7 Christen-vriendelike flieks vir ‘n date night

👤 Wilmi Wheeler

Dis Vrydagaand. Jy en jou geliefde besluit om ‘n romantiese fliek te kyk. Ná 15 minute se gesoek op ‘n eindelose lys van opsies, kies julle uiteindelik een wat belowend lyk. Maar net toe jy dink jy het ‘n wenner, slaan die skerm jou met taal so grof dat die see jou nie sal kan afwas nie, ’n toneel so onvanpas dat jy nie weet hoe jy ooit weer jou ma, skoonma of dominee, in die oë sal kan kyk nie. Regtig, Hollywood?

Met Valentynsdag om die draai, het ons ‘n lys saamgestel van 7 flieks wat julle met ‘n skoon gewete kan kyk. Van romantiese fantasie tot inspirasie, animasie en avontuur – hier is iets vir elke paartjie.

  1. Up (2009) – Vir die paartjie wat hou van ‘n emosionele reis

Hierdie Pixar-animasie is ‘n hartroerende en inspirerende fliek oor liefde, verlies en nuwe avonture. Die storie volg vir Carl, ‘n bejaarde man wat sy oorlede vrou Ellie se droom wil verwesenlik deur hul huis met honderde ballonne op ‘n wonderlike reis te stuur. Dit is ‘n storie oor lojaliteit, tweede kanse en hoe liefde nie net in groot oomblikke leef nie, maar in die klein daaglikse dinge.

As jy hierdie fliek laas as kind of enkellopende gekyk het, glo ons as ons sê jy moet dit weer kyk! Dit tref net op ‘n ander vlak as jy langs die liefde van jou lewe sit.

🎬 Trailer: Kyk hier

  1. A Dog’s Purpose (2017) & A Dog’s Journey (2019) – Vir die diere-liefhebbers

As julle van flieks hou wat wys hoe diep en betekenisvol die verhouding tussen ‘n mens en ‘n hond kan wees, dan is hierdie fliek perfek. Die storie volg ‘n hond wat deur verskeie lewens en eienaars gaan en ‘n spesiale boodskap van liefde en trou oordra. Die tema van hergeboorte word hier kreatief verken, en hoewel dit nie ‘n tipiese Christen-fliek is nie, bevat dit ‘n positiewe en inspirerende boodskap oor die betekenis van ons lewens. Ja, dit sal wys weer om ‘n boks tissues naby te hou…

🎬 Trailer: Kyk hier

  1. Enchanted (2007) & Disenchanted (2022) – Vir die fantasie-liefhebbers

Hierdie flieks is ‘n perfekte kombinasie van sprokieswêreld en moderne realisme. In Enchanted beland ‘n prinses, Giselle, per ongeluk in New York en moet sy aanpas by ‘n wêreld sonder magie. Dit is ‘n snaakse, skoon en vermaaklike romantiese avontuur met ‘n positiewe boodskap oor ware liefde. Die opvolg, Disenchanted, bring die storie verder met nuwe uitdagings en lewenslesse.

🎬 Trailer: Kyk hier

  1. Wonka (2023) – Vir die paartjie wat saamsing

Timothée Chalamet bring ‘n jong Willy Wonka tot lewe in hierdie fliek vol musiek, drome en sjokolade! Dit is ‘n hartroerende storie oor deursettingsvermoë en die krag van hoop. Perfek vir ‘n date night wat iets ligs en inspirerends bied.

🎬 Trailer: Kyk hier

  1. Out of My Mind (2024) – Vir die paartjie wat hou van iets dieper

Hierdie fliek, gebaseer op die geliefde boek, vertel die inspirerende storie van ‘n jong meisie met serebrale gestremdheid wat ‘n manier vind om haar gedagtes met die wêreld te deel. Dit is ‘n pragtige herinnering aan hoe elke mens waardevol is, ongeag hulle omstandighede. ‘n Fliek wat ‘n diep boodskap van hoop en deernis oordra.

🎬 Trailer: Kyk hier

  1. I Still Believe (2020) – Vir die paartjie wat hou van ware verhale

Gebaseer op die regte lewe van Christen-sanger Jeremy Camp van MercyMe, vertel hierdie fliek ‘n storie van hoop te midde van pyn en verlies. Dis vir die paartjies wat hul geloof in liefde wil herbevestig.

🎬 Trailer: Kyk hier

7. Life of Pi (2012) – Vir die paartjie wat filmkuns geniet

Hierdie visueel asemrowende film is nie net ‘n avontuur nie, maar ‘n storie oor geloof, oorlewing en die misterie van die lewe. Dit vertel die storie van Pi Patel, ‘n jong seun wat ná ‘n skeepswrak op ‘n reddingsboot saam met ‘n Bengaalse tier beland. Terwyl hy op die oop see dryf, konfronteer hy nie net die natuur nie, maar ook sy eie geloof en begrip van God. Die fliek is ‘n meesterlike mengsel van filosofie, avontuur en skitterende kinematografie – perfek vir paartjies wat van ‘n storie hou wat nie net vermaak nie, maar ook inspireer en aan die hart raak.

🎬 Trailer: Kyk hier

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: