4 maniere om konflik te hanteer – die Bybel vertel ons hoe!
👤 Wilmi Wheeler
Konflik. Die woord laat jou dalk dink aan die laaste sekondes van ’n bloedige rugbywedstryd of daardie ongemaklike oomblik as jy en jou beste vriend nie kan besluit wie die laaste sny pizza verdien nie. Miskien is dit familie, kollegas of ‘n wildvreemdeling op die pad wat jou bloeddruk opjaag.
Kom ons wees eerlik: konflik is omtrent so lekker soos ’n koue stort op ’n winteroggend – dis ongemaklik en niemand kies dit as ’n eerste opsie nie. As jy iemand is wat konflik vermy, is jy beslis nie alleen nie. Volgens ’n peiling deur die American Psychological Association, sê sowat 62% van mense dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om konflik te vermy.
Tog is konflik deel van ons almal se lewens en iets waarmee ons daagliks gekonfronteer word…
Maar wat as konflik nie noodwendig iets is wat ons moet vrees nie? In die Bybel is daar nie ‘n tekort aan konfrontasies nie. En hierdie gevalle is heelwat groter dramas as pizza-argumente. Dink maar net aan arme Moses toe hy af die berg Sinai gekom het met die Tien Gebooie in sy arms, net om sy volk, wat pas uit slawerny bevry is, te vang ‘n goue kalf aanbid. ‘n Konfliksituasie? Dis een manier om dit te stel. Moses was so kwaad dat hy die kliptafels in stukke breek!
Kyk ook net na Josef, Petrus, Salamo en selfs Jesus – hulle het almal konflik beleef en ons kan by hulle leer hoe om, met God se wysheid, op ‘n goeie manier deur hierdie situasies te kom.
Kom ons kyk hoe ons, met ’n bietjie Bybelse inspirasie, konflik kan verander in geleenthede om te groei en om wyser uit die situasie te stap.
Soek God se wysheid voordat jy reageer
Salomo, waarskynlik die slimste ou wat ooit geleef het, het geweet waar om te begin wanneer hy met iets moeilik gekonfronteer word: hy klop aan God se deur vir insig. Kyk, hierdie jong koning het nie sommer net van jongs af geweet hoe om elke krisis te hanteer nie; hy het dit geleer deur te bid en God se leiding te soek. In 1 Konings 3 staan hy voor ’n reuse-dilemma wat genoeg is om selfs die mees ervare konings uit die veld te slaan – twee vroue wat beide aanspraak maak op dieselfde baba. Dis nie sommer net ‘n stoeigeveg oor speelgoed nie; dit is ‘n konfliksituasie wat die potensiaal het om lewens te verwoes. En wat doen Salomo? Hy bid, in plaas daarvan om impulsief te reageer.
Hoe dikwels vra ons vir wysheid voordat ons op iets reageer? Wanneer jy die volgende keer in ’n argument of ongemaklike situasie beland, probeer om vir ’n oomblik stil te raak. Dalk beteken dit om ’n bietjie asem te skep, dalk beteken dit om sommer vinnig in jou gedagtes te bid: “Here, help my om reg te sien en wysheid te hê in hierdie situasie.”
Om eers vir God se leiding te vra, maak ons bewus van ons eie tekortkominge en help ons om die groter prentjie te sien. Wysheid bring helderheid en dit voorkom dat ons in die hitte van die oomblik impulsiewe, seermaak-woorde gebruik wat ons later mag berou. Miskien is dit een van die grootste lesse wat Salomo ons leer: dat gebed en wysheid hand aan hand loop en dat dit ’n daad van nederigheid is om eers stil te word en God se leiding te vra. Op hierdie manier kan ons, soos Salomo, dalk ontdek hoe konflik op ’n helende manier opgelos kan word.
Waarheid, geregtigheid en liefde loop hand aan hand
As daar iemand was wat konflik met styl hanteer het, was dit Jesus. Wanneer ons aan Jesus dink, dink ons dikwels aan vrede en liefde, maar ons vergeet soms dat Hy ook iemand was wat tafels in tempels omgegooi het.
Jesus het verstaan wanneer om sy stem te gebruik en op te staan vir geregtigheid. Kyk net na sy vele interaksies met die Fariseërs. Hierdie godsdiensleiers het konstant probeer om Jesus vas te vang, hetsy met slinkse vrae oor die wet of subtiele aanvalle op sy karakter. Hy het nie teruggestaan wanneer dit by die waarheid gekom het nie. Hy het geweet wanneer om ferm te wees en wanneer om stil te bly.
Ons leef in ’n wêreld waar mense mekaar maklik “kanselleer” oor die kleinste verskille en ons is geneig om konflik te vermy eerder as om eerlik op te staan vir dit waarin ons glo. Maar Jesus wys ons dat waarheid, geregtigheid en liefde hand aan hand kan loop. Sy liefde het Hom gehelp om die regte woorde op die regte tyd te spreek en Hy het sonder huiwering opgestaan vir die waarheid.
In Johannes 2 lees ons die bekende verhaal van hoe Jesus die handelaars en geldwisselaars uit die tempel jaag. Hierdie handelaars het die tempel, die huis van sy Vader, in ’n mark verander. Hulle het mense uitgebuit en dit was vir Jesus onaanvaarbaar. In daardie oomblik het Jesus nie stilgebly nie; Hy het sy stem laat hoor en opgetree.
Wat leer ons hieruit? Geregtigheid vra soms dapper optrede. Dit vra dat ons nie stilbly wanneer ons sien dinge is verkeerd nie, selfs al is dit ongemaklik of konfronterend. Jesus was nie bang om waarhede te deel wat ongemak veroorsaak het nie. Geregtigheid begin soms by ’n enkele stem wat weier om stil te bly.
Jesus wys ons dat daar tye is wanneer liefde beteken om nie stil te bly nie. Sy stem was ’n stem van waarheid en Hy het dit altyd met liefde gebruik. So, die volgende keer as jy ’n onreg teëkom – of dit nou in jou werksomgewing, familie of gemeenskap is – vra vir moed en wysheid om te doen wat reg is. Ons kan nie alle onreg regstel nie, maar ons kan begin deur te weier om stil te bly wanneer die waarheid gepraat moet word.
Sê jammer en wees eerlik
Ons almal ken Petrus – die dissipel met die groot hart en die nog groter mond! Dis hy wat sonder huiwering vir Jesus gesê het: “Ek sal U nooit verloën nie!” En tog, net ’n paar uur later, verloën hy Jesus drie keer. Die een wat hy as sy Here bely het, wat hy nog net ure tevore as die “Seun van God” verklaar het – Hom ontken hy nou in die openbaar.
Dit moes verskriklik gewees het om na Jesus se dood en opstanding in die oë van sy Meester te kyk en daardie skuldgevoelens te dra. Ons kan ons net indink in sy skaamte en teleurstelling in homself.
In Johannes 21 sien ons hoe Jesus na sy opstanding spesifiek na Petrus gaan en hom konfronteer. Hy trap nie vir Petrus uit nie; Hy vra vir hom: “Het jy My lief?” Drie keer vra Hy dit, net soos Petrus Hom drie keer ontken het.
Hierdie oomblik in die Bybel herinner ons daaraan dat om jammer te sê en eerlik te wees oor ons tekortkominge dikwels die eerste stap is na ware vrede – met onsself en met ander. Jammer sê, veral wanneer ons verkeerd is, kan moeilik wees. Dit verg eerlikheid en ’n bereidwilligheid om te erken dat ons nie altyd reg is nie. Maar die vrug daarvan is groot.
Volgende keer wat jy op iemand se tone trap, dink aan Petrus. Wees eerlik en sê jammer. Daardie vryheid van ’n skoon gewete is die moeite werd.
Vergewe
Vergifnis – die een ding wat almal wil ontvang, maar wat ons soms sukkel om te gee. Ons wil graag vrygespreek word van ons eie foute, maar wanneer dit kom by mense wat ons te na gekom het, raak dinge ingewikkeld. Dink aan die verhaal van Josef en sy broers in Genesis.
Sy eie familie het hom verraai – hom verkoop as slaaf. Vir jare leef Josef in gevangenskap, gedwing om die bittere vrugte van hul verraad te dra.
Uiteindelik, ná jare van beproewing, kry Josef sy lewe terug en word hy ’n belangrike leier in Egipte. Toe sy broers in ’n hongersnood na Egipte kom en Josef herken, is die rolle omgekeer. Hy het nou die mag en die perfekte geleentheid om wraak te neem. Maar wat doen Josef? Hy neem nie wraak nie; hy vergewe hulle. Hy kyk die mense in die oë wat sy lewe letterlik en figuurlik probeer verwoes het en hy kies om hulle vry te spreek. Hy sê: “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit ten goede bedoel” (Genesis 50:20).
Vergifnis is nie altyd maklik nie en soms voel dit onregverdig. Maar wanneer ons aan bitterheid en woede vashou, is dit soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan siek word. Daardie wrokke maak ons swaar, hou ons vas in die verlede en steel ons vrede.
As jy vashou aan iets wat lankal verby is, of as jy iemand se foute gedurig herkou, vra jouself af: Is dit regtig die moeite werd om my vrede daarvoor op te offer? Vergifnis maak jou vry – nie net van die verlede nie, maar van ’n lewe wat in bitterheid vasgeketting is.