Suid-Afrika is meer as sosiale media se comment sections

Wilmi Wheeler

As ’n mens Suid-Afrika net deur die kommentaarafdelings van sosiale media leer ken het, sou jy dink ons kan mekaar nie verdra nie.

Gaan lees gerus die kommentaar onder ’n berig oor politiek, taal, ras of grond. Soms hoef die berig nie eens oor een van hierdie dinge te gaan nie. Iemand sal wel ’n manier vind om dit daarby uit te bring. Binne enkele opmerkings is die loopgrawe gegrawe, die kante gekies en die beledigings uitgedeel.

Volgens dié weergawe van Suid-Afrika is ons ’n volk wat mekaar wantrou. Wat net wag vir ’n geleentheid om weer teen mekaar te draai. En as ’n mens lank genoeg daaraan blootgestel word, begin jy wonder of dit nie dalk die volle waarheid oor ons is nie.

Natuurlik is dié spanning nie uit die lug gegryp nie. Ons geskiedenis is kompleks en pynlik. Rassisme, ongelykheid en wantroue is steeds deel van ons werklikheid. Om dit te ontken, sou nie net naïef wees nie, maar ook oneerlik teenoor mense wat dit daagliks ervaar.

Maar ek wonder al hoe meer of ons nie ’n ander fout begin maak het nie: om die hardste stories oor Suid-Afrika as die enigste stories oor Suid-Afrika te aanvaar.

Want gaan stap ’n slag weg van die skerm af.

Gaan kyk hoe Suid-Afrikaners saam ’n rugbywedstryd kyk. Hoe ons mekaar se grappies steel, mekaar se woorde aanleer en oor ons eie eienaardighede lag. Hoe mense in gewone woonbuurte, werksplekke en gemeenskappe elke dag oor taal-, kultuur- en kleurgrense heen met mekaar saamleef.

Dis waarskynlik waarom uitdrukkings soos “No DNA, just RSA” en “Hulle weet nie wat ons weet nie” so maklik aanklank vind. Daar ís iets wat ons met mekaar deel wat nie altyd netjies in die openbare debat vasgevang kan word nie.

Dit beteken nie alles is reg nie. Dit beteken bloot dat die werklikheid veel groter is as die narratief.

David Lupafya draai die narratief van Suid-Afrika op sy kop

Ons almal is onlangs hieraan herinner met die verhaal van David Lupafya, ’n swart kommersiële graanboer van Potchefstroom. Penuel Mlotshwa het ‘n onderhoud met David gevoer vir The Penuel Show. Hierdie spesifieke episode het viral gegaan met miljoene der miljoene kyke verwerf oor verskeie sosiale mediaplatforms.

David het ná ’n loopbaan in die tegnologiebedryf besluit om te begin boer. Hy het miljoene van sy eie geld belê, maar toe die plantseisoen aanbreek, het die finansiering waarop hy staatgemaak het, nie gerealiseer nie.

Hy het voorbereide grond gehad, maar nie die geld om verder te gaan nie.

Toe klop hy by ’n wit Afrikaanse boer in die omgewing aan.

Dié boer het aangebied om hom met insette en toerusting te help en om aan die einde van die seisoen masjinerie te stuur om sy oes in te samel. Die uitgawes sou later verreken word.

Alles op ’n handdruk.

En dit was nie die einde van die storie nie. Toe ’n transformator onklaar raak en Lupafya nie water kon pomp nie, het ’n buurman aangebied dat hy sy water gebruik. Toe hy sonder diesel sit, het ’n ander boer gehelp. Toe toerusting breek, het boere dit reggemaak en gesê hy kan betaal wanneer hy weer kan.

In ’n onderhoud het Lupafya gesê die narratiewe wat van die uiterstes aan albei kante kom, nie reg laat geskied aan sy ervaring nie.

Ek het lank aan daardie storie gedink.

Want êrens tussen die politieke toesprake, die televisieonderhoude en die kommentaaroorloë is daar ’n Suid-Afrika waar ’n mens vir jou buurman water gee. Waar iemand anders se nood belangriker word as sy velkleur. Waar vertroue soms op niks meer as ’n handdruk gebou word nie.

En ek wonder hoeveel sulke stories elke dag afspeel sonder dat iemand daarvan hoor.

Die 2025 South African Reconciliation Barometer vertel iets interessant. Hoewel 44% van Suid-Afrikaners die land as verdeeld beskou, glo 72% steeds dat groter eenheid moontlik is. Ons is dus nie blind vir ons verdeeldheid nie, maar ons het ook nog nie heeltemal opgehou glo dat iets anders moontlik is nie.

Dalk is dit wat my die meeste tref.

Dat ons, ten spyte van alles, steeds op maniere aan mekaar verbind is wat moeiliker is om te meet as ons verskille.

En dan is daar nog ons geloof.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se ontleding van die 2022-sensus vereenselwig sowat 84,5% van Suid-Afrikaners hulle met die Christendom.

Dis ’n indrukwekkende syfer. Maar dit behoort ons dalk eerder ongemaklik te maak as trots.

Want as soveel van ons onsself Christene noem, hoe sigbaar is Christus dan in die manier waarop ons met mekaar omgaan?

Die evangelie vra immers meer van ons as om net verdraagsaam teenoor mekaar te wees. Dit roep ons om ons naaste lief te hê. Om oor grense te beweeg. Om in die ander persoon nie bloot ’n verteenwoordiger van ’n groep te sien nie, maar ’n medemens wat, net soos ons, na God se beeld geskape is.

In 2 Korintiërs 5 skryf Paulus dat God ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van versoening toevertrou het.

Versoening is dus nie net iets waarop ons hoop nie. Dit is ook iets waartoe ons geroep word.

En miskien begin dit onder andere by die stories wat ons kies om te vertel.

Nie omdat ons die moeilike stories moet stilmaak nie. Inteendeel. Ons moet dit hoor, ernstig opneem en die onreg wat dit blootlê, aanspreek.

Maar ons moet ook versigtig wees dat ons nie só gewoond raak aan die verhale van verdeeldheid dat ons ophou raaksien wanneer mense daardie verdeeldheid oorbrug nie.

Want wat ons aanhoudend oor mekaar vertel, vorm uiteindelik ook wat ons van mekaar verwag.

As ons net hoor dat ons mekaar haat, hoe lank voordat ons begin aanvaar dat dit maar is wie ons is?

En as ons meer gereeld die verhale vertel van mense wat oor grense heen uitreik, saamwerk, vergewe en mekaar help, kan dit ons dalk herinner aan wie ons óók kan wees.

Dit is nie goedkoop optimisme nie. Dit is ook nie ’n pleidooi om ons oë vir die gebrokenheid toe te maak nie.

Dit is bloot die oortuiging dat die goeie óók deel van die waarheid is. En dat ons dit nie moet laat verdwyn net omdat die slegte harder skree nie.

Miskien word ’n land uiteindelik nie net gevorm deur die groot verhale wat oor hom vertel word nie, maar ook deur die klein verhale wat sy mense elke dag met hulle lewens skryf.

’n Boer wat sy buurman se dors raaksien. Iemand wat help sonder om eers te vra aan watter kant van die skeidslyn jy staan. ’n Handdruk wanneer ’n mens dit die nodigste het.

Ons is nie die comment section nie.

Ons is ook die mense wat mekaar se trekkers regmaak.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: