Lees | Luister | Leer | Leef – November 2026

Dr. Marnus Havenga

Daar verskyn gedurig nuwe boeke en podcasts wat predikante kan help om verder te dink oor teologie, bediening en die wêreld waarin ons leef. In Lees | Luister | Leer | Leef deel dr. Marnus Havenga (PSD: Toerusting en Navorsing) van die publikasies en gesprekke wat volgens hom die moeite werd is om raak te lees of na te luister. Soms is dit ’n nuwe akademiese boek, soms iets wat baie direk met die praktyk van bediening te doen het, en soms ’n podcastgesprek wat ’n mens nog lank bybly.

Bedieningsboek

Laurie Brink, Practicing Radical Advent: Purposeful Waiting in Seasons of Change (Eerdmans, 2026)

Een van die bekendste toneelstukke van die 20ste eeu is die Ierse dramaturg Samuel Beckett se Waiting for Godot, ’n toneelstuk wat onlangs (nogmaals) in Afrikaans vertaal is as Ons Wag vir Godot (Naledi, 2024). In hierdie vreemde tweebedryf-toneelstuk kry ons te doen met Vladimir en Estragon wat saam, langs ’n verlate boom, wag vir ’n ene Godot se aankoms. Terwyl hulle wag, doen en sê hulle nie veel nie, en word hul situasie ’n redelik sinlose een, veral dan in die lig daarvan dat Godot nooit arriveer nie. Hierdie toneelstuk deur Beckett, wat ook bekend is vir ander toneelstukke soos Krapp’s Last Tape (wat ook onlangs in Afrikaans vertaal is en by vanjaar se Woordfees te sien was), kan natuurlik op baie maniere geïnterpreteer word. Mens sou egter kon aanvoer dat een van die kerngedagtes in Beckett se toneelstuk is dat wag ’n absurde handeling is, oftewel kan wees. Die Bybel het natuurlik ’n heel ander verstaan van wat dit beteken om, nie op Godot nie, maar op God self te wag. En dit is hierdie verstaan – wat sentraal staan tot die kerklike seisoen wat ons eersdaags betree – wat die Nuwe Testamentikus Laurie Brink op ’n hoogs toeganklike en behulpsame manier verken in haar boek Practicing Radical Advent: Purposeful Waiting in Seasons of Change.

Met konstante verwysings na Bybelverhale en -karakters – maar ook verhale uit haar eie lewe en die geskiedenis van die kerk – skryf Brink oor hoe ons, veral in drempeltye van verandering, dikwels geroep word om wagtend te leef. Anders as by Beckett is die Christelike verstaan van wag – wys Brink – egter nie ’n leë, passiewe daad nie; dit gaan nie daaroor om soos Vladimir en Estragon niks te dink of te doen of te sê nie. Dit is eerder ’n aktiewe handeling van jouself oopstel vir God se teenwoordigheid en belofte – ’n tyd waarin onderskeiding plaasvind, waarin ons opnuut na God se roepstem kan luister, en waarin groei moontlik word. Brink beskryf dít alles op ’n praktiese – tog poëtiese – wyse, wat nie net op die individu gerig is nie, maar ook op die kerk en die breër mensdom, veral dan in ons vinnige wêreld waarin wag al hoe meer ’n onding geword het. Ek dink hierdie is – soos die titel aandui – veral ’n boek om nou, in Advent, te lees, met die uitnodiging wat gebied word om nie net dié kerklike seisoen te vier nie, maar dit ook te beliggaam.

Akademiese boek

Keith L. Johnson, Karl Barth and the Idolatry of the Nation: Confronting Christian Nationalism (Baylor University Press, 2026)

In vele teologiese sirkels in die wêreld bly Karl Barth-studies gedy. Mens kan net kyk, byvoorbeeld, na die interessante werk wat deur die Centre for Barth Studies, onder leiding van Kait Dugan, by Princeton Theological Seminary (PTS) gedoen word. Ek kan byvoorbeeld hulle Substack-nuusbrief God Here and Now ten sterkste aanbeveel, saam met al die ander wonderlike inisiatiewe (van publikasies tot konferensies tot podcasts) wat van daar af bedryf word. Die uitdaging met Barth is egter dikwels dat dit nie die maklikste taak is om sy werk binne te dring nie, in die eerste plek bloot oor die massiewe omvang daarvan. Net sy Kerklike Dogmatiek – wat maar ’n gedeelte van sy skryfwerk uitmaak – beslaan oor die 9 000 bladsye in 13 volumes. Dit is om hierdie rede dat Keith Johnson, wat ook uit die PTS-kringe kom (waar hy sy proefskrif oor Barth en die analogia entis geskryf het), se The Essential Karl Barth: A Reader and Commentary (Baker Academic, 2019) so ’n groot geskenk was. In hierdie boek versamel en groepeer Johnson kerntekste van Barth oor ’n wye verskeidenheid temas, elke keer met inleidende kommentaar wat die leser help om te verstaan waar hierdie teks in Barth se oeuvre inpas, wat die belang daarvan is (ook vir die kerk), en hoe mens te werk kan gaan om dit te lees en te interpreteer.

In die boek wat ek hier wil aanbeveel, is Johnson egter nie besig om Barth se werk bloot toeganklik vir lesers vandag te maak nie, maar om in diepte te kyk na Barth se teologiese (!) verset teen Duitse nasionalisme in die vroeë 1930’s, teen die agtergrond van die politieke ontwikkelinge wat uiteindelik op die Tweede Wêreldoorlog sou uitloop. Johnson vertel die storie van hoe Duitse Christene hul Christelike geloof en kerklike lewe met ’n sekere nasionale identiteit begin vervleg het, met lojaliteit aan God en die ideaal van ’n Duitse volk en staat wat al hoe meer onskeibaar geword het, met rampspoedige gevolge vir die kerk en haar getuienis, maar uiteindelik ook vir die wêreld. Johnson wys dan – deur ’n fyn, tog baie boeiende lees van Barth se preke, lesings, briewe en teologiese tekste – hoe hy nie net hierdie teologiese en kerklike krisis help ontbloot het nie, maar ook ’n oproep tot die kerk gerig het om Christus alleen te bely, en om daarom geen ander mag, identiteit of ideologie toe te laat om naas Christus bepalend vir die kerk se lewe en getuienis te word nie (soos wat daar byvoorbeeld ook in Barmen verklaar sou word). Hierdie is ’n uitstekende stuk historiese werk, maar spreek uiteraard ook met groot erns tot ons situasie vandag, en is daarom ’n belangrike boek om nou van kennis te neem.

Podcast

The Brothers Zahl – Episode: “The Holy Spirit” (1 Julie 2024)

Een van die loci in die teologie wat tans heelwat belangstelling wek, is pneumatologie – die nadenke oor die Heilige Gees. Op plaaslike front het Coenie Burger by die Predikante Saamkoms sy nuutste boek, Soos sagte reëns (CLF, 2026), bekendgestel, terwyl daar internasionaal ook heelwat belangrike publikasies in die laaste paar jaar verskyn het. Een wat uitgesonder kan word, is die Cambridge-teoloog Simeon Zahl se The Holy Spirit and Christian Experience (Oxford University Press, 2020). Zahl, wat sy proefskrif oor die Duitse piëtis Christoph Blumhardt (wat ’n belangrike invloed op Karl Barth gehad het) onder David Ford geskryf het, bied in hierdie boek ’n teologiese besinning oor hoe die ervaring van die Gees – as die Een wat onder andere vry maak, heiligmaking bewerkstellig en ons begeertes opnuut rig – veral binne die Protestantse tradisie bedink kan word. Zahl is egter nie die enigste een in sy gesin wat oor temas soos hierdie nadink nie – sy pa, Paul Zahl, is ’n Episkopale priester en teoloog, en beide sy broers is ook in die bediening. David Zahl is die stigter en direkteur van Mockingbird Ministries en die outeur van verskeie wonderlike boeke (o.a. sy nuutste, The Big Relief: The Urgency of Grace for a Worn-out World; Brazos Press, 2026), terwyl sy ander broer, John Zahl, soos hul pa, ’n priester in die Episkopale Kerk is wat ook soms as DJ optree.

In hierdie podcast-reeks kom die drie broers – met hulle interessante stories – saam om oor ’n verskeidenheid temas te praat. Van die meer onlangse episodes het onder andere gegaan oor kultuur, die Bybel en die teologie van die kruis. Daar is ook ’n uitstekende episode oor ouerskap. Die episode wat ek egter wil aanbeveel, is die een waarin hulle oor die Heilige Gees praat – veral omdat Simeon, in gesprek met sy broers, sy werk oor die Gees op ’n gemaklike en baie persoonlike wyse hier deel en verduidelik. Hy vertel onder andere van ’n onverwagse – en oënskynlik onverklaarbare – ervaring wat hy tydens sy voorgraadse studies by Harvard gehad het, en hoe hierdie ervaring in baie opsigte die grondslag geword het vir die werk oor die Gees wat hy uiteindelik tydens sy doktorsgraad, maar ook in ’n boek soos The Holy Spirit and Christian Experience, gedoen het. Dit is wonderlik om die broers in gesprek te hoor – hulle is snaaks, trek voortdurend mekaar se bene, en kan ook nie help om flieks, musiek en ander belangstellings by die gesprek in te bring nie. Dit is dus, volgens my, absoluut die luister werd.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: