7 Teksgedeeltes wat jy saam met jou Valentyn kan lees
👤 Wilmi Wheeler
Valentynsdag het ’n manier om mense ongemaklik te maak. Daar is die blomme wat heelteman te duur is, die kaartjies wat óf té cheesy óf té vaag is en die druk om iets diep en betekenis vir jou geliefde te sê (ekstra punte as dit in gedig-formaat is).
Miskien is hierdie oppervlakkige uitdrukking van liefde hoekom ons so maklik vergeet dat die Bybel, van begin tot einde, eintlik ’n liefdesverhaal is. Nie net tussen God en die mens nie, maar ook oor mense wat mekaar liefhet op aardse, soms deurmekaar, maar ook so mooi maniere. Liefde wat asemhaal. Liefde wat jou ontmoet op ’n stofpad. Liefde wat saam met jou loop, struikel, opstaan en aanhou.
So as jy hierdie Valentynsdag iets wil sê wat dieper gaan land as sjokolade in ’n hartvormige boksie en langer hou as rose, hier is sewe Bybelverse wat jy saam met jou Valentyn kan lees.

1. 1 Korintiërs 13:4–7
Hierdie teks is basies die little black dress van liefdesverse. As jy al ooit by ’n troue was, het jy dit al gehoor. Dalk meer as een keer. Love is patient, love is kind… Ons ken dit só goed dat ons dit amper outomaties saam kan sê. Maar dis ook ‘n teksgedeelte wat jou onverwags in die ribbes druk wanneer jy besef dis nie net vir trouseremonies bedoel nie, maar ook vir ’n middag in die middel van die week wanneer jy weer moet kies om nie boek te hou van foute nie…
Paulus skryf hierdie woorde aan die gemeente in Korinte. En as jy die eerste twaalf hoofstukke lees, besef jy gou dat hierdie nie ’n rustige, hand-aan-hand gemeente was nie. Hulle het gestry oor leiers, oor gawes, oor wie belangriker is. Daar was arrogansie, verdeeldheid en selfs geestelike kompetisie aan die gang.
En dan, in die middel van ’n gesprek oor geestelike gawes, skryf Paulus: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie…” Met ander woorde: jy kan indrukwekkend wees, maar as jy nie liefhet nie, is jy leeg.
Wanneer hy sê liefde is geduldig en vriendelik, gebruik hy werkwoorde. Dis nie ’n beskrywing van ’n gevoel nie. Dis aksie. Dis iets wat jy doen.
Lees die res van hoofstuk 13 en jy sien: gawes gaan verby, kennis is gedeeltelik, selfs profesieë het ’n vervaldatum, maar liefde bly.
So, as jy hierdie vir jou Valentyn lees, lees dit nie as ’n romantiese ideaal nie, maar as ’n geestelike prioriteit. Julle verhouding gaan nie hou omdat julle altyd op dieselfde golflengte is nie, maar omdat julle kies om geduldig, onbaatsugtig en vergewensgesind teenoor mekaar te wees.
2. Prediker 4:9–12
Prediker is nie juis bekend vir rooi harte en sagte viole nie. Dis meer die realistiese oom wat by die braai sit en sê: “Ja-nee, die lewe is maar kompleks.” Hierdie Bybelboek is eerlik. Soms amper ongemaklik eerlik.
En dan, tussen al die “alles is tevergeefs”, kom daar skielik hierdie nugter juweel: Twee is beter as een. Nie omdat dit romanties klink nie, maar omdat iemand jou moet optel wanneer jy val.
Lees verder tot by vers 12: ’n Driedubbele koord breek nie maklik nie. Baie mense lees dit as ’n huweliksvers met God as die derde string. En al was dit nie oorspronklik ’n huwelikspreek nie, staan die beginsel dat verhoudings sterker is wanneer hulle ingebed is in iets groter as net twee mense.
As jy dit vir jou Valentyn lees, erken jy iets nederig: ek het jou nodig. En dit is nie ’n romantiese swakheid nie, maar ’n Bybelse wysheid.

3. Romeine 12:10
Paulus skryf Romeine aan ’n diverse gemeente. Jode en nie-Jode. Mense met verskillende gewoontes, geskiedenisse en oortuigings. In hoofstuk 12 skuif hy van teologie na praktyk. Hy het elf hoofstukke lank oor God se genade geskryf. Nou vra hy: hoe lyk dit in julle verhoudings?
“Betoon mekaar hartlike broederliefde; bewys eerbied vir mekaar.”
Die woord vir liefde hier is philadelphia, wat vertaal na familie-liefde. Dis nie romantiese aantrekkingskrag nie. Dis verbintenis en lojaliteit.
En eerbied beteken letterlik om die ander voorrang te gee. Om nie altyd jouself eerste te plaas nie.
As jy verder lees in Romeine 12, sien jy ’n hele lys: wees gasvry, seën dié wat julle vervolg, leef in vrede sover dit van julle afhang.
Dis praktiese, grondvlak-liefde. Nie net hoe jy voel wanneer alles goed gaan nie, maar hoe jy optree wanneer dit nie so maklik is nie.
Lees dit vir jou Valentyn en besef: liefde is nie net privaat nie. Hoe julle mekaar behandel, getuig van die evangelie.
4. Efesiërs 4:2–3
Hierdie tipe liefde gaan nie viral gaan op Instagram nie. “Verdra mekaar in liefde” is nie juis ’n romantiese hashtag nie. Tog is dit waarskynlik een van die eerlikste beskrywings van ’n langtermynverhouding. Want iewers tussen verliefdheid en volhoubaarheid leer jy dat mense gewoontes het. En opinies. En soms ’n manier van wasgoed op die vloer langs die wasgoedmandjie gooi wat jou hele menswees en waardestelsel toets. Efesiërs glimlag effens en sê: ja, dis presies waar liefde begin werk.
Efesiërs is ’n brief oor identiteit. In die eerste helfte skryf Paulus oor wat God gedoen het: julle is uit genade gered, julle is deel van een nuwe mensheid in Christus.
In hoofstuk 4 begin hy met: “Leef dan waardig die roeping…” Met ander woorde, as dit waar is van julle, wys dit.
“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig; verdra mekaar in liefde en beywer julle om die eenheid te bewaar.”
Verdra mekaar. Dit impliseer spanning, verskille, frustrasies…
Die eenheid waarvan hy praat, is nie iets wat julle skep nie. Dis iets wat die Gees reeds gegee het. Julle taak is om dit te bewaar.
Lees verder en jy sien hoe Paulus praat oor verskillende gawes, maar een liggaam. Verskillende funksies, maar een Here.
Vir ’n verhouding beteken dit: julle hoef nie identies te wees nie. Julle hoef nie oor alles saam te stem nie. Maar julle kies om die eenheid nie goedkoop te breek nie.
5. Kolossense 3:13–14
Hierdie verse in Kolossense klink amper soos geestelike styladvies. Trek vergifnis aan. Trek liefde aan. Dié teks gebruik klere as ‘n metafoor. Paulus sê: trek die ou mens uit, trek die nuwe mens aan. Soos iemand wat klere verander, moet julle leefstyl verander omdat julle vir Christus ken.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het… Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe.”
Hier is die maatstaf: soos die Here julle vergewe het.
Dis nie oppervlakkige verskonings nie. Dis kruis-vergewensgesindheid. Dis genade wat duur was.
En dan: “Beklee julle bo dit alles met die liefde, wat die band van volmaaktheid is.” Liefde hou alles bymekaar. Sonder dit val die hele uitrusting uitmekaar.
As jy verder lees, sien jy hoe Paulus hierdie beginsels direk toepas op huwelike, gesinne en huishoudings. So, lees dit vir jou Valentyn en onthou: liefde is nie net hoe julle begin het nie. Dis wat julle aanhou aantrek, selfs wanneer dit moeilik gaan.

6. Spreuke 17:17
Spreuke is daardie boek wat jou met een sin kan ontmasker. Soos Spreuke 17:17: “’n Vriend het altyd lief.” Dis kort, sonder enige ekstra versiersels. Net ’n stelling wat jou laat wonder: is ek so ’n vriend?
Spreuke is immers deel van Israel se wysheidsliteratuur. Kort, skerp waarhede wat gevorm is deur generasies se waarnemings.
“’n Vriend het altyd lief, en ’n broer is gebore vir die tyd van nood.”
Hier liefde is getoets in moeilikheid, nie net in voorspoed nie.
As jy verder lees in Spreuke, sien jy hoe belangrik vriendskap en raad is. Wysheid groei nie in isolasie nie. In ’n huwelik of verhouding is vriendskap nie ’n ekstra nie. Dis die fondament.
7. Johannes 15:12
Hier raak dit effens ernstiger. Want nou praat Jesus self (direk met sy dissipels die aand voor sy kruisiging). En wanneer Hy oor liefde praat, is dit nie oor candlelight dinners nie. Dis oor voete was. Oor bly wanneer dit moeilik raak. Dis die soort vers wat jou eers laat glimlag en dan effens stil maak. Want “soos Ek julle liefhet” lig die standaard net ’n bietjie hoër as wat gemaklik is. Gelukkig gee Hy ook die krag om daarby uit te kom.
“Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
En hoe het Hy liefgehad? Net ’n paar verse later sê Hy: Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê.
Lees die hele Johannes 15 en jy sien dit gaan oor liefde wat vloei uit verbondenheid met Christus.
So, as jy hierdie vir jou Valentyn lees, is dit nie net ’n romantiese oomblik nie. Dis ’n herinnering: ons kan nie hierdie tipe liefde uit ons eie krag produseer nie. Ons bly in Hom. En daaruit groei iets wat hou.


