Ava-Jane hardloop vir die vroue wat nooit weer sal kan nie
Wilmi Wheeler
Van kleins af dra Ava-Jane Visser twee boodskappe saam met haar wanneer sy aan atletiek deelneem. Op die een pols teken haar ouers ’n kruis. Op die ander ’n hart. Jesus is by jou. Mamma en Pappa is lief vir jou.
Maar by ’n bepaalde atletiekbyeenkoms het dié 15-jarige besluit om nóg ’n boodskap saam met haar op die atletiekbaan te dra. Hierdie keer was dit nie ’n boodskap aan haar nie, maar een van haar aan die wêreld: For the woman who can’t.
Vir ’n introvert soos Ava-Jane was dit ’n manier om haar stem te laat hoor sonder om haar stem te verhef.
Die meisie agter die boodskap
Nicola beskryf haar dogter as ’n vriendelike, saggeaarde jongmens met ’n besondere omgeehart, maar ook iemand met ’n onwrikbare sin vir reg en verkeerd.
Wat reg is, is reg. En wat verkeerd is, is verkeerd. Haar afrigter meen selfs dat wanneer Ava-Jane eers haar kop oor iets uitgemaak het, sy nie maklik van plan verander nie.
Hierdie vasberadenheid is ook op die atletiekbaan sigbaar. Sy weet wat sy wil bereik en is bereid om hard daarvoor te werk. Vir Nicola lê die trots wat sy as ma beleef nie noodwendig in haar dogter se prestasies nie, maar eerder in die toewyding daaragter. In die verbetering wat sy van seisoen tot seisoen sien. In haar werksetiek, haar deursettingsvermoë en haar gees wat nie sommer tou opgooi nie.
Maar dieselfde vasberadenheid waarmee Ava-Jane haar atletiek benader, word ook sigbaar in die dinge waaroor sy buite die baan omgee.

Hardloop is vir Ava-Jane meer as net hardloop
In die nadraai van berigte oor die moorde op vroue in Suid-Afrika het Ava-Jane op ’n dag vir haar ma gevra vir ’n pers lint. Sy wou dit tydens ’n atletiekbyeenkoms in haar hare dra. Vir die vroue wat nie self meer kan hardloop nie.
Haar motivering agter hierdie gebaar was om bewusmaking te skep, want wat met hierdie vroue gebeur het, is verkeerd.
Daar is iets besonders aan die eenvoud van haar reaksie. Sy het nie nodig gehad om ’n veldtog van stapel te stuur, ’n toespraak te lewer of ’n skare toe te spreek nie. Sy het bloot binne haar eie leefwêreld gesoek na ’n manier waarop sy iets kon doen.
Vir Ava-Jane was daardie leefwêreld die atletiekbaan.
Die plek waar sy haar eie vermoëns ontdek, haar drome nastreef en haarself telkens uitdaag, het ook die plek geword waar sy ander se verlies wou erken. Waar sy in solidariteit kon staan met vroue wie se veiligheid, vryheid en selfs lewens hulle ontneem is.

Die boodskappe wat ons op ons kinders skryf
Wanneer Nicola oor die woorde op Ava-Jane se arm gesels, vertel sy van die familietradisie van die kruis en die hartjie wat op Ava-Jane se polse geteken word voor elke wedloop.
Dit is klein, sigbare herinneringe aan die onsigbare waarhede waarmee haar ouers haar van kleins af probeer grootmaak: Jy is geliefd en jy is nooit alleen nie, want Jesus is by jou.
Daar is iets besonders aan die beweging van die twee simbole wat Ava-Jane van kleins af ontvang het, na die woorde wat sy nou self gekies het om te dra.
Van geliefd wees na omgee. Van die geborgenheid van haar eie huis na ’n bewussyn van die onveiligheid waarin ander leef. Van die ontvang van liefde na die uitleef daarvan.
Miskien is dit ook iets van hoe geloof gestalte kry wanneer dit begin deel word van die manier waarop ons na die wêreld kyk. Wanneer die wete dat ek geliefd is, my ook sensitief maak vir die menswaardigheid van die ander. Wanneer die kruis wat ek dra, nie net iets sê oor Wie saam met my op pad is nie, maar ook iets oor die manier waarop ek self deur die wêreld behoort te beweeg.
Die ander vraag wat ons behoort te vra
“Hoe voel dit vir ’n ma om ’n dogter in Suid-Afrika groot te maak?”
Dit is die vraag wat ek aan Nicola stel. Sy is immers die ma van twee dogters.
Sy erken dat dit haar bang maak. As ouer probeer ’n mens deur jou eie voorbeeld vir jou kinders wys hoe gesonde verhoudings lyk, maar daar is soveel wat buite jou beheer lê. Sy beskryf dit as ’n gebedsaak.
Dan verskuif sy egter die gesprek in ’n ander rigting. Miskien, meen sy, is die vraag nie net hoe dit voel om ’n dogter in Suid-Afrika groot te maak nie. “Maar besef ouers die verantwoordelikheid van ’n seun grootmaak?”
Want Nicola is ook die ma van ’n seun.
Sy vertel hoe belangrik dit vir haar is dat hy reeds binne die alledaagse interaksies met sy susters leer wat toestemming beteken. Dat wanneer sy sussies nee sê, dit nee beteken. Selfs wanneer hulle giggel en speel. Dat hy moet leer luister, ander se grense moet respekteer en verantwoordelikheid vir sy eie optrede moet aanvaar.
“Ek behoort nie my dogters te hoef leer om versigtig te wees nie,” sê sy.
Hulle behoort die vryheid te hê om te beweeg en te leef sonder dat vrees voortdurend hulle besluite bepaal.
Ava-Jane is 15. Sy het nog baie atletiekbyeenkomste, persoonlike beste tye en drome wat voorlê. Sy het ook nie al die antwoorde op die komplekse vraagstuk van geweld teen vroue in ons land nie. Haar gebaar maak nie die omvang van die probleem kleiner nie.
Maar sy het iets gedoen met die bewussyn wat sy daarvan het. Sy het geweier om ander se seerkry bloot as nog ’n nuusberig te beskou en het binne haar eie leefwêreld ’n manier gevind om te sê dat dit vir haar saak maak.
Dit laat my wonder oor die ruimtes waarin elkeen van ons daagliks beweeg. Oor die platforms wat ons reeds het, hoe klein dit ook al mag voel. Oor die dinge waarvoor ons bereid is om op te staan en die boodskappe wat ons deur ons manier van leef die wêreld indra.
Want soms lyk getuienis soos ’n preek. Soms soos ’n protesplakkaat. En soms soos ’n 15-jarige meisie in hardloopskoene, met ’n paar woorde op haar arm.
Op die een pols ’n kruis. Op die ander ’n hart.
En ’n derde boodskap wat iets van die eerste twee sigbaar maak.
For the woman who can’t.
Die kruis herinner haar aan Wie saam met haar hardloop. Die hart herinner haar aan die liefde waarin sy grootword. En die woorde op haar arm herinner haar daaraan dat die wedloop nie net oor haarself gaan nie.


