hierdie belydenis ‘n stem in die woestyn is – ‘n stem wat dalk deur baie geïgnoreer of verwerp word, maar ‘n profetiese stem wat nodig is in ons tyd?

Belhar gister, vandag en more

‘n Eerste paneel van VG Kerk en NG Kerk (meestal afgetrede) predikante, wat die kerkgeskiedenis van die afgelope 40 jaar goed ken en self deel daarvan was, het in die kapel van kweekskool nagedink oor hoe die Belhar Belydenis die afgelope 40 jaar gehoor is, en ook nie gehoor is nie.

Daarna het ons afgestap na VGK Rhynse gemeente, waar ‘n paneel van huidige VG Kerk predikante gesels het oor hoe Belhar steeds vandag tot die kerk spreek. Hulle het ons uitgedaag om nie die Belhar Belydenis te bedink, of selfs net te bely nie, maar om dit ook te beliggaam deur dit prakties te doen.

Toe het ons verder gewandel na die Stellenbosch-Wes gemeente, waar daar ook ‘n foto in die voorportaal hang van een van die mede-opstellers van die Belharbelydenis. Hier het NG Kerk predikante ‘n prentjie probeer skets van dit waarheen Belhar ons roep in die toekoms.

As die evangelie jou oorrompel

Tydens ons middagete saam as kollegas van die NG Kerk-familie, as susters en broers in Christus, het ‘n insig my getref.

Ek het besef dat toe ons afgesluit het, daar voor in die liturgiese ruimte van die kerk, deur in ‘n sirkel te staan en te luister hoe die Belydenis hardop voorgelees word, het ek nie meer met die belydenis gepraat nie, maar die belydenis het met my gepraat.

Miskien is dit die regte manier hoe belydenisse werk – soos die Bybel ook werk. Ek kan nie eers besluit of ek met die Bybel saamstem of nie, voordat ek daarna luister nie. Ek moet na die Bybel luister, saam met my susters en broers in Christus, rondom die nagmaaltafel, voor die aangesig van die Here, en dan hoor wat Christus deur sy Woord en Gees vir my sê, en dit gehoorsaam. 

Dis nie maklik nie

Om die evangelie van Jesus Christus, soos dit vir ons verkondig word deur die Bybel en ook deur die belydenisskrifte, aan te hoor, is nie maklik nie. Dit oorrompel ons. Dit bring ons tot sondebelydenis en berou. Dit breek ons harde harte en sit vir harte van vleis in, wat seerkry. Dit laat ons omdraai; tot bekering kom. Dit roep ons op tot selfopofferende liefde en diens.

Soos die doopbelofte, laat die evangelie ons bely: “Ons draai rug op die bose! Ons bely ons sonde met berou! Ons draai na Christus toe! Ons het saam met Christus gesterf! Ons het saam met Christus opgestaan!”

Mag die Here Jesus ons help om daardie evangelie vandag weer nuut en vars te hoor, uit die ou, ou woorde van die profete en apostels, uit die eeueoue formuliere en belydenisskrifte van ons geloofstradisie, en ook uit die woorde van ons eie landsgenote en lidmate van ons eie kerk, wat 40 jaar terug die evangelie so klokhelder vir ons verwoord het.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: